Skryf is herskryf

Ek het onlangs weer op die harde manier uitgevind presies hoe waar bogenoemde stelling is.

Die uitgewers, veral van romanses, het ‘n spesifieke idee van wat hulle wil hê en dit staan soos ‘n paal bo water. As jy jou werk uitgegee wil hê, moet jy die veranderinge maak wat hulle vra.

Nou wonder ek, is die produk wat uiteindelik jou naam dra dan nog jóú  storie?

Ek glo dis ‘n vraag waarmee elke skrywer die een of ander tyd worstel. Hoe hanteer julle ervare skrywers dit?

Advertisements

Dagboek van ‘n romanseskrywer (9)

Ek het ‘n vermoede dit sal nooit maklik raak om jou manuskrip vir die eerste keer aan ‘n leser bloot te stel nie. ‘n Mens se woorde is immers vir jou heilig, hulle kom uit die diepte van jou siel. En ek dink dit geld vir enige soort skrywer – romanse, letterkunde, wetenskap, enigiets. Maar skryfwerk maak nie sin as dit nie gelees word nie en die gevreesde oomblik van blootstelling is dus onvermydelik.
‘n Skrywer is gelukkig as hy ‘n simpatieke eerste leser het, ‘n persoon in wie se hande hy die nuwe baba met vertroue kan gee, met die seker wete daardie baba sal met respek en deernis gehanteer word. Maar die skrywer moet ook weet daardie persoon sal nie huiwer om kritiek te lewer of aanbevelings te maak nie – dis lekker, maar dis vir niemand van veel nut as ‘n manuskrip (of ‘n kind!) net geprys word nie.
Die eerste leser kan enigiemand wees. Ek dink dis net belangrik dat dit iemand moet wees wat die betrokke genre ken en wat dit normaalweg lees. As dit nie die geval is nie, kan ontoepaslike advies ‘n skrywer lekker van die wal in die sloot help.
As jy nog nie ‘n eerste leser of lesers het nie – soek vir jou een! Dit was nog telkens vir my tot voordeel om my manuskrip deur iemand te laat lees nog voor ek dit vir die uitgewer stuur.

Navorsing vir skryfwerk

Ek dink persoonlike ervaring bly die beste navorsing vir skryf. Ek het die afgelope tyd ‘n ervaring gehad wat ek beslis eendag in ‘n boek kan gebruik. My man was siek en die ure wat ek in hospitaalgange deurgebring het, die gesprekke met personeel, die twee jaagtogte toe ons in nood was – dit alles kan ek in die toekoms gebruik wanneer ek skryf. Geen tyd wat jy iewers deurbring of enige lewenservaring is vir ‘n skrywer ‘n vermorsing nie.

Ai, ons het lekker werk! Vertel bietjie van besondere ervaringe wat jy al in jou stories gebruik het.

Dagboek van ‘n romanseskrywer (8)

Ja, die tweetjies is nou veilig in mekaar se arms – the rest is up to them!
Dit laat my weer dink oor die belangrikheid van ‘n gelukkige einde vir die romanse. Lesers van romantiese fiksie wil doodeenvoudig nie ‘n storie lees, aan die karakters geheg raak – en dan sien hoe die skrywer hulle op ‘n ongelukkige tydstip aan hul eie lot oorlaat nie. Mense lees liefdesverhale omdat hulle graag in gelukkige eindes wil glo. Of so dink ek in elk geval. Hoe meer ontnugtering ons dus in die werklike lewe ervaar, hoe groter word ons behoefte aan ‘n veilige ervaring waar ons daardie ontnugtering vir ‘n rukkie kan agterlaat.
Mens wat sê ons skep ‘n vals indruk oor verhoudings, verstaan nie waaroor ‘n romanse presies gaan nie. Die romanse gaan oor die proses van verlief raak – daardie wonderlike, onverstaanbare ervaring wat ‘n doodgewone mens op die wolke laat loop en ongewone dinge laat dink en doen. Die romanse eindig waar die tweetjies commit (is daar ‘n mooier Afrikaanse woord hiervoor?). Nee, ons is nie so naief om te glo alle paartjies gaan vir ewig en ewig gelukkig saamlewe nie. Ons weet hulle gaan binnekort mekaar se klein foutjies begin ontdek. En ‘n rukkie later mekaar se groter foutjies … En hulle gaan trou en hy gaan gou-gou ontdek hy haat grassny, en sy gaan ontdek hy is ‘n man wat snags al die komberse vir homself wil hou … En sy gaan dalk onbeplan swanger raak, terwyl hy aandring om steeds soos in sy studentedae gereeld deurnag saam met sy pelle te kuier.
Nee, ons leef nie in ontkenning nie. Ons weet die lewe is hard en die glans bly nie vir altyd in verliefdes se oë nie. Ons weet eindes is nie altyd perfek nie. Maar ons weet die lewe is propvol perfekte OOMBLIKKE. En dis wat die slot van ‘n romanse wil wees – ‘n gelukkige oomblik, ‘n oomblik waarin die leser (en die skrywer) in die goeie kan glo. ‘n Oomblik wat die leser (en die skrywer) die krag gee om die werklikheid weer kaalhand aan te pak.

Dagboek van ‘n romanseskrywer (7)

Verlede week se ruskansie het vrugte afgewerp. Ek kon beter fokus en die storie het heel natuurlik na sy einde toe begin beweeg.
Dit bly vir my ‘n probleem om die balans tussen spontane skryf en die tegniese kyk na die manuskrip te verkry. Soms voel dit asof ‘n mens nou te veel moets en moenies ken en die spontaneïteit van die proses verlore gaan. Die beste raad bly seker steeds om jou eerste weergawe met jou hart te skryf en daarna te begin redigeer. Maar ek voel baie gou dat goedjies wat ek agterna insit, vir my effens onnatuurlik klink, asof die leser sal agterkom dis later ingesit. Ek vind dit ook baie moeilik om sommer net te laat waai met die eerste weergawe. Ek bly maar aan die teruglees en spontaan redigeer, sodat daar wanneer ek dwarsdeur is met die storie net eintlik afronding oorbly. As ek reg onthou, is dit ietwat teenstrydig met wat prof. Hans by die Skryfskool gesê het. Maar ‘n mens moet seker maar die goed kry wat vir JOU werk.
Hopelik kan ons volgende week die tweetjies tevrede in mekaar se arms kry …