Jaybee Roux: Die verskil tussen die romanse en die liefdesroman


1. ‘n Romanse word binne bepaalde riglyne geskryf. Hoewel uitgewers altyd op soek is na ietsie vars en oorspronkliks, is daar sekere “reëls” waarby gehou móét word (‘n gelukkige einde en ‘n held en heldin wat aanvanklik glad nie van mekaar hou nie al is daar ‘n seksuele aantrekking tussen hulle, is enkele, vanselfsprekende voorbeelde). Daar is ‘n mate van eenselwigheid tussen hierdie boekies wat inhoud sowel as voorkoms betref. Romanses kan as reekse beskou word; elke uitgewer het sy eie reeks/e of “imprints”. LAPA het vir Romanza, NB het vir Satyn, Hartklop, Melodie en Mirre. Die wêreld se grootste romanse-uitgewer – Harlequin/Mills and Boon – het ‘n verstommende aantal reekse wat elk aan unieke lesersvoorkeure voldoen. Hoewel romanses subplots mag hê, is die fokus altyd op twee karakters wat seksueel aangetrokke voel tot mekaar, maar mekaar om een of ander rede nie kan “vind” nie en dikwels nie wil aanvaar dat hulle nie regtig van mekaar hou nie. (Die held en heldin mag NIE hul liefde vir mekaar verklaar voor die einde nie. Onthou: “Love is the solution, not the problem”.) Omdat romanses relatief kort is, is daar gewoonlik eenvoudig nie ruimte vir te veel newekarakters of draadjies wat van die hooftema af wegdwaal nie.

2. ‘n Liefdesroman (“romantic novel”) staan in die handel ook as “enkeltitelromans” (“single titles”) bekend. Hier het ons met (gewoonlik) veel dikker romans as die romanses te doen. Hoewel baie uitgewers sulke romans met reëlmaat uitgee (bv. een elke twee maande) word liefdesromans nie as reekse beskou nie. Dié boeke is nie so eenselwig soos romanses nie; daar is veel meer ruimte vir subplots en newekarakters en ook veel meer vryheid t.o.v. inhoud: daar is veel minder “reëls” as met romanses en dié wat daar is, word minder rigied toegepas. Byvoorbeeld: met romanses is dit verpligtend dat die held in die eerste hoofstuk al sy verskyning maak en dat die heldin eindelik in dié held se arms geluk sal vind. Met ‘n liefdesroman mag die held eers later sy entrance maak; dit mag selfs gebeur dat hy homself mettertyd op een of ander manier as held kwalifiseer (deur bv. die heldin te verkul) en dat sy plek deur ‘n ánder held ingeneem word. Uitgewers is met hierdie genre ook baie meer toegeeflik t.o.v. temas. LAPA gaan byvoorbeeld nie sommer ‘n romanse waarin terminale siekte, alkoholisme, vroueslanery of een van die ander “no-no’s” ‘n rol speel, publiseer nie. Hulle plaas egter geen beperking op bv. Sophia Kapp, wat sulke temas wel met groot sukses in haar liefdesromans aanpak nie.

Ek het self nog net een Liefderoman geskryf – met ‘n bittersoet einde, wat dalk ‘n fout was. Alle ontspanningsgenres vra nou maar eenmaal vir ‘n gelukkige slot. Lesers verdien dit.

Danielle Steel en Norah Robbers is goeie voorbeelde van liefdesromanskrywers, maar ons plaaslike skrywers staan nie vir hulle terug nie. Benewens Sophia is daar Wilna Adriaanse – wat aanvanklik romanses geskryf het – ditto Irma Joubert en enkele ander.

Daar is natuurlik ánder liefdesgenres ook. “Chick-lit” (of “romcom” of romantiese komedie) is nogal baie soos die Amerikaanse “romantic comedy”-flieks waaroor ek so dol is. Dié genre het onlangs eers in Afrikaans gedebuteer met “Oop Kaarte” (ek kan nottendêm daardie skrywer se naam onthou . . . Anneri Coetser?) Intussen het Nadia de Kock (“Heildronk op ‘n gypsyromp”) ook dié terrein betree, asook Marinda Fitzpatrick (“Iemand vir ‘n scoop?”) en ons eie Kristel met bv. “Aspoesterskoene”, “Muurblom” en haar splinternuwe “Sjokoladesoene”. “Chick lit” moet egter nie verwar word met romanses met ‘n groot skoot humor nie. Daar’s ‘n groot verskil, maar dis ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

Ons het nooit regtig Afrikaanse terme vir dié genres gehad nie, dalk omdat Afrikaanse liefdesverhale jare lank uitsluitlik beperk was tot romanses – almal het bloot van “liefdesverhale” gepraat en daar was geen verwarring nie. Noudat die ander genres ook opgang maak, het LAPA Afrikaans ‘n groot guns bewys deur met terme soos liefdesromans en romanses vorendag te kom.

One comment on “Jaybee Roux: Die verskil tussen die romanse en die liefdesroman

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s