Dinge wat sukses bevorder

Die volgende het ek gedurende die afgelope jaar uit my life-coaching kursus (New Insights) gekry en my eie gedagtes, spesifiek op skryf gerig, bygevoeg:
1. Owning the self-image of a success.
Sien jouself as ‘n suksesvolle skrywer.
2. Feeling a strong purpose for reaching a goal.
Vertel jouself elke dag hoekom dit vir jou welsyn so belangrik is om te skryf.
3. Imagining success even before it happens.
Dink gereeld aan daardie lekker gevoel (warm, fuzzy feeling!) as jy ‘n gepubliseerde boek in jou hand hou. As jy dit nog nie ervaar het nie – span jou verbeelding in!
4. Continual mental focus on the benefits of reaching your goal.
Dink daagliks aan al die positiewe gevolge van jou skryfwerk.
5. Belief in your abilities—confidence.
Sê daagliks vir jouself jy glo in jouself. Sê dit met oortuiging!
6. Taking appropriate goal achieving actions; getting things done.
Sorg dat jy wel skryf op die dae waarop jy besluit het, al is dit net ‘n paar woorde.
7. Looking for and finding enjoyment/happiness in goal-related actions.
Lees daagliks en doen admin gereeld. Vir my persoonlik beteken dit ook my betrokkenheid by ‘n verskeidenheid blogs.
8. Openness to learning the lessons in all failures and successes (knowing there are lessons).
Herhaal dinge wat jy al geleer het, vir jouself. En pas toe!
9. Seeing mistakes and setbacks as normal, solvable.
Vergeet teleurstellings van verlede, tackle die nuwe uitdagings.
10. Recognizing and appreciating what you gain from each success.
Konsentreer op suksesse.
11. Being genuinely proud of what you’ve accomplished.
Wees in alle nederigheid trots op alles wat jy al bereik het.

Dagboek van ‘n romanseskrywer (11)

Jou manuskrip is voltooi, hersien en weer hersien en weer hersien, aan ‘n eerste leser (of meer) voorgelê, wéér hersien – en eindelik weggestuur. En nou is jy in een van die heel moeilikste fases van skrywer-wees: Die wagtyd.
Ek is nie ‘n geduldige mens nie. Wag is oor die algemeen vir my een van die moeilike dinge in die lewe. En hierdie soort wag  is ‘n spesiale soort wag – nie onvergelykbaar met vroeër jare se pa’s se lang wag terwyl Vroutjie alleen die baba in die wêreld moet kry nie. Ek kan ongelukkig ook nie juis sê dit word makliker met ervaring nie.
Maar ek kan darem sê dit lyk of ‘n mens geleidelik gewoond kan raak daaraan. Dit word deel van die landskap van jou lewe; dit staan nie meer so hoog uit bo alles soos aan die begin nie.
Die beste raad wat ek kan gee, is om te probeer om nie so BEWUSTELIK te wag nie. Hoe meer ‘n mens daarop konsentreer, hoe stadiger gaan die tyd mos in elk geval verby. Laat die dae maar hul loop neem, vul jou lewe met ander dinge (verkieslik ‘n splinternuwe storie!) en jy sal sien, soms vergeet ‘n mens selfs vir ‘n rukkie dat jy eintlik aan die wag is …
Een klein dingetjie: Dit werk vir my om elke keer spesifiek te vra dat die uitgewer ontvangs moet erken van die manuskrip. Dan is ek seker hy is waar hy moet wees (een keer in ‘n skrikkeljaar loop dinge mos maar skeef met e-posse). Maar dis ook ‘n sielkundige ding, dink ek. Iets te doen met ‘n gevoel van afsluiting (closure) – die baba is nou uit my hande, ek kan heeltemal niks meer aan hom doen nie.
Die harde werklikheid is dat ‘n wagtyd van vyf of ses maande nie ongewoon is nie. Die goeie nuus is dat die tyd wél verbygaan, al is dit teen ‘n slakkepas!

Hoe weet jy of jou eerste poging goed genoeg is om in te stuur na ‘n uitgewer?

Jy het die passie om te skryf en jy het die deursettingsvermoeë gehad om jou eerste manuskrip te voltooi, maar jy weet nie of dit die paal gaan haal wanneer ‘n redakteur sy skerp potlood uithaal om dit te redigeer nie.

Hoe kan jy weet?? Ons vra die ervare skrywers om hier bietjie raad te gee.

Dagboek van ‘n romanseskrywer (10)

Dis een ding om iemand se voorstelle vir die verbetering van jou manuskrip te hanteer. Dis ‘n ander om werklik sover te kom om daardie voorstelle te aanvaar en toe te pas. Ja, dit klink baie eenvoudig, maar ons moet onthou, daar is ‘n brose skrywersego (is ons almal se ego’s so broos soos myne?) betrokke. En ook ‘n goeie skoot koppigheid.
‘n Mens moet egter onthou jy moet steeds eienaarskap van jou manuskrip behou. Daarom het jy altyd ‘n keuse of jy jou eerste leser se voorstelle gaan aanvaar of nie. Dis jou reg om elke voorstel noukeurig te bekyk en self te besluit wat jy daarmee gaan doen. Die uitdaging is natuurlik om dit te doen sonder dat daardie ego  en koppigheid jou heeltemal pootjie!
Goed, jy het die veranderinge aangebring na goeddunke. Nou kom die volgende stappie. Baie eenvoudig – dit behels net ‘n enkele kliek op die woordjie Send. Maar ‘n baie moeilike oomblik waarby baie aspirant-skrywers nooit uitkom nie. Dit vat moed om jou manuskrip die wye wêreld in te stuur. Want hy kan verwerp word. En ons weet die vrees vir verwerping is moontlik die heel grootste menslike vrees. Want ons skei moeilik onsself van ons skeppings. As jou manuskrip verwerp word, is dit baie moeilik om dit nie as ‘n persoonlike verwerping te ervaar nie.
Reg, nou is hy gestuur. En jy bly sit met ‘n vreemde, leë gevoel daar waar die storie was. En die lang wag begin. Die heel beste raad? Vul daardie leë plek so gou as moontlik met ‘n nuwe storie. Vergeet van die oue, moenie bewustelik wag en die dae tel nie. Dit is in elk geval my ervaring.