Verwerping of kritiek wat seermaak

Vrees vir verwerping is een van die mensdom se grootste troetel-einas. Wanneer ‘n skrywer ‘n manuskrip pos, begin daardie vrees aan jou knaag. Jou skryfwerk het uit jou hart uit gekom, dis soos ‘n kind wat uit jou gebore is. Verwerping of kritiek gaan jou beslis seermaak. Handewringend wag jy dus op daardie uitslag.

“Dankie, maar nee dankie” kom daardie beleefde, maar besliste briefie. Eina!!

Onthou dan een ding: jy is in goeie geselskap. Groot skrywers het dit ook al beleef en daarna met harde werk groot sukses behaal.

  • Probeer weer. Dalk het jy dit vir die verkeerde uitgewer gestuur. Miskien is dit presies waarna ‘n ander uitgewer op soek is. Moenie jou manuskrip sommer in die onderste laai van jou lessenaar gooi nie. Onthou dat die oordeel wat oor jou werk uitgespreek is, slegs daardie een uitgewer se opinie is.
  • Dalk het jy die verkeerde genre aangepak. Miskien is jou werk meer gepas in ‘n ander genre. Eksperimenteer met iets anders.
  • Probeer objektief na jou werk kyk. Dalk sien jy waar jy kan verbeter. Moenie sommer tou opgooi nie.

OF:

“Jou boek is publiseerbaar, maar slegs as jy dit sus of so verander,” is nog ‘n ander gevreesde briefie. Dit kan net so seer maak as verwerping, want jy was dan so seker jou manuskrip is perfek.

Hoe hanteer jy verwerping of kritiek?

  • Erken dat dit seermaak. Om die pyn te ontken, sal niks help nie.
  • Gee jouself kans om oor die ergste seer te kom en lees dan weer die kritiek. Dit sal heelwaarskynlik nie meer so seermaak soos met die eerste oogopslag nie.
  • Deel jou gevoelens met iemand wat sal verstaan.
  • Wees goed vir jouself: eet ‘n tjoklit of koop vir jouself blomme, drink ‘n glas wyn, of enigiets wat jou sal troos.
  • Takel dan weer die manuskrip en maak die veranderinge wat die redakteur voorstel of pos dit vir ‘n ander uitgewer indien dit verwerp was.
  • Moenie wag totdat jy weer van die uitgewer hoor nie, begin so gou moontlik met ‘n nuwe manuskrip

Skrywers, deel asseblief julle ervaringe met ons. Vertel jou storie. Ons wil graag weet hoe jy verwerping of kritiek oorkom het.

Dagboek van ‘n romanseskrywer (3)

Ek het my doelwit bereik en elke dag my duisend woorde geskryf. Plus nog ‘n klompie.
Nou hoekom voel ek dan nie wonderlik nie?
Omdat ek vermoed ek is nou by daardie sagging middle. Een derde van die manuskrip is voltooi. Al die karakters is bekendgestel. Daar is rede tot konflik. Hulle is op ‘n interessante plek. Detail oor die omgewing is interessant, maar nie oorheersend nie. (Hoop ek!) Detail oor hul beroepe is interessant, maar nie oorheersend nie. (Hoop ek!!) Die held en die heldin is fluks besig om verlief te raak. En nou? Hoe gemaak dat hulle nie eenvoudig in mekaar se arms val nie???
Ek weet nie!
Dus: Tyd vir selfbeheersing. Ek laat hom rus tot Maandag, probeer om nie te push nie.
Hoop dit help!!!

‘n Paar lekker skakels

Boekemakranka – ‘n virtuele leeskring: http://leeskring.lefora.com/
Daar is talle interessante afdelings, waaronder boekbesprekings en notas van leeskringe, kennisgewing van boekbekendstellings, ens.

Boekemakranka se Top 100 Afrikaanse boeke vir 2009: http://leeslys.wordpress.com/ Hoeveel van hulle het jy al gelees? Om Afrikaans te lees, is sekerlik noodsaaklik as ons in Afrikaans wil skryf!

Hier is die skakel na hul virtuele skryfkring: http://skryfkring.lefora.com/

Goed begonne …

Die leë wit bladsy met die rekenaar se cursor wat vir jou oogknip, is sekerlik die doring in elke skrywer se oorgevoelige vlees.

Erger nog, ‘n rooigemerkte manuskrip wat herskryf moet word, kan jou met verlamming slaan. Skielik wonder jy of jy ooit regtig kan skryf. Die redakteur vind dan so baie fout met jou werk, die kritici vertel jou dat jou manuskrip hier te kort en daar te lank is.

Baie gou het jy die hoop werk wat vir jou voorlê in jou kop tot ‘n yslike, onoorkomelike berg vergroot. Jy vat en los, maar kom nie aan die gang nie. Sê nou jy kry dit nie reg nie? Sê nou hierdie poging misluk?

Jy pak jou laaie reg, was jou wasgoed, bak ‘n koek, doen die inkopies, sny die gras, skryf simpatiesoekende e-posse aan jou vriendinne en … alles goeie verskonings om nie te skryf nie, nè?

Nou is die tyd om jouself voor die rekenaar neer te sit en te begin. Jou beplanning is gedoen, karakters uitgewerk, die sinopsis geskryf, dis net ‘n kwessie van BEGIN!

Na die eerste paar reëls kom die spanning wat jou maag op ‘n knop trek, los. Die woorde begin vloei en jou vingers vlieg al vinniger oor die sleutelbord. Dis wanneer daai ou kindergediggie by my opkom: Ek dink ek kan … ek dink ek kan … ek kan, ek kan … ek KAN!

Dan weet ek: Goed begonne, is half gewonne!

Dagboek van ‘n romanseskrywer (2)

Dis half tien op ‘n Saterdagaand en ek het my doelwit vir die week bereik. ‘n Dag laat, maar darem. En ek kan sweer dit het iets te doen met feit dat ek so gek was om my persoonlike stryde op die internet te begin uitsaai … ‘n Mens het darem jou trots!
Van Maandag tot Woensdag het ek fluks gevorder. Behalwe dat ek soggens te lank gedraai het met allerhande noodsaaklike en minder noodsaaklike dinge wat gedoen moet word, en dan teen die middag eers pootuit voor die rekenaar beland het.Verlede week se moord op ‘n paar honderd woorde werp nou vrugte af. Daar is meer geleentheid …
Lees verder byhttp://marilecloete.wordpress.com/2010/09/18/dagboek-van-n-romanseskrywer-2-2/

Om van die huis af te werk

Voltydse skrywers is bevoorreg om hul beroep van die huis af te kan beoefen. Ja, daar is ooglopende voordele – soos dat jy netso hard kan werk in jou pj’s en hasie-pantoffels as in ‘n korporatiewe pakkie erens in ‘n hoe gebou. Daar is natuurlik ook nadele – soos dat jy naderhand verleer om met jou netjiese hakskoentjies te loop en soos ‘n eend waggel wanneer jy gedwing word om die buitewereld aan te durf.
Dink jy mense beskou jou werk as ‘n REGTE werk? Of dink hul jy drink heeldag tee en lees storieboeke (wat natuurlik vir ‘n skrywer noodsaaklike navorsing is!)
Wat is die voordele?
Wat is die nadele?
Enige wenke vir ander wat dit dalk oorweeg?
Hoe lyk ‘n tipiese werksdag?
Laat weet ons, asb!

Waar kry skrywers hul idees en inspirasie?

1. Susan Olivier: Dis ongelooflik hoe ‘n mens se kop werk. Ek kan ‘n koerant lees- selfs ‘n sakeberig – dan ontkiem ‘n idee. Ek lees baie – dis maar deel van my job – koerante, tydskrifte, internet en natuurlik boeke – en gereeld sien ek iemand of iets wat my inspireer om oor haar, hom of die situasie ‘n storie te skryf. Ek het honderde idees (oukei, ek oordryf seker) en het nou al ‘n boekie waarin ek die neerskryf , want ek is geneig om een gedagte met ‘n ander te vervang en die ander een dan te vergeet.

2. Annetjie van Tonder: Ek is ’n vreeslike dromer en dagdroom baie. My storie idees kry ek baie keer as ek onder die stort is, dan sal ’n gedagte sommer by my opkom, en dan probeer ek dit in my kop hou tot dit mettertyd uitkring na meer. Soms word ek in die nag wakker met ’n idee en moet dan dadelik opspring en dit gaan neerskryf, anders het ek dit die volgende oggend vergeet. Baie stories kom sommer net, asof uit die onderbewuste, by my aan.

3. Madelie Human: Daar is ‘n storie in elke ding wat jy beleef of sien. Selfs my man kyk nou al met ander oë na die wêreld om hom. Hy het huis toe gekom met ‘n idee wat ek vir my nuwe Romanza gebruik het wat moontlik vroeg volgende jaar sal verskyn. Maar wanneer ek besig is met ‘n boek en nie weet hoe verder nie, gaan slaap ek net. Dis wonderlik hoe ‘n ou se brein aanhou werk aan ‘n ding terwyl jy slaap. My beste idees kry ek in die nag wanneer ek so tussen wakker en slaap is.

4. Marietjie Welgens: Behalwe bogemelde drome, flieks, boeke ensovoorts is daar (veral in my eerste boeke) baie van myself in my boeke. Ek het begin skryf kort na my oorlede man se dood en die skrywery was in ‘n groot mate terapie. Om jou hart uit te skryf in ‘n storie is kortpad na heelword, en waar wil jy beter eerstehandse ondervinding opdoen as in jou eie lewe? Daar loop so ‘n fyn lyn tussen werklikheid en fiksie … Boonop kan my familie nie wag vir die volgende boek om te sien wie se name en watter staaltjies uit ons verlede ek hierdie keer gebruik het nie.

5. Alma Carstens: Karakters kom klim net in my kop en dan begin hulle hul storie vertel. Ek het vir my op die rekenaar ‘n blad opgestel waarin ek al my idees (soms al met die karakters se name) skryf en ‘n kort opsomming van die storie gee sodat ek nie moet vergeet nie. Idees kom van oral … drome, nuus, gebeure om my, ens.

6. Marile Cloete: Ek het al so ver gevorder om my huismense te oortuig dat ek kliphard aan die werk is as ek op my bed le (my rekenaar is ook in my kamer)- want ek is of besig om te LEES of besig om te DINK! Verder het ek nou ‘n verskoning om na hartelus na mooi mans te kyk. As die seuns beweer Ma perve oor die jong mans, dan se ek net ek is besig met ernstige navorsing! ‘n Mens begin kyk inderdaad met nuwe oe na die wereld (en veral die mense) rondom jou. En dit maak die lewe soveel interessanter!

Dagboek van ‘n romanseskrywer

Hierdie is ‘n proefneming. Dalk kan dit vir my as aansporing dien as ek weet mense sien op die internet of ek aan die woeker is – of aan die wroeg omdat ek nie woeker nie! Dit kan miskien vir aspirant-skrywers interessant wees om die pad te sien wat ‘n storie by ‘n skrywer loop. En vir ander skrywers, wat gerus kan aandui waar hulle pad verskil van myne (want dit sal beslis). Verskoon asb. hierdie lang post – die lateres sal natuurlik baie korter wees.

1. Augustus 2010 – besoek ‘n interessante plek en besef ek moet beslis ‘n storie daar laat afspeel.
2.
Terwyl nog daar is wonder ek oor die beroepe van die hoofkarakters. Dis vir my belangrik om te skryf oor iets wat ek baie goed ken, maar ‘n mens kan tog ook nie net elke keer skryf oor die paar beroepe waarvan jy kennis het nie. Ek kyk dus terug oor my vorige romanses en besluit op ‘n beroep wat ek al tevore gebruik het, maar met ‘n ander spesialiseringsgebied.
3. As ‘n mens die held en heldin het, moet jy hulle natuurlik erens saamgooi in ‘n interessante situasie. Op die ou end besluit ek op iets wat redelik na aan die werklikheid is.
4. Intussen wonder ek hoe hulle moet lyk. As ek nie kan sien hoe die mense lyk nie (in my geestesoog), kan ek nie dink wat hulle sal doen nie. Ek kyk terug na my vorige romanses en besef my donkerkophelde was telkens my lekkerste helde (dis nou volgens my – lesers verskil dalk). Die blonde manne het my beslis minder aangespreek – en ons weet die skrywer moet kan verlief raak op haar held, anders kan sy nie die leser op hom laat verlief raak nie. Dit is dus maar weer eens ‘n donker man met donker oe.
Ek kyk terug na my ander stories en besef die meeste heldinne is blond. Ek sit die boeke langs mekaar neer en bekyk die voorblaaie. Dit gaan sekerlik later vervelig word as elke liewe boek ‘n blonde meisie op die voorblad het. Hierdie een moet dus ‘n donkerkop wees. Dit bring my by die vraag of dit goed is om die held en heldin elke keer heeltemal verskillend te laat lyk, of kan dit goed werk as hul redelik eenders lyk?Mettertyd begin ek egter besef hierdie heldin wil nie ‘n vurige donkerkop wees nie. Sy wil ‘n warmbloedige rooikop wees (soos iemand wat ek werklik daar ontmoet het … nudge nudge wink wink …) Na ‘n redelike stryd en prettige gesprek met die persoon gee ek die heldin met vreugde haar sin. Hoe maklik dit vir Lapa gaan wees om ‘n mooi rooikop vir die voorblad te kry, weet ek nie. Maar dis anderdag se worries …
Dis altyd vir my lekker as ‘n karakter sy eie lewe en wil begin kry – maar dit kan seker ‘n maklike verskoning vir swak skrywersbesluite ook wees!!
Hul ouerdom – Ek besluit ook hulle gaan nie so erg jonk wees nie – so erens tussen middel dertig en middel veertig. Weet nog nie lekker of ek dit moet noem of net moet impliseer nie.
5. Intussen wonder ek oor hul karaktertrekke. Tot watter mate kan ‘n mens se helde en heldinne altyd dieselfde sterk- of swakpunte he sonder om vervelig te raak? ‘n Humorsin is bv vir my ontsettend belangrik by ‘n held. Tydens prof Hans se lesing op Potch beklemtoon hy dat ‘n mens jou karakters baie goed moet ken – jy moet baie meer van hulle weet as wat jy vir die leser gaan vertel. Ek maak dus die drie hofies wat hy voorstel en begin dinge neerstip.
Fisiek – hoe lyk hy
Sosiaal – sy geaardheid, wat hy doen, vriende, familie
Psigies – ‘n hangup (maar nie te ernstig nie!)
Prof Hans beklemtoon hoe belangrik dit is dat jou karakters van mekaar moet verskil. Dialoog is ‘n kragtige manier om dit te bereik. En om hul ‘n kenmerkende mannerisme te gee werk ook baie goed. Maar wat? Dit moet iets wees wat jy effektief kan beskryf. En dit moet iets wees wat nie on-sexy is nie! Ek het wel ‘n idee, maar weet nie hoe ek dit beskryf sal kry nie.
6. Toe moet ek besluit op die openingstoneel. Ons weet almal die begin en die einde van ‘n romanse is baie belangrik en ‘n mens wen of verloor lesers daar. Daarby probeer ek altyd die held alreeds in daardie eerste toneel inbring. ‘n Mens wil natuurlik ook agtergrondinligting daar gee, maar ek dink dis ‘n versoeking om te gou te veel te gee en jou leser te verveel. Prof Hans het ook beklemtoon hoe belangrik die karakters se back story is, want daarsonder kan daar nie in die hede iets gebeur nie.
7. Oor die newekarakters het ek nog glad nie sekerheid nie. Ek het wel vir haar ‘n moeilike (en baie jong en hupse) ma gegee. Ek het mettertyd begin besef ek laat in die meeste stories een of albei se ekse op die toneel verskyn. Hierdie slag wil ek dit probeer vermy. Maar dis nogal moeilik! Dis een voordeel wat ouer helde en heldinne bring – daar kan altyd ‘n eks erens in die prentjie kom!
8. Maandag, 6 Sept. 2010 – Ek maak my somme en besluit dat ek teen ongeveer duisend woorde per weeksdag teen die einde van November kan klaar wees. Reg, ek het dus ‘n haalbare doelwit. Ek spring entoesiasties weg en tik my duisend woorde. Die openingstoneel lyk nie vir my te sleg nie. Die held verskyn alreeds in die eerste sin, hy is aantreklik (die beskrywing is kort), daar is dadelik ‘n konneksie van die heldin se kant af.
9. Dins, 7 Sept. – Ek gaan voort met die eerste toneel. Die twee is in mekaar se omgewing en daar is spanning, want sy herken hom maar hy weet niks van haar af nie. Daarby is haar  ma saam met haar op reis en daar is spanning tussen hulle twee. Daar ontstaan ook spanning tussen die held en sy aanstaande skoonmoeder … Ek vorder nog omtrent duisend woorde.
10. Woens, 8 Sept. – ‘n Klein krisis in die huishouding – en ek skryf met groot moeite laat in die dag heelwat minder as duisend woorde. En ek beland op ‘n punt waar iets nou moet GEBEUR om die storie verder te dra … en NIKS gebeur in my kop nie. Ek gaan slaap tamelik moedeloos.
11. Don., 9 Sept. – Terwyl ons die oggend stap vertel ek my man van ‘n liedjie waar die verteller praat van ‘n meisie wat hy tevore in ‘n sekere werelddeel gehad het en na wie hy verlang. Net daar besef ek dis wat my held moet he – hy’s ‘n swerwer en hy het erens iemand agtergelaat.
Terselfdertyd besef ek die storie het spoed verloor omdat ek te vinnig te veel inligting gegee het – ek sal dit moet verander dat sy nie aan die begin besef wie hy is nie.
Intussen is daar mense wat my nodig het en ek skryf die hele dag niks. Toe ek eintlik moet kosmaak, beland ek vir die eerste keer die dag voor die rekenaar. Ek lees oor en besef ek sal moet begin moor. Ek haal ‘n hele paar honderd woorde uit en save hulle op ‘n ander plek, vir ingeval ek hul weer nodig kry. Ek lees oor en besef dit was die regte ding om te doen. En gaan slaap ‘n bietjie minder wanhopig.
12. Vry, 10 Sept. – Ons het namiddag ‘n begrafnis (‘n vriendin se bejaarde pa) en ek weet ek sal moet roer as ek voormiddag iets gedoen wil kry. Ek is dus vroeg-vroeg voor die rekenaar – en hier sit ek, besig om te blog ipv te skryf …

Wil jy romantiese fiksie skryf?

By die onlangse skryfskool vir liefdesverhale het Sophia Kapp (skrywer van wonderlike liefdesromans soos Die tuiskoms en ‘n Nuwe lente) in haar lesing oor verhoudings binne die liefdesverhaal die volgende baie belangrike dinge genoem vir iemand wat dit oorweeg om ‘n romanse of liefdesroman aan te pak:

1.    Jy skryf nie, soos in ander genres, vir jou eie plesier nie, jy skryf vir jou leser se plesier. Jy móét aan haar verwagtings voldoen. As jy nie van hierdie beginsel hou nie en as jy dink dit lê jou kreatiwiteit aan bande, kies ‘n ander genre.

2.      Respekteer jou leser. Sy verdien dit.

3.    Lesers van RF lees nie (net) vir die lekker nie, hulle lees om te ontvlug. Solank as wat vroue die behoefte het om te ontvlug, sal daar ‘n mark wees vir jou manuskrip.

4.      Jy kan nie hierdie soort stories skryf as jy dit nie self lees nie. Dis nie genoeg dat jy 40 jaar gelede ‘n Nan Henning gelees het nie en dis nie genoeg om een Mills & Boon of Romanza te lees en dan weg te val en te skryf nie.