Kan ek ‘n boek skryf?

Dis ‘n vraag wat baie mense hulself male sonder tal afvra. Om te tob oor daardie vraag gaan egter geen antwoord na vore laat kom nie. Jy moet eenvoudig gaan sit en dit doen. Daar is geen ander manier om uit te vind nie.

Daar is egter ‘n hele paar dinge wat jy moet uitvind voordat jy vir maande lank gaan sit en werk aan ‘n boek wat dalk nooit die lig sal sien nie.

1. Wat lees jy graag? Dis ‘n erkende feit dat dit bitter moeilik is om te skryf in ‘n genre wat jy nooit eens lees nie. As jy nog nooit belang gestel het om dit te lees nie, hoe kan jy ‘n passie ontwikkel vir die skryf daarvan?

2. Wat wil die uitgewers hê? Dit help nie jy droom van die wonderlike wetenskapfiksie wat jy gaan skryf, as daar nie een uitgewer is wat belangstel om dit uit te gee nie.

3. Wat presies is die vereistes vir die genre wat jy wil slryf? Elke uitgewer weet presies wat hulle wil hê in elke genre. Vind uit wat dit is. Lees ook debuutuitgawes van nuwe skrywers in daardie genre by daardie spesifieke uitgewers. So kry jy nogal ‘n baie duidelike beeld waarvan die uitgewers hou.

4. Lees, lees, LEES! soveel van die genre waarin jy wil skryf, as waarop jy jou hande kan lê. Dis die enigste manier om jou voor te berei vir jou nuutgekose beroep. Bestudeer ander skrywers in daardie genre se werk. Moenie net lees agter die storie aan nie, bestudeer die skrywers se manier van doen en leer daaruit. As jy hou van ‘n spesifieke iets wat ‘n skrywer doen, is die kanse goed dat ander lesers ook daarvan sal hou en dat dit vir jou as skrywer ook sal werk. Net so sal iets wat jou irriteer heel waarskynlik ander lesers ook irriteer.

5. Laastens: Hou op wonder daaroor, sit jou boude neer op ‘n stoel en DOEN DIT!!!

Advertisements

14 comments on “Kan ek ‘n boek skryf?

  1. Soos hulle in Engels sê, It’s about the ABC Principle… Apply Bum to Chair… 🙂 Sonder harde werk en deursettingsvermoë en herskryf en lang trane en wag gaan mens niks bereik nie…

  2. Stephen King se ‘n mens kan netsoveel leer uit ‘n swak boek wat jy lees as uit ‘n goeie, maw jy kan ook sien wat jy NIE moet doen nie, of iets wat vir jou spesifiek nie sal werk nie.

  3. ‘n Skrywer is maar net iemand wat lief is vir woorde. Wat goeie sinne kan waardeer en dit soos wyn op jou tong rondrol. Dit alles kry jy maar net deur te lees.
    Terwyl jy lees let op na die konstruksie van die storie. Wanneer wat gebeur.
    Let op na mooi beskrywings wat “anders” is, as die geeikte. Maak ‘n punt daarvan om te gaan sit en byvoorbeeld ‘n sonsondergang te beskryf wat heel anders is as enigiets wat jy nog ooit gehoor het. Jou goed moet uniek wees.
    ‘n Mens se skryfstyl – jou manier van vertel – is jou vingerafdruk en dit maak van jou ‘n goeie of ‘n swak skrywer..

  4. Die DOEN gedeelte is net die moeilikste vir my. Ek loop met al hierdie idees in my kop rond, sodra ek dink ek gaan nou sit en dit neerskryf kom dit vir my net te simpel voor. Dan wonder ek, wie sal nou wil lees wat ek skryf.. daar is SO baie skrywers. En dit is baie intimiderend om te dink, dat as die storie nou uiteindelik klaar geskryf is, om dit dan vir iemand anders te stuur en te wag vir terugvoer :/

    • Mari, die enigste manier om uit te vind is daai DOEN. Elke skrywer is onseker oor hoe jou werk ontvang sal word, dis menslik. Maar ons verhaleredakteur weet gelukkig hoe dit voel en sy werk sagkens met ons brose gevoelens. Komaan, ek daag jou uit!!

      • 😀 Ek kon nog nooit nee sê vir ‘n ‘dare’ nie!

        Ek het nou die dag uitgevind my ouma. Anita Visser, het vir die ou LAPA (J.P van der Walt) ‘n paar liefdesverhale geskryf! Ek was heel verbaas! Ek het geweet daar is ‘n hele paar van haar boeke gepubliseer, maar nie geweet by watse uitgewer nie..

        Sy is so paar jaar gelede oorlede na ‘n stryd met kanker.. ek dink sy sou baie trots gewees het, as sy weet ek werk nou vir LAPA :D.. amper soos ‘n “full circle moment” soos Oprah sal sê 😉

  5. Hoe gemaak as jy niemand het vir wie jy jou skryfwerk kan gee om te lees nie? (Ek wil nie ander mense hiermee bemoei nie, of mens wag te lank vir terugvoer). Mag ek maar ’n storie direk na ’n uitgewer stuur en dan wag om te hoor of dit potensiaal het?

    • Wilhelmina, moet dit nie sommer na enige uitgewer toe stuur nie. As jou storie byvoorbeeld ‘n romanse is, vind uit watter uitgewers wel romanses uitgee en wat hulle vereistes is vir daardie genre. Dit kan jou dalk baie tyd en ellende spaar.

      Elke uitgewer het ‘n webwerf en gewoonlik het hulle ‘n afdeling waar hulle onder ‘Manuskripvoorlegging’ verduidelik wat hulle vereistes is vir die verskillende genres wat hulle wel uitgee. As jy ‘n manuskrip het wat aan daardie vereistes voldoen, kan jy dit instuur, anders mors jy dalk jou eie en die uitgewer se kosbare tyd.

  6. Baie dankie Madelie. Ek sal bietjie gaan rondkyk. Ek waag my hand aan ’n romanza en weet dat Lapa dit uitgee. Is daar ander uitgewers wat jy van weet wat soortgelyke boeke uitgee? Ek het iewers iets raakgelees van ’n uitgewer wat die Mirre–, Jasmynreeks, ens. uitgee, maar kan dit nie weer vind nie.

  7. Ek wonder of julle my sal kan help met besonderhede waarheen ek gedigte en kortverhale kan stuur wat ek geskryf het? Ek weet nie of dit potensiaal het nie

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s