Die perfekte held!

Ons weet almal die skrywer en die leser moet op die held kan verlief raak, dan is die storie geslaagd. Goed en wel – dit kan help. Maar ek het dit nou vir die eerste keer regtig aan my bas (nee, my hart!) gevoel. Ek het heeltemal en totaal verlief geraak op my laaste held. As hy nou hier verbystap, gooi ek my trouringe by die venster uit en sit hom agterna! (Grappie!) My punt is dat dit die heerlikste en vinnigste is wat ek nog ooit aan ‘n romanse geskryf het. En dit lyk of die heldin in die proses ook duideliker geteken is as wat ek nog in die verlede reggekry het. Vermoedelik kon ek haar gevoelens meer akkuraat verwoord, omdat ek werklik binne-in haar skoene geklim het.

Dit wys maar net weer – wat die C’s iets se, kan ons maar letterlik opneem! Dit werk!

Wat se julle?

Hoe besluit jy op ‘n genre?

‘n Beginnerskrywer het my vanoggend hierdie vraag gevra en toe het dit my aan die dink gesit:

1. Dit is so dat dit die beste is om dit te skryf wat jy geniet om te lees, want as jy al baie van ‘n spesifieke genre gelees het, sal jy dit seker makliker vind om in daardie genre te skryf. Om een of twee boeke te lees van ‘n genre gaan jou ook nie veel van daardie soort boeke leer nie. Dit sou dom wees om bv. wetenskapfiksie te probeer skryf as jy nog nooit eens so ‘n boek gelees het  of slegs ‘n paar daarvan onder oë gehad het nie. Jy het ‘n meer algemene indruk van daardie genre nodig.

2.  As jy wyd lees en nie kan besluit op ‘n genre nie, is dit miskien ‘n goeie plan om ‘n eerste hoofstuk van verskillende genres te probeer en te kyk watter een pas die beste by jou skryfstyl en jou belangstelling.

3. Dit is ‘n erkende feit dat die romanse ‘n goeie leerskool is vir ‘n skrywer omdat sulke reekse gewoonlik onderworpe is aan sekere vereistes wat gevolg moet word. Die skrywer leer dus ‘n baie nodige dissipline aan wat jou goed te staan kan kom in enige genre.

WANNEER IS ‘N ROMANSESKRYWER DUS GEREED OM AAN TE BEWEEG NA  ENKELTITELS?

1. Sukses in een genre beteken nie noodwendig dat jy dieselfde sal kan bereik in ‘n ander een nie. Jy moet baie lees van die nuwe genre wat jy wil aanpak, suksesvolle skrywers se werk bestudeer en mooi oplet hoe dit van joune verskil. Lees ook handboeke oor die onderwerp of woon skryfkursusse by. Sien jy kans daarvoor? Probeer is sekerlik die beste geweer.

2. Wanneer jy ‘n storie-idee het wat hom beter sal leen tot die verwikkeldheid van ‘n roman eerder as ‘n romanse, is jy moontlik gereed om die stap te waag om aan te beweeg na ‘n enkeltitel.

3. Maak ook seker jy weet wat die uitgewers se vereistes vir daardie spesifieke genre is voordat jy wegval en skryf.

4. Die beste sou wees om ‘n voet in die deur te hou by die genre wat jy vantevore geskryf het indien jou pogings in die nuwe genre dalk sou misluk – net vir veiligheid, natuurlik!

Hierdie is nie akademiese kennis nie, dis bloot hoe ek dit vir myself uitgeredeneer het.

Wat dink julle?

Hoe skryf jy?

Daar is ’n teorie dat skrywers in vier kategorieë verdeel kan word:

  1. Die wat skryf sonder om te beplan of te redigeer.
  2. Die wat redigeer soos hulle skryf.
  3. Die wat ’n bietjie beplan en dan ’n bietjie skryf.
  4. Die wat die storielyn volledig tot die einde beplan voor hulle begin skryf.

Watter een is jy?

Gesoek: Titels wat werk!

Waar kry ‘n mens ‘n lekker titel vir jou  storie? ‘n Titel wat werk – een wat die lesers sal onthou, een wat iets weergee van jou verhaal, een wat iets weergee van die genre waarin jy skryf? Kyk jy na ander titels? Kry jy eerste die titel en dan die verhaal – of andersom? Soek jy lank na jou titels – of kom meld die regte een hom gou-gou aan? Hou jy van eenwoordtitels of die wat uit ‘n paar woorde bestaan? Werk dit om die held of heldin se naam in die titel te plaas? Wat van humor in ‘n titel? Het jy ‘n gunstelingtitel wat jy as voorbeeld sien?