Onderhoud met ‘n tydskrif oor die skryf van romanses

Onderhoud deur Riëtte Rust met Madelie Human vir ‘n  artikel wat verskyn het in Vrouekeur op 9 Oktober 2009:

Het jy romanses gelees voor jy hulle self begin skryf het? Ek het sedert my skooldae verkies om Engelse romanses te lees en doen dit nog steeds, maar vandat ek Romanza ontdek het, lees ek weer meer Afrikaans, selfs ander genres ook.

Hoekom het jy juis die romanse as genre gekies? Dit voed my romantiese siel en laat my daagliks toe om my drome uit te leef deur ander mense se liefdesverhale te vertel.

Die beste romanseskrywers kom altyd uit lesergeledere. Stem jy saam en hoekom sê jy so? Ek stem volkome saam. Wanneer ek ‘n romanse lees, kan ek gewoonlik binne die eerste paar bladsye agterkom wanneer dit ‘n skrywer is wat nie self romanses lees nie. Daar kort ‘n sekere bestanddeel wat romanses spesiaal maak.

Sê ‘n ietsie oor elk van die volgende:

*Vertelperspektief: Tradisioneel fokaliseer slegs die heldin omdat die leser maklik daarmee identifiseer, maar die gesofistikeerde leser vra al hoe meer dat die held se perspektief ook weergegee moet word. Dit gee (vir my) die storie meer diepte.

*Die feit dat die leser gebeure moet ERVAAR eerder as dat jy hulle VERTEL. Sodra die skrywer die storie begin vertel, raak die verhaal gebeuregedrewe en verloor ‘n leser maklik belangstelling. Die leser wil voel sy is ‘n vlieg aan die muur daar waar die verhaal gebeur.

*Dialoog: Die dialoog moet die karakter se gemoedstoestand weergee en terselfdertyd die verhaal voortdu, maar in die romanse moet dit bowenal die leser vermaak.

*Ekstase: Verlief raak bring ekstase mee en is onlosmaaklik deel van ‘n romanse. Dis nie elke skrywer wat dit regkry om haar leser se tone te laat krul van pure lekker nie!

*Romanse/seks/verliefdheid: Dis juis waarvoor ‘n leser soek wanneer sy ‘n romanse optel. Sy wil saam met die heldin voel hoe daai ou haar knieë laat lam word en sy wil saam met haar verlief raak. Soms is ‘n liefdestoneel absoluut noodsaaklik en soms is slegs die suggestie daarvan genoeg.

*Ruimte (moet dit altyd eksoties wees?): Nee! As ons lesers reisverhale wil lees waar eksotiese bestemmings beskryf word, sal sy nie ‘n romanse koop nie. Die eenvoudigste agtergrond kan romanties word in die hande van ‘n bedrewe skrywer.

*Plot: Die romanse se plot is sonder ‘n ‘twist in the tail’ maar boei die leser tot op die laaste bladsy. Dis nogal ‘n uitdaging om ‘boy meets girl, they fall in love and live happily ever after’ oor en oor telkens op ‘n vars manier op te dis!

*Wat nog wat belangrik is, het jy geleer?: Die skrywer moet nooit, ooit die intelligensie van haar leser onderskat nie.

Hoekom het jy of lees jy romanses?: Romantiese liefde is deel van elke mens op aarde se lewe, of hulle dit wil erken of nie. Ek dink die liefde is die spil waarom alles draai.

Dink jy vroue word te min gekoester (“nurture”) en kry dit uit die lees van romanses?: Dit is so in baie gevalle, maar ek is baie gelukkig getroud en word definitief gekoester, maar ek is ‘n liefdesspons wat net nog meer soek. Ek lees dit omdat dit my eie behoeftes en gevoelens regverdig: dit laat my besef dat ek slegs een van vele vroue is wat nie kan leef sonder liefde en geborgenheid nie.

Dink jy die werklike lewe stel mens teleur en dat jy wil ontvlug in fantasie? En ook vermaak word?: ‘n Goeie romanse sal die leser laat ontvlug uit haar eie omstandighede en haar vermaak, maar dit beteken nie ons lesers is almal vasgevang in slegte omstandighede nie! Enige gelukkige, normale vrou begeer romanse in haar lewe en wil graag lees hoe ander mense hul verhoudings maak werk.

Is dit waar dat romanses die leser help om sin te maak van konflik in hul eie verhoudings?: Ja, dit help altyd om te sien jy is nie die enigste een wat onder verhoudingsprobleme gebuk gaan nie en jy kan bemoedig voel as jy sien hoe die held en heldin hul konflik hanteer.

Dink jy baie vroue voel skuldig teenoor hul gesin wanneer hulle dit lees? Ek sien daar word verwys na die lees daarvan as een van haar “ongeoorloofde weeldes”? Ons lesers is intelligente, vindingryke vroue wat weet wat hulle wil hê en hoe om dit te kry. Hulle sal ‘n plan maak om leestyd in te ruim sonder om hul gesinne af te skeep!

Is dit dikwels so dat ‘n vrou se eie verhouding haar teleurstel en sy dan na die perfekte verhouding wil beleef wanneer sy ‘n romanse lees?: Ja, dis wel so, maar hopelik leer sy iets uit die foute en suksesse van die held en heldin en moedig dit haar aan om iets omtrent haar onbevredigende verhouding te doen.

Hoekom sien sommige neer op dié genre? Dink jy dis omdat hulle nie weet wat dit behels nie?: Boekesnobs sal ons seker altyd met ons hê. Diesulkes wat neersien op die genre is dikwels slegs oningelig. As mens dit nodig vind om jou vriende te beïndruk met jou keuse van leesstof in plaas van om te lees vir jou eie genot, is jy eintlik seker baie dom. Hoekom is dit dan so dat romanses wêreldwyd meer verkoop as enige ander genre?

Sou jy sê romanses lewer kommentaar op die partriargale stelsel?: O ja, beslis. Die heldin is sonder uitsondering ‘n geëmansipeerde vrou wat haar nie laat misbruik of vertrap nie. Sy is die vrou wat Salomo in Spreuke 31 beskryf en is trots daarop. (Salomo behoort die beste te weet. Het hy nie hope ervaring van vroue gehad nie?)

Skryf asb. een sin oor feminisme en die romanse.: Die heldin van die romanse het nie nodig om haar bra te verbrand om op haar regte te staan nie!

Wie is die tipiese leser of is daar nie een nie? Nee, daar is nie een nie. Ons vind al hoe meer romanse lesers op die mees onverwagte plekke.

Wat is jou grootste uitdaging wanneer jy ‘n romanse skryf?: Om my leser te boei van bladsy een tot in die laaste paragraaf.

In watter opsig het die heldin in romanses bygebly by die tye?: Die Romanza heldin word nie flou vir enigiets nie en probeer ook nie haar held met fladderende wimpers vang nie. Sy laat haarself geld in alle opsigte. Sy doen selfs soms die vra-werk!

Watter issues, relevant vir vandag se vrou, word dikwels in ‘n romanse aangeraak?: Die feit dat ‘n vrou nie noodwendig ‘n wonderlike tuisteskepper hoef te wees om die man van haar drome se aandag te hou nie. Die rol van die man en vrou kan met sukses soms omgeruil word.

Hoekom word die donker kant van die lewe in romanses verswyg?: Die leser wil ontspan en ontsnap van wrede werklikhede.

Hoekom is dit belangrik dat die held getrou aan sy heldin moet wees en ook dat die heldin ook mooi moet wees? : Vroue beleef genoeg van die ontroue minnaar in die werklike lewe. Sy wil graag sien dat daar wel nog mans bestaan wat getrou bly.

Die heldin hoef nie beeldskoon te wees nie. Vir my is dit belangrik dat sy in die oë van die held mooi moet wees – dat hy haar liefkry net soos sy is – dis wat ons leser wil sien.

Hoekom word die stelling gemaak dat vroue bemagtig wil word en daarom romanses lees?: Deur die heldin se doen en late sien die leser wat dalk bemagtiging nodig het, dat dit wel moontlik is om te seëvier oor moeilike omstandighede.

Wat maak die romanses wat jy skryf spesiaal/anders of wat maak jou styl uniek?: Ek was een van die eerste Romanza skrywers wat dit gewaag het om die held te laat fokaliseer. ‘n Leser het onlangs gesê my werk is verfrissend en die dialoog prettig.

Stem jy saam dat die leser presies weet wat sy wil hê?: O, ja. Die tipiese romanse leser lees vinnig die agterblad sowel as die eerste paar bladsye en sy loer selfs na die einde voordat sy besluit om die boek te koop. As sy egter nie hou van dit wat sy sien nie, bly die boek net daar op die winkelrak.

En dat die uitdaging van romanseskryf lê in die hoe eerder as in die ontknoping?: Ja, dis nie ‘n spanningsverhaal nie. Die einde is maar alte voorspelbaar. Dis die skrywer se grootste taak om die ‘hoe’ nuut en vars te hou vir haar lesers.

Help dit as ‘n romanseskrywer self baie liefdesverhoudings het/gehad het?: Nee! As ‘n skrywer slegs een of twee maal heerlik verlief geraak het en weet hoe daardie deurmekaar gevoelens aan die begin van ‘n liefdesverhouding voel, sal jy dit geloofbaar kan weergee. ‘n Moordverhaalskrywer het tog nie nodig om moord te pleeg om daaroor te kan skryf nie!!

Beskryf die romanse se bydrae tot Afrikaans.: Lapa vereis ‘n hoë gehalte werk van hul skrywers, want ons skryf vir lesers uit alle lae van die samelewing wat aandring op kwaliteit. Ons poog om deurgaans spreektaal te gebruik, soms hier en daar gemeng met Engelse woorde, maar in ‘n suiwer Afrikaanse idioom waaruit selfs die jongste van ons lesers iets kan leer.

Advertisements

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s