Verskille tussen die romanse en die liefdesroman (vervolg)

DIE HARDE WERKLIKHEID:
Hoewel die LR steeds romantiese fiksie is, en dus altyd die leser genadig sal wees in die sin dat dit nie die VOLLE aakligheid van die lewe (soos die letterkundige roman) na vore bring nie, bied dit ‘n meer realistiese kyk op die werklikheid as die romanse. Dit behels onder meer dat verhoudinge ingewikkelder sal wees, karakters minder geneig tot geykte optrede, karakters minder beeldskoon en die hoofkarakters nie vlekkeloos (onkreukbaar is mos PG se woord!) soos in die romanse sal wees nie.
LENGTE:
Die groter omvang van die LR word teweeg gebring deur die omvattender uitbeelding van die hoofkarakters, ‘n ingewikkelder plot en meer onvoorspelbare gebeure. Soos in die romanse is herhaling hier ook die ding wat die leser die gouste verveel. Wanneer die karakter dus agterna dink oor ‘n situasie wat alreeds in die verhaal geteken is, is dit dus baie belangrik dat hy/sy ‘n nuwe insig moet kry of op een of ander manier moet groei of iets leer en nie bloot in sy gedagtes moet herhaal wat gebeur het nie. Die gevaar van telling i.p.v. showing raak hier dus ook baie groot, want dis moeiliker om gedagtes te show as te vertel.
TITEL:
Romanses se titels dui gewoonlik op die ligter aard van die genre. Die titel van ‘n LR moet ‘n aanduiding gee dat dit ‘n ander tipe verhaal is.

Verskille tussen die romanse en die LR: Plot

In die romanse weet ons die spanning word volgehou deur die beginsel van die uitgestelde begeerte. Dit alleen is egter (meestal) nie genoeg om die leser by ‘n heelwat dikker boek aan die omblaai te hou nie. Hoewel dit in enige liefdesverhaal belangrik sal wees, speel die ontdekking van die liefde (dus die proses van verlief raak) in die LR nie meer alleen die sentrale rol nie. Daar moet meer dinge (en veral dinge wat werklik vandag in die SA samelewing geld) wees wat die leser laat aanhou omblaai. Dit bring mee dat daar ook sub-plots kan wees, ook ander verhoudings wat verander of groei of selfs tot niet gaan. Terwyl die romanse redelik voorspelbaar moet wees (ons weet mos die lesers weet presies wat hulle wil hê), is heelwat meer spanning, kinkels en verrassings nodig in die LR. Dit is dus nog belangriker dat elke toneel absoluut funksioneel moet wees, moet bydra tot die spanning en moet bydra tot die groei van (veral) die vroulike hoofkarakter.

Verskille tussen die romanse en LR: Karakterisering

Karakters word baie meer volledig getoon in die liefdesroman as in die romanse. Hulle word meer veelkantig en in diepte ontwikkel (ronde karakters). Die persoonlike ontwikkeling van veral die vroulike hoofkarakter is basies netso belangrik as die liefdesverhaal. Dit bring mee dat die ontwikkeling van die verhouding nie so stewig in die sentrum van die storie staan soos by die romanse nie. Die held is nie hier die een wat vir haar die oplossing bring en alles vir haar beter maak nie. Sy is self besig om deur haar probleme te werk, nuwe insigte te kry, ens. en deur die ontwikkeling van die liefde word sy hierin gehelp. Baie meer ruimte word dus aan die vroulike hoofkarakter (LW. sy is nie meer ‘n heldin nie) se ander verhoudings ook gegee en dit word baie meer in diepte ondersoek.

Die soeke en groei van die vroulike hoofkarakter is dus netso belangrik as die ontwikkeling van die liefdesverhouding. Hieruit volg (vir my) dat die manlike hoofkarakter eintlik ‘n effens kleiner rol speel as in die romanse, want hy is nie meer alleen verantwoordelik vir alles wat die heldin beleef nie. (Dit hang natuurlik af of die skrywer verkies om hom ook te laat fokaliseer.) Indien hy ook fokaliseer, moet dit met gereelde tussenposes gebeur, en nie net af en toe nie. Dit is dan ontsettend belangrik dat daar by hom ook ontwikkeling moet plaasvind, dat hy ook as mens moet groei en nie net in die sin dat hy verlief raak op die meisie nie.

Die staatmaker newekarakters van die romanse werk nie so goed in die LR nie. Die gewone (welbedeelde) feeks in die sexy (rooi) klere is nie meer noodwendig nodig nie. ‘n Groter en meer unieke verskeidenheid newekarakters is dus nodig en meer aandag word aan hulle eie binnewêreld en verhoudinge gegee. Newekarakters word vollediger geteken en het ‘n groter invloed veral op die lewe en persoonlike groei van die vroulike hoofkarakter.

Omdat daar meer ruimte is om die karakters beter te ontwikkel, speel hul beroepe ook gewoonlik ‘n groter rol as in die romanse. In die romanse dien die beroepe meestal as interessante agtergrond vir die liefdesverhaal, terwyl dit in die LR staan as integrale deel van die hoofkarakters se lewe en dus ook heeltemal realisties en in meer detail uitgebeeld word.

Onthou die blogroll!

Ons blogroll is besig om in ‘n paradys van nuttige skryfwenke te ontwikkel! Die dag se wenk van die 31 dae verskyn daagliks daarop, maar daar is ook al ‘n hele paar ander nuttige verwysings. Kyk veral na nommers 1 en 21. Wanneer jy met die handjie oor die opskrif hang, verskyn daar ‘n kort Afrikaanse aanduiding waaroor dit gaan. Almal is lekker kort stukkies inligting vir aspirant-skrywers én ervare skrywers en kan help wanneer die inspirasie ‘n bietjie yl raak! Die meeste wenke is toepaslik vir skrywers van ‘n wye verskeidenheid dinge van die romanse, liefdesroman, spanningsroman tot by die skryf vir ‘n blog.

Die skrywer as leser.

Ek het al só baie gehoor dat iemand sê: “Ai, ek wens ek kon soos so-en-so skryf.”

Ek persoonlik wens dat ek soos Nora Roberts kan skryf, daarom lees ek elke liewe boek van haar wat ek in die hande kan kry. Nie dat ek haar wil na-aap nie, maar om van haar te leer.

Dit maak my hartseer dat mense wat hulself skrywers noem, soms eintlik so min lees. As mens werklik passievol oor iets is, sal jy mos als wat jy moontlik kan leer daaroor probeer leer!! Daar is geen beter manier van leer skryf as LEES nie.

As jy romantiese fiksie wil skryf, moet jy hope daarvan lees. Ek kan gewoonlik na die eerste paar paragrawe agterkom of ‘n skrywer werklik ‘n leser is van die genre wat hy/sy skryf. Daar kort net daardie sekere bestanddeel wat die skryfsels laat werk of nie. Soveel te meer sal uitgewers en redakteurs dit optel.

Stel dus vir jouself ‘n uitdaging om ‘n sekere hoeveelheid boeke per maand te lees en nie net van een skrywer nie, maar verskeie. Lees ook ander genres. Ons wat so bevoorreg is om tweetalig te wees, se leesveld is net soveel wyer.

Ja, ons biblioteke is nie meer wat dit was nie, maar intussen het daar heelwat tweedehandse boekwinkels die lig gesien. Soek ‘n goeie een in jou omgewing en LEES, LEES, LEES!!!

Dan is daar nog die heerlike nuwigheid: e-boeke wat BAIE goedkoper is as regte boeke!!

Hoeveel en wat lees jy?

Verskille tussen die romanse en die liefdesroman: Milieu

Ek het in ‘n verklarende woordeboek gaan kyk presies wat onder die term milieu verstaan word: Kring, omgewing, sfeer waarin iemand opgroei en tuis is. Ook: agtergrond, atmosfeer.

In prosa beskryf die term dus die hele konteks waarin die verhaal afspeel, die verbande waarbinne die karakters funksioneer. ‘n Liefdesroman en ‘n romanse kan in dieselfde omgewing afspeel, selfs die hoofkarakters kan dieselfde wees, maar dit sal verskillend uitgebeeld word in die twee genres.

In die liefdesroman word die omgewing absoluut realisties uitgebeeld en die harde werklikheid van die Suid-Afrikaanse (of ander) landskap word nie vermy soos dikwels in die romanse nie. Gewilde romanse-situasies soos die heldin wat alleen in ‘n afgesonderde huisie gaan bly, is dus nie altyd haalbaar nie. Die werklikheid van misdaad, armoede, ens. moet in die LR aangespreek word as dit relevant is vir die verhaal.

Die omgewing en natuur kan in die LR ‘n groter rol speel as in die romanse. In die werklikheid word mense se lewens tot ‘n groot mate bepaal deur die omgewing waarin hulle leef. Die LR bied dus meer moontlikhede om die natuur/agtergrond werklik deel van die storie te maak en nie net die doek waarop die gebeure afspeel nie.

Omdat die LR steeds romantiese fiksie is, sal daar egter altyd ‘n element van hoop wees om die realisme te temper, teenoor die letterkundige roman waar (myns insiens) met die werklikheid in al sy brute aakligheid omgegaan word.

Bogenoemde is my persoonlike gedagtes. Ek hoor graag van iemand wat verskil of saamstem!

ATKV-Skryfskool 2011

Die jaarlikse Herfsskool vir skrywers word vanjaar weer deur die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit aangebied en bekendes uit die skryfwêreld sal as aanbieders optree. DATUM: 21 Maart 2011 – 25 Maart 2011
PLEK: Potchefstroom
KURSUSSE: Hoe skryf ek ʼn rubriek, prosa, poësie, kinderliteratuur?Hierdie bene loop gelyktydig tydens die skryfskool.
KOSTE: R3 000,00 per persoon wat deel. Luukse verblyf in die nuwe Puk Sports Village, Potchefstroom vir 4 nagte, ontbyt ingesluit.
SLUITINGSDATUM VIR INSKRYWINGS: 4 Maart 2011
TOELATINGSVEREISTES: Eie skryfstuk, soos hieronder uiteengesit. Vir vyf dae word daar intensief aan jou eie skryfwerk geskaaf deur skrywers, uitgewers, groepleiers en werkswinkelaanbieders. Aan die einde van die Herfsskool word ʼn bywoning­sertifikaat toegeken. Om tot die Herfsskool toegelaat te word, word daar ʼn skryfstuk gevra wat jy saam met jou inskrywing voor die sluitingsdatum, 4 Maart 2011, moet instuur met ʼn deposito van R500,00 (nie terugbetaalbaar nie). Hierdie skryfstuk van jou word deur die loop van die week in kleingroepverband met jou bespreek.
NAVRAE
Tel: 018 299 1783
Faks: 018 299 1784
kobie.vanaswegen@nwu.ac.za

Skrywersname? Skuilname?

Vroeër was dit heel algemeen dat letterkundige skrywers ook populêre leesstof onder ‘n skuilnaam geskryf het. Dikwels het lesers van daardie persoon se ontspanningslektuur eers na so ‘n skrywer se dood agtergekom wie hy/sy werklik was, of net ‘n klein groepie was bewus daarvan.
Deesdae word daar meestal nie meer verwys na skuilname nie, maar eerder na skrywersname. Dit gebeur soms dat skrywers verskillende genres onder verskillende name publiseer, net om dit vir die lesers makliker te maak. ‘n Persoon kan byvoorbeeld kinderboeke, kortverhale en romans onder drie verskillende name skryf. Al weet die leser ook al drie hierdie name verteenwoordig dieselfde persoon, weet hy dan presies wat hy gaan kry as hy ‘n boek onder ‘n sekere naam oopmaak.
Skrywers van populêre leesstof het egter ook dikwels hul eie redes waarom hulle van ‘n skrywersnaam gebruik maak, wat meestal verband hou met die persepsie van ‘n sekere naam by die publiek. Netsoos vermaaklikheidskunstenaars se name nie altyd geskik is as verhoogname nie, klink alle name ook nie so gepas vir bv. ‘n liefdesverhaalskrywer nie. Skrywersname is dan dikwels net ‘n klein aanpassing van die regte naam, wat net makliker op die oor val.

Wat is oorspronklikheid nou eintlik?

Is dit ‘n buitengewone storielyn, besonderse karakters of ‘n spesiale skryfstyl? Blykbaar nie.

Mens hoor dikwels dat daar niks nuut onder die son is nie en dis so waar. Op hoeveel verskillende maniere kan mens nou eintlik verliefraak? Wat maak dan dat sekere skrywers se werk varser en oorspronkliker as die van ander voorkom?

‘n Leser soek ‘n belewenis wanneer hy/sy lees. Wanneer ‘n leser jou boek neersit, moet dit met ‘n gevoel van verryking wees. Die skrywer moet iets aan die lewe van die leser toevoeg. ‘n ‘Tall order’ nie waar nie?

Groot skryfguru, Donald Maass sê in sy boek ‘The fire in Fiction’: “Originality can come only from what you bring of yourself to your story. Originality is therefore a quality in you.”

Sjoe. Iets om oor na te dink, nè? Ons het onlangs gesels oor hoeveel mens van jouself in jou skryfwerk insit. Vir my lyk dit mos nou hoe meer jy van jouself insit, hoe beter sal jou werk wees.

Verskillende soorte romantiese fiksie

Hier is ‘n lekker opsomming van die verskille, soos dit voorkom in die onderhoud wat Karin Brynard met Chanette Paul oor haar nuutste boek, Meetsnoer, gevoer het:

Die romanse (romance) gaan by uitstek oor die ontwikkelende liefdesverhouding tussen ʼn man en ʼn vrou. Die liefdesroman (romantic novel) is meer verwikkeld en gaan oor die groeiproses van ʼn vrou in ʼn krisis situasie of moeilike tydperk in haar lewe en wat in die proses ʼn man liefkry.

Daar is dan nou ook twee verskillende spanningsweergawes wat hier uit voortvloei.

Die spanningsromanse (suspense romance) is ʼn romanse met ʼn misdaad by, maar die klem val steeds op die liefde. Die vastrek van die skuldige is ondergeskik aan die ontwikkelende liefdesverhouding.

Die romantiese spanningsroman (Romantic suspense novel) sluit nou weer aan by die liefdesroman (romantic novel). Misdaad is in hierdie geval deel van die moeilike omstandighede/krisissituasie. Daar is ewe sterk klem op die hoofkarakter se groei as mens en op die verhouding tussen haar en die man wat sy liefkry, maar dis ook ewe belangrik hoe die skurk die hoofkarakter se lewe bedreig en daarom, wie hy of sy is. Dis dus ʼn baie verwikkelder storie en gevolglik ʼn heelwat dikker boek.

Kyk hier langsaan op die blogroll vir die skakel na die volledige onderhoud.

 

Skakels om jou te inspireer!

Kyk gerus voortaan gereeld op die regterkant van ons tuisblad onder BLOGROLL vir skakels na webwerwe wat vir skrywers van belang is.
Die eerste een gaan oor ‘n projek van skrywers om vir die 31 dae van Januarie saam te werk om hulle swakplekkies uit te stryk. En wie van ons het nog nie van p r o c r a s t i n a t i o n gehoor (of hom gevoel!) nie?