Wou jy nog altyd graag skryf?

Net gister weer sê iemand vir my: “Ek wou nog altyd graag skryf en ek weet ek kan, maar …” Nou ja, die ‘maar’ sê dit alles. Wat keer jou? Is dit tyd of geleentheid wat jy kortkom? Is dit die inspirasie om te gaan sit en te begin, wat jou ontwyk? Waarvoor wag jy nou eintlik? Dat iemand jou skryftalent gaan ontdek en dan word jy oornag bekend en beroemd? Glo my, dit gaan NIE gebeur nie!

Skryf is ’n werk soos enige ander. Doit verg baie selfdissipline en bereidheid om hard te werk. Dis ’n vaardigheid wat jy moet oefen en beoefen totdat jy dit regkry. Dit neem skryf en herskryf en weer ’n keer oorskryf voordat die uitgewer tevrede is. Bitter min skrywers se werk word onveranderd aanvaar. Dit neem baie ure met jou boude op ’n stoel om iets voort te bring waarmee jy, jou redakteur, die uitgewer en les bes, die LESER almal tevrede kan wees.

Jou lesers is jou grootste kritici. Hulle weet wat hulle wil hê en hulle eien hulle die reg toe om jou en die soort boeke wat jy skryf af te maak as aanvaarbaar of nie goed genoeg nie en sodoende jou loopbaan te maak of te breek. Die ergste is wanneer iemand wat nog nooit een letter wat jy geskryf het, wel gelees het nie en dan hard en duidelik ’n opinie daaroor uitspreek.

Die beste raad wat ek aan aspirantskrywers kan gee, is dit: Gaan sit net en DOEN DIT!! Vind egter eers uit waarna uitgewers op soek is voordat jy wegval en jarrre se werk in iets insit waarin geen uitgewer dalk belang gaan stel nie.

So baie beginnerskrywers vra hier op die blog: “Ek het ‘n boek geskryf. Waarheen moet ek dit stuur?” Eish…

Dit hang af watter genre dit is. Uitgewers gee nie noodwendig enigiets uit nie, al is dit dalk baie goed geskryf. Hulle weet wat werk en wat nie en hulle ken hulle mark. Jou skryfsels kan hoe goed wees, maar as dit nie verkoopbaar is nie, sal geen uitgewer daaraan vat nie.
* Doen jou huiswerk VOOR jy begin.
* Besoek die webwerwe van uitgewers en kyk na die vereistes wat hulle stel vir manuskripvoorleggings.
* Kyk in boekwinkels watter genres die verskillende uitgewers uitgee.
* Lees van hul onlangse publikasies om ‘n idee te kry van wat hulle wel aanvaar.
* Wees bereid om jou werk te verander en verbeter wanneer die redakteur jou vra om dit te doen, moenie ‘n diva wees en dink jou werk is volmaak nie.
* Wees voorbereid op kritiek, ignoreer onnodige afbrekende aanmerkings en slaan ag op dit wat jou werk wel kan verbeter.