Dagboek van ‘n romanseskrywer

Hierdie is ‘n proefneming. Dalk kan dit vir my as aansporing dien as ek weet mense sien op die internet of ek aan die woeker is – of aan die wroeg omdat ek nie woeker nie! Dit kan miskien vir aspirant-skrywers interessant wees om die pad te sien wat ‘n storie by ‘n skrywer loop. En vir ander skrywers, wat gerus kan aandui waar hulle pad verskil van myne (want dit sal beslis). Verskoon asb. hierdie lang post – die lateres sal natuurlik baie korter wees.

1. Augustus 2010 – besoek ‘n interessante plek en besef ek moet beslis ‘n storie daar laat afspeel.
2.
Terwyl nog daar is wonder ek oor die beroepe van die hoofkarakters. Dis vir my belangrik om te skryf oor iets wat ek baie goed ken, maar ‘n mens kan tog ook nie net elke keer skryf oor die paar beroepe waarvan jy kennis het nie. Ek kyk dus terug oor my vorige romanses en besluit op ‘n beroep wat ek al tevore gebruik het, maar met ‘n ander spesialiseringsgebied.
3. As ‘n mens die held en heldin het, moet jy hulle natuurlik erens saamgooi in ‘n interessante situasie. Op die ou end besluit ek op iets wat redelik na aan die werklikheid is.
4. Intussen wonder ek hoe hulle moet lyk. As ek nie kan sien hoe die mense lyk nie (in my geestesoog), kan ek nie dink wat hulle sal doen nie. Ek kyk terug na my vorige romanses en besef my donkerkophelde was telkens my lekkerste helde (dis nou volgens my – lesers verskil dalk). Die blonde manne het my beslis minder aangespreek – en ons weet die skrywer moet kan verlief raak op haar held, anders kan sy nie die leser op hom laat verlief raak nie. Dit is dus maar weer eens ‘n donker man met donker oe.
Ek kyk terug na my ander stories en besef die meeste heldinne is blond. Ek sit die boeke langs mekaar neer en bekyk die voorblaaie. Dit gaan sekerlik later vervelig word as elke liewe boek ‘n blonde meisie op die voorblad het. Hierdie een moet dus ‘n donkerkop wees. Dit bring my by die vraag of dit goed is om die held en heldin elke keer heeltemal verskillend te laat lyk, of kan dit goed werk as hul redelik eenders lyk?Mettertyd begin ek egter besef hierdie heldin wil nie ‘n vurige donkerkop wees nie. Sy wil ‘n warmbloedige rooikop wees (soos iemand wat ek werklik daar ontmoet het … nudge nudge wink wink …) Na ‘n redelike stryd en prettige gesprek met die persoon gee ek die heldin met vreugde haar sin. Hoe maklik dit vir Lapa gaan wees om ‘n mooi rooikop vir die voorblad te kry, weet ek nie. Maar dis anderdag se worries …
Dis altyd vir my lekker as ‘n karakter sy eie lewe en wil begin kry – maar dit kan seker ‘n maklike verskoning vir swak skrywersbesluite ook wees!!
Hul ouerdom – Ek besluit ook hulle gaan nie so erg jonk wees nie – so erens tussen middel dertig en middel veertig. Weet nog nie lekker of ek dit moet noem of net moet impliseer nie.
5. Intussen wonder ek oor hul karaktertrekke. Tot watter mate kan ‘n mens se helde en heldinne altyd dieselfde sterk- of swakpunte he sonder om vervelig te raak? ‘n Humorsin is bv vir my ontsettend belangrik by ‘n held. Tydens prof Hans se lesing op Potch beklemtoon hy dat ‘n mens jou karakters baie goed moet ken – jy moet baie meer van hulle weet as wat jy vir die leser gaan vertel. Ek maak dus die drie hofies wat hy voorstel en begin dinge neerstip.
Fisiek – hoe lyk hy
Sosiaal – sy geaardheid, wat hy doen, vriende, familie
Psigies – ‘n hangup (maar nie te ernstig nie!)
Prof Hans beklemtoon hoe belangrik dit is dat jou karakters van mekaar moet verskil. Dialoog is ‘n kragtige manier om dit te bereik. En om hul ‘n kenmerkende mannerisme te gee werk ook baie goed. Maar wat? Dit moet iets wees wat jy effektief kan beskryf. En dit moet iets wees wat nie on-sexy is nie! Ek het wel ‘n idee, maar weet nie hoe ek dit beskryf sal kry nie.
6. Toe moet ek besluit op die openingstoneel. Ons weet almal die begin en die einde van ‘n romanse is baie belangrik en ‘n mens wen of verloor lesers daar. Daarby probeer ek altyd die held alreeds in daardie eerste toneel inbring. ‘n Mens wil natuurlik ook agtergrondinligting daar gee, maar ek dink dis ‘n versoeking om te gou te veel te gee en jou leser te verveel. Prof Hans het ook beklemtoon hoe belangrik die karakters se back story is, want daarsonder kan daar nie in die hede iets gebeur nie.
7. Oor die newekarakters het ek nog glad nie sekerheid nie. Ek het wel vir haar ‘n moeilike (en baie jong en hupse) ma gegee. Ek het mettertyd begin besef ek laat in die meeste stories een of albei se ekse op die toneel verskyn. Hierdie slag wil ek dit probeer vermy. Maar dis nogal moeilik! Dis een voordeel wat ouer helde en heldinne bring – daar kan altyd ‘n eks erens in die prentjie kom!
8. Maandag, 6 Sept. 2010 – Ek maak my somme en besluit dat ek teen ongeveer duisend woorde per weeksdag teen die einde van November kan klaar wees. Reg, ek het dus ‘n haalbare doelwit. Ek spring entoesiasties weg en tik my duisend woorde. Die openingstoneel lyk nie vir my te sleg nie. Die held verskyn alreeds in die eerste sin, hy is aantreklik (die beskrywing is kort), daar is dadelik ‘n konneksie van die heldin se kant af.
9. Dins, 7 Sept. – Ek gaan voort met die eerste toneel. Die twee is in mekaar se omgewing en daar is spanning, want sy herken hom maar hy weet niks van haar af nie. Daarby is haar  ma saam met haar op reis en daar is spanning tussen hulle twee. Daar ontstaan ook spanning tussen die held en sy aanstaande skoonmoeder … Ek vorder nog omtrent duisend woorde.
10. Woens, 8 Sept. – ‘n Klein krisis in die huishouding – en ek skryf met groot moeite laat in die dag heelwat minder as duisend woorde. En ek beland op ‘n punt waar iets nou moet GEBEUR om die storie verder te dra … en NIKS gebeur in my kop nie. Ek gaan slaap tamelik moedeloos.
11. Don., 9 Sept. – Terwyl ons die oggend stap vertel ek my man van ‘n liedjie waar die verteller praat van ‘n meisie wat hy tevore in ‘n sekere werelddeel gehad het en na wie hy verlang. Net daar besef ek dis wat my held moet he – hy’s ‘n swerwer en hy het erens iemand agtergelaat.
Terselfdertyd besef ek die storie het spoed verloor omdat ek te vinnig te veel inligting gegee het – ek sal dit moet verander dat sy nie aan die begin besef wie hy is nie.
Intussen is daar mense wat my nodig het en ek skryf die hele dag niks. Toe ek eintlik moet kosmaak, beland ek vir die eerste keer die dag voor die rekenaar. Ek lees oor en besef ek sal moet begin moor. Ek haal ‘n hele paar honderd woorde uit en save hulle op ‘n ander plek, vir ingeval ek hul weer nodig kry. Ek lees oor en besef dit was die regte ding om te doen. En gaan slaap ‘n bietjie minder wanhopig.
12. Vry, 10 Sept. – Ons het namiddag ‘n begrafnis (‘n vriendin se bejaarde pa) en ek weet ek sal moet roer as ek voormiddag iets gedoen wil kry. Ek is dus vroeg-vroeg voor die rekenaar – en hier sit ek, besig om te blog ipv te skryf …

AFLEWERING 2: 18 September

Dis half tien op ‘n Saterdagaand en ek het my doelwit vir die week bereik. ‘n Dag laat, maar darem. En ek kan sweer dit het iets te doen met feit dat ek so gek was om my persoonlike stryde op die internet te begin uitsaai … ‘n Mens het darem jou trots!
Van Maandag tot Woensdag het ek fluks gevorder. Behalwe dat ek soggens te lank gedraai het met allerhande noodsaaklike en minder noodsaaklike dinge wat gedoen moet word, en dan teen die middag eers pootuit voor die rekenaar beland het.
Verlede week se moord op ‘n paar honderd woorde werp nou vrugte af. Daar is meer geleentheid om spanning te laat ontstaan as sy nie so dadelik weet wie hy is nie. Vir my word hy by die dag mooier en interessanter. En ons weet mos, as die held die skrywer se hart kan sag maak, dan is sy pad oop na die leser se hart toe.
Ek besef ek moet oppas dat dit nie storie word van die heldin en haar ma se issues met mekaar nie. Dit kan sekerlik ‘n subtema wees, maar natuurlik moet dit nie die storie van die ontluikende liefde oorheers nie. Daar is ook die moontlikheid dat die heldin kan dink hy raak verlief op haar ma (wat maar so ‘n stuk of vyftien jaar ouer is as hy), maar ek weet nie of dit corny sal klink nie.
As newekarakters duik daar gelukkig twee kollegas van haar op. En bring met hulle saam hul eie vreugdes en pyne en heelwat potensiaal vir konflik en misverstande wat die sentrale liefdesverhouding kan befoeter. Maar ai, ek is so bang vir misverstande – my seuns hou hoeka vol geen intelligente mens kan regtig so onnosel word as hy/sy verlief is nie. Asof hulle nou weet …
Goed, hulle het mekaar raakgeloop, daar is spanning en opwinding in die lug. Maar nou moet daar iets GEBEUR. Prof Hans praat van die spanningslyn as die ruggraat, en elke toneel moet VERBIND wees met daardie ruggraaat, maw dit moet funksioneel wees binne die ontwikkeling van die verhouding. Vir my is dit nogal ‘n moeilike ding, want dit moenie ‘n gebeurtenis wees wat die verhaal gaan oorheers nie, dit moet net die tweetjies ‘n stappie of twee aanhelp. Maar dit moet ook nie onoortuigend wees nie …
Donderdag breek aan, die dag gaan verby en ek tik nie ‘n enkele woord nie. Daar is eenvoudig te veel mense en dinge wat aandag nodig het. Hoe om prioriteite te bepaal? Hoe om aktiwiteite af te skaal sonder om myself van mense af te sny?
Vrydag kom en gaan – nie ‘n enkele woord nie. Maar dink jy ek kan die blogs uitlos? Hoegenaamd nie! Maar dit maak nie saak nie, want dis gesprekke met kollegas wat net nie onder dieselfde dak as ek werk nie. Ek kry my kerk se koerantjie wat ek die afgelope agt jaar of so doen, op die nippertjie ingegee. En bevestig dat ek dit nog net tot Desember gaan doen. En probeer om nie skuldig te voel nie.
Saterdag kom en bring met hom saam die akademiese verslag wat ek Kleinboet belowe het om taalkundig te versorg. Gruwelik oninteressant en totaal bo my vuurmaakplek. Maar ‘n moeder is mos geskape om te wil help, dus worstel ek dapper voort.
Sesuur op die Saterdagaand breek my oomblik aan. Almal is weg op ander sendings, ek sit Springsteen se Hyde Park DVD aan en begin oorlees. Dit neem ‘n volle uur om weer in voeling met die storie te kom. En in my kop is daar nie juis inspirasie nie.
Maar soos altyd help dit om oor te lees en te begin redigeer. Een ding lei tot ‘n ander en stadig, stadig begin die storie loop. Twee en ‘n half uur later pryk daar meer as die beplande aantal woorde op my skerm. Die tweetjies is deeglik bewus van mekaar en daar is potensiaal vir ‘n paar volgende tonele wat die temperature ‘n bietjie kan opstoot.
En ek weet weer hoekom ek niks anders kan doen as skryf nie.

AFLEWERING 3 : 25 September

Ek het my doelwit bereik en elke dag my duisend woorde geskryf. Plus nog ‘n klompie.
Nou hoekom voel ek dan nie wonderlik nie?
Omdat ek vermoed ek is nou by daardie sagging middle. Een derde van die manuskrip is voltooi. Al die karakters is bekendgestel. Daar is rede tot konflik. Hulle is op ‘n interessante plek. Detail oor die omgewing is interessant, maar nie oorheersend nie. (Hoop ek!) Detail oor hul beroepe is interessant, maar nie oorheersend nie. (Hoop ek!!) Die held en die heldin is fluks besig om verlief te raak. En nou? Hoe gemaak dat hulle nie eenvoudig in mekaar se arms val nie???
Ek weet nie!
Dus: Tyd vir selfbeheersing. Ek laat hom rus tot Maandag, probeer om nie te push nie.
Hoop dit help!!!

AFLEWERING 4:  3 Oktober

Die afgelope week was dit elke dag opnuut ‘n stryd net om aan die gang te kom. Ek beproef  elke uitsteltegniek in die boek en daarbuite en mors sodoende ‘n klomp kosbare tyd. Hoekom kan ek nie ook soos ander skrywers ‘n onbedwingbare drang hê om te skryf nie? Nee, ek het ‘n onbedwingbare begeerte om alle ander dinge waaraan ek kan dink, te doen.
En as ek die dag nie geskryf het nie, voel ek die aand soos brommerbollie. Om dus die dag te red, moet ek eenvoudig tot skryf kom. Al is dit ook in die aand wanneer my oë toeval en die inspirasie nul is. Selfs die grootste klomp onsin is beter as niks. Die volgende oggend kan jy altyd begin redigeer – en vermoor.
Wat ek wel al geleer het, is om die vorige dag se deel oor te lees en te begin redigeer wanneer ek nie moed het vir verder gaan met die storie nie. Ongemerk word jy dan weer betrokke by die storie en word dit makliker om weer ‘n entjie te vorder. En as ek net so 500 woorde kan vorder, begin gaan dit gewoonlik darem makliker.
Na die hele week se dapper voortsukkel het die ligpuntjie teen Donderdag (of was dit Vrydag?) gekom – daardie helder oomblik wanneer die storie homself verras, wanneer een van die karakters iets doen of sê wat ek glad nie beplan of verwag het nie. Niemand is meer verbaas as ekself nie. Die oomblik het gekom en met hom saam nuwe moontlikhede gebring wat die storie oor sy moeë middel kan kry. Hopelik.
Dis een van die klein dingetjies wat skryf die moeite en die lyding werd maak.

AFLEWERING 5: 11 Oktober

Dit het die afgelope week maar swaaaar gegaan. Ek het by my beoogde getal woorde (min of meer) gebly, maar die storie wou net nooit lekker op loop gaan nie.
Ons is nou oor die halfpadmerk, so ‘n mens moet eerstens steeds bly waak teen daardie insinking wat so graag in die middel kom. Aan die anker kant moet jy ook begin seker maak jy sal binnekort kan begin drade bymekaar trek. Die einde van ‘n romanse is sekerlik netso belangrik as die begin.
Ek het weer eens geval vir my manier om skielik ‘n idee te kry en dit dan in die middel van die storie sommer net in te bring – daardie gevreesde dumping. Maar nou weet ek om daarvoor te pasop. Na diepe oordenking oor die naweek (en ek het myself met ‘n yserhand weerhou daarvan om te skryf – liewer tyd aan lees bestee) het ek op drie aksies besluit:

  • Maak seker die bronne van interne konflik tussen die tweetjies is goed gemotiveer en word deur die loop van die storie stuk-stuk na vore gebring. En maak seker dis regtig geldige bronne, nie sommer net kleinigheidjies nie.
  • En gaan vang daardie karakter wat jy sommer hier in die middel ingebring het en laat haar/hom vroeër ook al een of twee keer vinnig verskyn of genoem word.
  • En derdens: Vat dit ‘n bietjie kalmer. Dis nie REGTIG nodig dat die manuskrip oormore (by wyse van spreke!) moet klaar wees nie.

AFLEWERING 6:

Die afgelope week het my beker van inspirasie sommer skielik heeltemal leeggeloop. Na diepe nadenke het ek besluit ek maak dalk die pap ‘n bietjie dik aan (is met twee stories besig). Om albei klaar te hê wanneer ek graag wou, is uitvoerbaar vir ‘n masjien wat elke dag ‘n sekere aantal woorde kan tik. Maar nie noodwendig vir ‘n mens wat ook ander dinge in haar lewe het, moeg en moedeloos kan raak of soms doodgewoon lui is  nie. Genoemde spertye is toe summier uitgestel. Maar ek voel nog nie lekker daaroor nie. (Nota aan self: Waak teen perfeksionisme!)
Toe het ons met die heropbou proses begin – in die week summier ‘n handvol Romanzas gelees, ‘n hele paar flieks uitgeneem en die naweek enigiets gelees waarop ek my hande kon lê. Tussenin net ‘n klein entjie voortgegaan met die manuskrip. En heel toevallig het daardie stukkie besonder goed gewerk. Toevallig? Ek glo nie.
Hoop om hierdie week weer ‘n bietjie beter te vorder, maar met minder druk op myself.

AFLEWERING 7:

Verlede week se ruskansie het vrugte afgewerp. Ek kon beter fokus en die storie het heel natuurlik na sy einde toe begin beweeg.
Dit bly vir my ‘n probleem om die balans tussen spontane skryf en die tegniese kyk na die manuskrip te verkry. Soms voel dit asof ‘n mens nou te veel moets en moenies ken en die spontaneïteit van die proses verlore gaan. Die beste raad bly seker steeds om jou eerste weergawe met jou hart te skryf en daarna te begin redigeer. Maar ek voel baie gou dat goedjies wat ek agterna insit, vir my effens onnatuurlik klink, asof die leser sal agterkom dis later ingesit. Ek vind dit ook baie moeilik om sommer net te laat waai met die eerste weergawe. Ek bly maar aan die teruglees en spontaan redigeer, sodat daar wanneer ek dwarsdeur is met die storie net eintlik afronding oorbly. As ek reg onthou, is dit ietwat teenstrydig met wat prof. Hans by die Skryfskool gesê het. Maar ‘n mens moet seker maar die goed kry wat vir JOU werk.
Hopelik kan ons volgende week die tweetjies tevrede in mekaar se arms kry …

AFLEWERING 8:

Ja, die tweetjies is nou veilig in mekaar se arms – the rest is up to them!
Dit laat my weer dink oor die belangrikheid van ‘n gelukkige einde vir die romanse. Lesers van romantiese fiksie wil doodeenvoudig nie ‘n storie lees, aan die karakters geheg raak – en dan sien hoe die skrywer hulle op ‘n ongelukkige tydstip aan hul eie lot oorlaat nie. Mense lees liefdesverhale omdat hulle graag in gelukkige eindes wil glo. Of so dink ek in elk geval. Hoe meer ontnugtering ons dus in die werklike lewe ervaar, hoe groter word ons behoefte aan ‘n veilige ervaring waar ons daardie ontnugtering vir ‘n rukkie kan agterlaat.
Mens wat sê ons skep ‘n vals indruk oor verhoudings, verstaan nie waaroor ‘n romanse presies gaan nie. Die romanse gaan oor die proses van verlief raak – daardie wonderlike, onverstaanbare ervaring wat ‘n doodgewone mens op die wolke laat loop en ongewone dinge laat dink en doen. Die romanse eindig waar die tweetjies commit (is daar ‘n mooier Afrikaanse woord hiervoor?). Nee, ons is nie so naief om te glo alle paartjies gaan vir ewig en ewig gelukkig saamlewe nie. Ons weet hulle gaan binnekort mekaar se klein foutjies begin ontdek. En ‘n rukkie later mekaar se groter foutjies … En hulle gaan trou en hy gaan gou-gou ontdek hy haat grassny, en sy gaan ontdek hy is ‘n man wat snags al die komberse vir homself wil hou … En sy gaan dalk onbeplan swanger raak, terwyl hy aandring om steeds soos in sy studentedae gereeld deurnag saam met sy pelle te kuier.
Nee, ons leef nie in ontkenning nie. Ons weet die lewe is hard en die glans bly nie vir altyd in verliefdes se oë nie. Ons weet eindes is nie altyd perfek nie. Maar ons weet die lewe is propvol perfekte OOMBLIKKE. En dis wat die slot van ‘n romanse wil wees – ‘n gelukkige oomblik, ‘n oomblik waarin die leser (en die skrywer) in die goeie kan glo. ‘n Oomblik wat die leser (en die skrywer) die krag gee om die werklikheid weer kaalhand aan te pak.

AFLEWERING 9 – 25 Nov. 2010:

Ek het ‘n vermoede dit sal nooit maklik raak om jou manuskrip vir die eerste keer aan ‘n leser bloot te stel nie. ‘n Mens se woorde is immers vir jou heilig, hulle kom uit die diepte van jou siel. En ek dink dit geld vir enige soort skrywer – romanse, letterkunde, wetenskap, enigiets. Maar skryfwerk maak nie sin as dit nie gelees word nie en die gevreesde oomblik van blootstelling is dus onvermydelik.
‘n Skrywer is gelukkig as hy ‘n simpatieke eerste leser het, ‘n persoon in wie se hande hy die nuwe baba met vertroue kan gee, met die seker wete daardie baba sal met respek en deernis gehanteer word. Maar die skrywer moet ook weet daardie persoon sal nie huiwer om kritiek te lewer of aanbevelings te maak nie – dis lekker, maar dis vir niemand van veel nut as ‘n manuskrip (of ‘n kind!) net geprys word nie.
Die eerste leser kan enigiemand wees. Ek dink dis net belangrik dat dit iemand moet wees wat die betrokke genre ken en wat dit normaalweg lees. As dit nie die geval is nie, kan ontoepaslike advies ‘n skrywer lekker van die wal in die sloot help.
As jy nog nie ‘n eerste leser of lesers het nie – soek vir jou een! Dit was nog telkens vir my tot voordeel om my manuskrip deur iemand te laat lees nog voor ek dit vir die uitgewer stuur.

AFLEWERING 10 – 3 Desember:

Dis een ding om iemand se voorstelle vir die verbetering van jou manuskrip te hanteer. Dis ‘n ander om werklik sover te kom om daardie voorstelle te aanvaar en toe te pas. Ja, dit klink baie eenvoudig, maar ons moet onthou, daar is ‘n brose skrywersego (is ons almal se ego’s so broos soos myne?) betrokke. En ook ‘n goeie skoot koppigheid.
‘n Mens moet egter onthou jy moet steeds eienaarskap van jou manuskrip behou. Daarom het jy altyd ‘n keuse of jy jou eerste leser se voorstelle gaan aanvaar of nie. Dis jou reg om elke voorstel noukeurig te bekyk en self te besluit wat jy daarmee gaan doen. Die uitdaging is natuurlik om dit te doen sonder dat daardie ego  en koppigheid jou heeltemal pootjie!
Goed, jy het die veranderinge aangebring na goeddunke. Nou kom die volgende stappie. Baie eenvoudig – dit behels net ‘n enkele kliek op die woordjie Send. Maar ‘n baie moeilike oomblik waarby baie aspirant-skrywers nooit uitkom nie. Dit vat moed om jou manuskrip die wye wêreld in te stuur. Want hy kan verwerp word. En ons weet die vrees vir verwerping is moontlik die heel grootste menslike vrees. Want ons skei moeilik onsself van ons skeppings. As jou manuskrip verwerp word, is dit baie moeilik om dit nie as ‘n persoonlike verwerping te ervaar nie.
Reg, nou is hy gestuur. En jy bly sit met ‘n vreemde, leë gevoel daar waar die storie was. En die lang wag begin. Die heel beste raad? Vul daardie leë plek so gou as moontlik met ‘n nuwe storie. Vergeet van die oue, moenie bewustelik wag en die dae tel nie. Dit is in elk geval my ervaring.

AFLEWERING 11 – 22 Desember:

Jou manuskrip is voltooi, hersien en weer hersien en weer hersien, aan ‘n eerste leser (of meer) voorgelê, wéér hersien – en eindelik weggestuur. En nou is jy in een van die heel moeilikste fases van skrywer-wees: Die wagtyd.
Ek is nie ‘n geduldige mens nie. Wag is oor die algemeen vir my een van die moeilike dinge in die lewe. En hierdie soort wag  is ‘n spesiale soort wag – nie onvergelykbaar met vroeër jare se pa’s se lang wag terwyl Vroutjie alleen die baba in die wêreld moet kry nie. Ek kan ongelukkig ook nie juis sê dit word makliker met ervaring nie.
Maar ek kan darem sê dit lyk of ‘n mens geleidelik gewoond kan raak daaraan. Dit word deel van die landskap van jou lewe; dit staan nie meer so hoog uit bo alles soos aan die begin nie.
Die beste raad wat ek kan gee, is om te probeer om nie so BEWUSTELIK te wag nie. Hoe meer ‘n mens daarop konsentreer, hoe stadiger gaan die tyd mos in elk geval verby. Laat die dae maar hul loop neem, vul jou lewe met ander dinge (verkieslik ‘n splinternuwe storie!) en jy sal sien, soms vergeet ‘n mens selfs vir ‘n rukkie dat jy eintlik aan die wag is …
Een klein dingetjie: Dit werk vir my om elke keer spesifiek te vra dat die uitgewer ontvangs moet erken van die manuskrip. Dan is ek seker hy is waar hy moet wees (een keer in ‘n skrikkeljaar loop dinge mos maar skeef met e-posse). Maar dis ook ‘n sielkundige ding, dink ek. Iets te doen met ‘n gevoel van afsluiting (closure) – die baba is nou uit my hande, ek kan heeltemal niks meer aan hom doen nie.
Die harde werklikheid is dat ‘n wagtyd van vyf of ses maande nie ongewoon is nie. Die goeie nuus is dat die tyd wél verbygaan, al is dit teen ‘n slakkepas!

Advertisements

9 comments on “Dagboek van ‘n romanseskrywer

  1. Terug pieng: Dagboek van ‘n romanseskrywer (vervolg) | Marile se blog

  2. Hi Madelie, pleks jy my na hierdie gesellige en insiggewende blog van jou verwys het toe ek jou vandag oor kosmaaktyd sms! Noudat ek die hele proses deur jou oe gesien het, voel ek soveel beter. Dankie! Dis ‘n verligting om te hoor dat ek nie die enigste een is wat met uitstel-tegnieke, ‘sagging’ middels en ‘n Afrikaanse woord vir ‘commitment’ sukkel nie!

  3. Marie-Louise, eintlik is hierdie dagboekskrywery Marile(Alta) Cloete se bydrae tot hierdie blog. Jammer ek het nie gister daaraan gedink om jou hierheen te verwys nie. Het gedink jy lees lankal gereëld wat hier aangaan. Het mos laaaankal vir jou die skakel gestuur. Hoop jou storie vorder flink.

  4. Ek is nuut in skryfkuns en wil net se hierdie is die beste blog op net vir inligting oor hoe om te begin en deur te voer. Baie Dankie.

    Monica Geyser

  5. Dankie vir die blog Madelie! Ek is nog ‘n groentjie wat hard probeer en baie moet leer. Marie-Louise ek het jou by die UNW se Lente skryfskool ontmoet. verlede jaar. Sederdien verober ek jou boeke. Cornelia Greene
    .

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s