Meer oor die verskille tussen die liefdesroman en romanse

VERSKILLENDE SOORTE ROMANTIESE FIKSIE:

Hier is ‘n lekker opsomming van die verskille, soos dit voorkom in die onderhoud wat Karin Brynard met Chanette Paul oor haar nuutste boek, Meetsnoer, gevoer het:

Die romanse (romance) gaan by uitstek oor die ontwikkelende liefdesverhouding tussen ʼn man en ʼn vrou. Die liefdesroman (romantic novel) is meer verwikkeld en gaan oor die groeiproses van ʼn vrou in ʼn krisis situasie of moeilike tydperk in haar lewe en wat in die proses ʼn man liefkry.

Daar is dan nou ook twee verskillende spanningsweergawes wat hier uit voortvloei.

Die spanningsromanse (suspense romance) is ʼn romanse met ʼn misdaad by, maar die klem val steeds op die liefde. Die vastrek van die skuldige is ondergeskik aan die ontwikkelende liefdesverhouding.

Die romantiese spanningsroman (Romantic suspense novel) sluit nou weer aan by die liefdesroman (romantic novel). Misdaad is in hierdie geval deel van die moeilike omstandighede/krisissituasie. Daar is ewe sterk klem op die hoofkarakter se groei as mens en op die verhouding tussen haar en die man wat sy liefkry, maar dis ook ewe belangrik hoe die skurk die hoofkarakter se lewe bedreig en daarom, wie hy of sy is. Dis dus ʼn baie verwikkelder storie en gevolglik ʼn heelwat dikker boek.

Kyk hier langsaan op die blogroll vir die skakel na die volledige onderhoud.

HIERONDER VOLG ‘N PAAR GEDAGTES OOR DIE VERSKILLE TUSSEN SPESIFIEK DIE LIEFDESROMAN EN DIE ROMANSE:

MILIEU:
Ek het in ‘n verklarende woordeboek gaan kyk presies wat onder die term milieu verstaan word: Kring, omgewing, sfeer waarin iemand opgroei en tuis is. Ook: agtergrond, atmosfeer.

In prosa beskryf die term dus die hele konteks waarin die verhaal afspeel, die verbande waarbinne die karakters funksioneer. ‘n Liefdesroman en ‘n romanse kan in dieselfde omgewing afspeel, selfs die hoofkarakters kan dieselfde wees, maar dit sal verskillend uitgebeeld word in die twee genres.

In die liefdesroman word die omgewing absoluut realisties uitgebeeld en die harde werklikheid van die Suid-Afrikaanse (of ander) landskap word nie vermy soos dikwels in die romanse nie. Gewilde romanse-situasies soos die heldin wat alleen in ‘n afgesonderde huisie gaan bly, is dus nie altyd haalbaar nie. Die werklikheid van misdaad, armoede, ens. moet in die LR aangespreek word as dit relevant is vir die verhaal.

Die omgewing en natuur kan in die LR ‘n groter rol speel as in die romanse. In die werklikheid word mense se lewens tot ‘n groot mate bepaal deur die omgewing waarin hulle leef. Die LR bied dus meer moontlikhede om die natuur/agtergrond werklik deel van die storie te maak en nie net die doek waarop die gebeure afspeel nie.

Omdat die LR steeds romantiese fiksie is, sal daar egter altyd ‘n element van hoop wees om die realisme te temper, teenoor die letterkundige roman waar (myns insiens) met die werklikheid in al sy brute aakligheid omgegaan word.

Bogenoemde is my persoonlike gedagtes. Ek hoor graag van iemand wat verskil of saamstem!

KARAKTERISERING:
Karakters word baie meer volledig getoon in die liefdesroman as in die romanse. Hulle word meer veelkantig en in diepte ontwikkel (ronde karakters). Die persoonlike ontwikkeling van veral die vroulike hoofkarakter is basies netso belangrik as die liefdesverhaal. Dit bring mee dat die ontwikkeling van die verhouding nie so stewig in die sentrum van die storie staan soos by die romanse nie. Die held is nie hier die een wat vir haar die oplossing bring en alles vir haar beter maak nie. Sy is self besig om deur haar probleme te werk, nuwe insigte te kry, ens. en deur die ontwikkeling van die liefde word sy hierin gehelp. Baie meer ruimte word dus aan die vroulike hoofkarakter (LW. sy is nie meer ‘n heldin nie) se ander verhoudings ook gegee en dit word baie meer in diepte ondersoek.

Die soeke en groei van die vroulike hoofkarakter is dus netso belangrik as die ontwikkeling van die liefdesverhouding. Hieruit volg (vir my) dat die manlike hoofkarakter eintlik ‘n effens kleiner rol speel as in die romanse, want hy is nie meer alleen verantwoordelik vir alles wat die heldin beleef nie. (Dit hang natuurlik af of die skrywer verkies om hom ook te laat fokaliseer.) Indien hy ook fokaliseer, moet dit met gereelde tussenposes gebeur, en nie net af en toe nie. Dit is dan ontsettend belangrik dat daar by hom ook ontwikkeling moet plaasvind, dat hy ook as mens moet groei en nie net in die sin dat hy verlief raak op die meisie nie.

Die staatmaker newekarakters van die romanse werk nie so goed in die LR nie. Die gewone (welbedeelde) feeks in die sexy (rooi) klere is nie meer noodwendig nodig nie. ‘n Groter en meer unieke verskeidenheid newekarakters is dus nodig en meer aandag word aan hulle eie binnewêreld en verhoudinge gegee. Newekarakters word vollediger geteken en het ‘n groter invloed veral op die lewe en persoonlike groei van die vroulike hoofkarakter.

Omdat daar meer ruimte is om die karakters beter te ontwikkel, speel hul beroepe ook gewoonlik ‘n groter rol as in die romanse. In die romanse dien die beroepe meestal as interessante agtergrond vir die liefdesverhaal, terwyl dit in die LR staan as integrale deel van die hoofkarakters se lewe en dus ook heeltemal realisties en in meer detail uitgebeeld word.

PLOT:
In die romanse weet ons die spanning word volgehou deur die beginsel van die uitgestelde begeerte. Dit alleen is egter (meestal) nie genoeg om die leser by ‘n heelwat dikker boek aan die omblaai te hou nie. Hoewel dit in enige liefdesverhaal belangrik sal wees, speel die ontdekking van die liefde (dus die proses van verlief raak) in die LR nie meer alleen die sentrale rol nie. Daar moet meer dinge (en veral dinge wat werklik vandag in die SA samelewing geld) wees wat die leser laat aanhou omblaai. Dit bring mee dat daar ook sub-plots kan wees, ook ander verhoudings wat verander of groei of selfs tot niet gaan. Terwyl die romanse redelik voorspelbaar moet wees (ons weet mos die lesers weet presies wat hulle wil hê), is heelwat meer spanning, kinkels en verrassings nodig in die LR. Dit is dus nog belangriker dat elke toneel absoluut funksioneel moet wees, moet bydra tot die spanning en moet bydra tot die groei van (veral) die vroulike hoofkarakter.

DIE HARDE WERKLIKHEID:
Hoewel die LR steeds romantiese fiksie is, en dus altyd die leser genadig sal wees in die sin dat dit nie die VOLLE aakligheid van die lewe (soos die letterkundige roman) na vore bring nie, bied dit ‘n meer realistiese kyk op die werklikheid as die romanse. Dit behels onder meer dat verhoudinge ingewikkelder sal wees, karakters minder geneig tot geykte optrede, karakters minder beeldskoon en die hoofkarakters nie vlekkeloos (onkreukbaar is mos PG se woord!) soos in die romanse sal wees nie.
LENGTE:
Die groter omvang van die LR word teweeg gebring deur die omvattender uitbeelding van die hoofkarakters, ‘n ingewikkelder plot en meer onvoorspelbare gebeure. Soos in die romanse is herhaling hier ook die ding wat die leser die gouste verveel. Wanneer die karakter dus agterna dink oor ‘n situasie wat alreeds in die verhaal geteken is, is dit dus baie belangrik dat hy/sy ‘n nuwe insig moet kry of op een of ander manier moet groei of iets leer en nie bloot in sy gedagtes moet herhaal wat gebeur het nie. Die gevaar van telling i.p.v. showing raak hier dus ook baie groot, want dis moeiliker om gedagtes te show as te vertel.
TITEL:
Romanses se titels dui gewoonlik op die ligter aard van die genre. Die titel van ‘n LR moet ‘n aanduiding gee dat dit ‘n ander tipe verhaal is.

Chanette Paul het die volgende hieroor geskryf toe sy ‘n jaar of wat gelede Sophia Kapp se  liefdesroman Die tuiskoms entoesiasties vir publikasie aanbeveel het:
ʼn Romanse is bloot dit – die storie van ʼn liefdesverhouding wat tussen ʼn man en ʼn vrou ontwikkel vandat daardie chemiese reaksie wat ons verliefdheid noem vonk vat, en duur tot en met die kulminering van hierdie liefde – sy dit die wedersydse verklaring van die held en heldin se liefde vir mekaar, ʼn huweliksaansoek, die troue of waarheen die storie ook al lei. Dis die soort verhale wat in die Romanza-reeks uitgegee word.
Die liefdesroman strek veel wyer en beweeg ook nader aan lewenswerklikhede.

Dit word uitgegee as enkeltitel, dit wil sê nie as deel van ʼn reeks nie. In die liefdesroman word die minder idilliese kant van die lewe betrek: die onregverdigheid van die lewe, menslike wreedheid, die struikelblokke wat oor die mens, veral die vrou, se pad kom en dies meer. Daar loop steeds ʼn goue draad van hoop en optimisme deur die verhaal, maar die hoof- en ander karakters word blootgestel – en soms uitgelewer – aan nare werklikhede. Die liefdesroman eindig nie noodwendig idillies nie, maar wel op ʼn hoopvolle noot. Waar die romanse dus die onaangenamer sy van die lewe grootliks ignoreer of minstens binne ʼn kader plaas waar álle kwaad deur die goeie oorwin word, betrek die liefdesroman die lewe in al sy fasette binne ʼn meer realistiese konteks. Die liefdesroman se plot is baie meer verwikkeld as die romanse s’n en daar is heelwat meer karakters. Die karakters en hulle menswees word ook baie dieper ontgin en dikwels word meer as een karakter se perspektief ingespan. Die liefdesroman is dan ook aansienlik dikker as die romanse. Liefdesromans is warm, emosionele stories – feel good stories, maar stories wat die werklikheid aanspreek. Om Donna Baker aan te haal: “a story of imagination and passion, with a theme in which real characters live real lives, with a plot that may be simplicity itself or as complex as War and Peace.”

6 comments on “Meer oor die verskille tussen die liefdesroman en romanse

  1. Terug pieng: Skuilnaam of skrywersnaam? En hoekom? « Alta Cloete

  2. Terug pieng: Skuilnaam of skrywersnaam? En hoekom? | Alta Cloete

  3. Dit is te lekker om (as voornemende skrywer) op hierdie blog af te kom! Ek het gedink ek sal maar op die harde manier moet leer (afkeurbriefie na afkeurbriefie) en dat skrywers ‘n geslote kring is wat hulle geheime jaloers bewaar. Ek is aangenaam verras. Ek is ‘n totale beginner wat nie eens weet uit hoeveel woorde ‘n hoofstuk moet bestaan nie (het eintlik in terme van bladsye gedink). So, ek leer nou teen ‘n vreeslike pas. En nou waardeer ek eers al daardie verhale wat ek so vinnig verslind het. Dit is baie, baie moeiliker om ‘n samehangde storie te skryf as wat ek gedink het. So, ek waardeer die inligting. Baie dankie …

  4. Wel ek weet nou dat ek beslis besig is met ‘n LR. Ek is ‘n gr 12 Afr HT onnie met ‘n passie vir onderwys. My storie handel dus oor gebeure in die onderwysmilieu met ‘ n kombinasie van werklike gebeure en fiksie binne in ‘n vasgestelde tydlyn wat nie noodwendig chronologies volg nie, maar uiteindelik progressie toon. Die SA se taal en kultuur diversiteit vind groot byval vir my en is dit lekker om veral die ” veltaal of kleurtaal ” weer te gee bv “Nama segoed of Namakwalandse of Noordkaapse inslag” te gebruik. Ek het al vir my vakadviseur vir Afr en moderator by NSC voorgele om te lees, maar albei het blykbaar nie tyd gehad om te lees nie, want ons was almal besig om Opstelle na te sien vir Nasionale Matriekvraestelle verlede jaar. Ek is nogal bevrees hulle is nie heeltemal eerlik met my nie. Dankie vir hierdie blog. Nou weet ek wat my te doen staan.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s