Konflik in die romanse

Sonder konflik is daar nie ‘n storie nie.Die skrywer moet baie mooi besin oor wat die konflik tussen die hoofkarakters gaan wees.

1. Hoe sterker die konflik, hoe makliker vir die skrywer om die spanningslyn styf te hou tot aan die einde.

2. Konflik kan innerlik of ekstern wees. Innerlike konflik of teenstrydige gevoelens in die gemoed van ‘n karakter help baie om die spanning in elke liewe toneel van jou romanse te laat werk. Eksterne konflik wat veroorsaak word deur gebeure en ander mense, kan daardie konflik nog verder aanwakker en versterk.

3. As jy struikelblokke in die karakters se pad plaas en dit telkens oplos, moet daar reeds nuwe konflik wees wat die vonke kan laat aanhou spat.

4. Dit help nie om die held en heldin oor sinnelose dinge op mekaar te laat skel en skree nie, konflik moet baie goed gemotiveer wees. Dit spruit gewoonlik uit verskillende opvattings of verskille in agtergrond en uiteenlopende lewenswaardes.

5. Konflik tussen karakters werk nie as die hoofkarakters nie heeldag in mekaar se hare is nie. Die skrywer moet die storie so beplan dat daar ‘n grondige rede is vir die held en heldin om iewers saamgegooi te wees sodat hulle lekker kan stry! (en verlief raak, natuurlik)

Lees ook die artikel hier langsaan oor hierdie onderwerp voordat jy die konflik vir jou storie beplan.

Daardie eerste hoofstuk

Die sukses van die eerste hoofstuk van ‘n romanse is gewoonlik bepalend vir die sukses van die hele boek – of die mislukking. Dis een plek waar die ou spreekwoord Goed begin is half gewin beslis van toepassing is. Daarom is dit so belangrik om baie seker te maak jou eerste hoofstuk le die regte fondament vir jou storie en om dit nie af te jaag nie.

Dit kan baie help as jy die volgende punte in gedagte hou:

1)      Kan die leser uit die staanspoor met die heldin identifiseer en word die verhaal uit haar perspektief geskryf?

2)      Begin die verhaal midde-in ’n situasie en word die leser dadelik in die verhaal getrek?

3)      Maak die held al in die eerste hoofstuk sy verskyning? Die leser wil nie wag tot die vyfde hoofstuk vir die held om sy verskyning te maak nie – hy moet in die eerste hoofstuk al daar wees.

4)      Is daar ’n emosionele belewenis, met ander woorde wat is die gevoelswaarde van die hoofstuk?

Waar kry ‘n skrywer haar idees?

Wat is dit wat ‘n nuwe storie in jou kop laat posvat? Gaan sit jy doelbewus en dink tot jy iets uitgedink kry? Kom dit soos  ‘n bliksemstraal op onverwagse oomblikke? Kom dit in jou drome? Inspireer gewone mense jou? Of dinge wat jy hoor of lees?

Die skep van vlees en bloed karakters.

‘n Leser het onlangs vir my gesê hulle soek vlees en bloed helde en heldinne. Manne wat kan sweet en vuil word, nou en dan ‘n vloekwoord sê en so hier en daar ‘n swakheid het. Boerseuns, met ander woorde! Vroue wat nie noodwendig beeldskoon is nie, maar ‘n innerlike krag het wat hulle deur moeilike omstandighede dra.

Julle ouens wat nou besig is om ‘n nuwe romanse vir die eerste keer aan te pak, is seker nou by daardie punt: die skep van karakters vir jou storie.

Donald Maass sê in sy boek “The Fire in Fiction” dat elke mens ‘n verborge swakheid het. Iets waarvan jyself nie noodwendig bewus is nie of iets wat jy vir ander wegsteek. Dis nogal ‘n aspek wat ek dink jy met groot vrug sal kan gebruik by die skep van karakters vir romanses.

Die heldin kan miskien sterk en onafhanklik wees, maar ‘n verborge behoefte hê aan ‘n man wat haar sal versorg en vertroetel wanneer dit nodig is. Sy sal jou vertel sy haat mans wat haar vertel wat om te doen, maar wanneer daardie einste man haar in sy arms neem, smelt sy!

Die held kan byvoorbeeld ‘n diepgesetelde begeerte hê om iemand van sy eie te hê, maar hy erken dit nie aan homself nie en wys dit beslis nie aan ander nie, maar dit dryf tog sy handelinge sonder dat hy dit eers weet. Hy soek vrou. Dink net hoe heerlik jy dit in ‘n romanse kan gebruik!

Kan ek ‘n boek skryf?

Dis ‘n vraag wat baie mense hulself male sonder tal afvra. Om te tob oor daardie vraag gaan egter geen antwoord na vore laat kom nie. Jy moet eenvoudig gaan sit en dit doen. Daar is geen ander manier om uit te vind nie.

Daar is egter ‘n hele paar dinge wat jy moet uitvind voordat jy vir maande lank gaan sit en werk aan ‘n boek wat dalk nooit die lig sal sien nie.

1. Wat lees jy graag? Dis ‘n erkende feit dat dit bitter moeilik is om te skryf in ‘n genre wat jy nooit eens lees nie. As jy nog nooit belang gestel het om dit te lees nie, hoe kan jy ‘n passie ontwikkel vir die skryf daarvan?

2. Wat wil die uitgewers hê? Dit help nie jy droom van die wonderlike wetenskapfiksie wat jy gaan skryf, as daar nie een uitgewer is wat belangstel om dit uit te gee nie.

3. Wat presies is die vereistes vir die genre wat jy wil slryf? Elke uitgewer weet presies wat hulle wil hê in elke genre. Vind uit wat dit is. Lees ook debuutuitgawes van nuwe skrywers in daardie genre by daardie spesifieke uitgewers. So kry jy nogal ‘n baie duidelike beeld waarvan die uitgewers hou.

4. Lees, lees, LEES! soveel van die genre waarin jy wil skryf, as waarop jy jou hande kan lê. Dis die enigste manier om jou voor te berei vir jou nuutgekose beroep. Bestudeer ander skrywers in daardie genre se werk. Moenie net lees agter die storie aan nie, bestudeer die skrywers se manier van doen en leer daaruit. As jy hou van ‘n spesifieke iets wat ‘n skrywer doen, is die kanse goed dat ander lesers ook daarvan sal hou en dat dit vir jou as skrywer ook sal werk. Net so sal iets wat jou irriteer heel waarskynlik ander lesers ook irriteer.

5. Laastens: Hou op wonder daaroor, sit jou boude neer op ‘n stoel en DOEN DIT!!!

Lus vir ‘n hamburger?

Hier is ‘n opsomming van die hamburger-tegniek wat ons by die skyfkursus bespreek het. Dis baie nuttig as ‘n model vir opbouende kritiek vir enigiets (boeke, flieks, enigiets) en werk ook goed as ‘n metode om ‘n brief met ‘n klagte so te motiveer dat die ontvanger nie die harnas in gejaag word nie.

Sien die broodjie weerskante van die vleis as positiewe input. Die vleis is dan die (opbouende) kritiek wat jy oor die betrokke saak het. Jou bespreking begin dus met ‘n paar positiewe punte, beweeg dan aan na ‘n paar negatiewe punte (wat jy op ‘n positiewe, opbouende manier formuleer) en sluit dan weer af met ‘n paar positiewe gedagtes.

Hierdie metode maak dit makliker vir die uitdeler en die ontvanger van kritiek. Dis ook ‘n goeie manier om in die gewone lewe enige netelige kwessie met iemand op te haal.

Welkom alle aspirant-skrywers!

Hiermee ‘n spesiale welkom aan al die wonderlike kreatiewe mense wat vandag (Don. 10 Junie) se skryfkursus vir liefdesverhale by Lapa se Kaapse kantoor in die Tygerberg Waterfront bygewoon het. Julle het ons verstom met jul entoesiasme en kreatiwiteit.

Daar het wonderlike idees na vore gekom, ‘n hele klomp fantastiese helde en heldinne het uit die praktiese oefeninge na vore getree. En die twee dapper manne wat dit gewaag het tussen die klomp vrouens, het dit gate uit geniet!

Ons hoop julle – en enige voornemende of gevestigde skrywer – gaan nog dikwels hier kom kuier, jul vrae stel en jul wyshede deel!

(En ja, Marile Cloete is eintlik Alta Cloete – en sy is nie heeltemal so mooi soos haar hond nie!)

‘n Moet-lees vir romanseskrywers

Die heel nuttigste boek wat ek as romanseskrywer op my rak het, is Writing a romance novel for dummies. Soos al die Dummy-boeke is dit verstaanbaar en prakties – baie maklik om stuk-stuk te lees soos jy dit nodig kry.
Contents at a glance:
1.   Welcome to the world of romance writing
2.   Laying the foundation: The building blocks of a great romance
3.   Putting pen to paper
4.   Putting it all together: Mechanics count, too
5.   Submitting your manuscript – and making the sale!
6.   The part of tens (ten plots, ten tips for the perfect title, ten common writing mistakes, ten reasons why a ms gets rejected, ten ways to beat writer’s block, ten Q’s every romance writer should ask herself)

Terugblik: Maklik om ‘n romanse te skryf? Nooit gesien nie!

Baie mense dink dat skrywers romanses sommer in ‘n japtrap kan uitryg, so asof hulle dit van ‘n boom kan afpluk, want dit lyk dan so maklik!  … totdat hulle self probeer om dit te doen. Iemand het tereg gesê dat dit die heel moeilikste genre is om te skryf, juis omdat dit oor verhoudings handel en verhoudings is uiters ingewikkeld. Sielkundiges bevestig dit en egskeidingsyfers beaam dit.

Die romanselesers is slim, uiters belese mense en as jy ‘n halfgebakte ou storietjie aan hulle probeer opdis, is jy vinnig van hul leeslys geskrap. Statistieke bewys dat bykans 60% romanselesers gegradueerde, professionele mense is en die romanseskrywer kan dus nie waag Lees voort