Dagboek van ‘n romanseskrywer (6)

Die afgelope week het my beker van inspirasie sommer skielik heeltemal leeggeloop. Na diepe nadenke het ek besluit ek maak dalk die pap ‘n bietjie dik aan (is met twee stories besig). Om albei klaar te hê wanneer ek graag wou, is uitvoerbaar vir ‘n masjien wat elke dag ‘n sekere aantal woorde kan tik. Maar nie noodwendig vir ‘n mens wat ook ander dinge in haar lewe het, moeg en moedeloos kan raak of soms doodgewoon lui is  nie. Genoemde spertye is toe summier uitgestel. Maar ek voel nog nie lekker daaroor nie. (Nota aan self: Waak teen perfeksionisme!)
Toe het ons met die heropbou proses begin – in die week summier ‘n handvol Romanzas gelees, ‘n hele paar flieks uitgeneem en die naweek enigiets gelees waarop ek my hande kon lê. Tussenin net ‘n klein entjie voortgegaan met die manuskrip. En heel toevallig het daardie stukkie besonder goed gewerk. Toevallig? Ek glo nie.
Hoop om hierdie week weer ‘n bietjie beter te vorder, maar met minder druk op myself.

Leer wat jy kan, waar jy kan.

Wanneer mens begin skryf, wil jy jou eie vlerke toets. Jy wil sien waartoe jy self instaat is. Menige aspirantskrywer se loopbaan eindig voordat dit begin het omdat hulle bitter verontwaardig die manuskrip in die asblik gooi na die eerste kritiese terugvoer van ‘n uitgewer.

Die skrywers wat sukses bereik, is egter die wat daardie kritiek gebruik om te leer en weer en weer probeer.

Die kuns lê dus daarin om te leer waar jy kan. Koop vir jou ‘how to’ boeke, bestudeer die werk van ervare skrywers en kyk wat dit is wat hulle doen wat tot jou as leser spreek en maak dat jy hulle boeke koop.

Vertel ons asseblief watter skrywers inspireer jou en wat dit is wat jy by hulle geleer het. Watter boeke het jou gehelp om te slyp aan jou skryfvaardighede?

Wat presies is skryfsukses?

My baie wyse skrywervriendin, Rykie Roux, het onlangs dit vir my gesê:

Wat skryfsukses betref, probeer ek myself herinner dat die reis net so belangrik is soos die bestemming. M a w as ek vandag net een paragraaf kon skryf wat sing soos ’n nagtegaal of een nuwe woord of segwyse vir Afrikaans kon munt, is ek ’n beter skrywer as wat ek gister was. En so sal ek aangaan tot ek doodgaan.”

Wat is skryfsukses vir jou?

Hoeveel openbaar jy van jouself in jou skryfwerk?

Dis seker ‘n vraag wat elke skrywer die een of ander tyd vra. As skrywer sit jy so baie van jouself in jou skryfsels dat jy sekerlik in jou werk weerspieël wie en wat jy is.

Gelukkig kan jy kies wat en hoeveel jy van jouself wil ontbloot of nie. Jy kan dus ‘n goeie voetjie voorsit en net jou goeie kwaliteite toelaat om deur te skemer. Niemand kan jou daarvoor kwalik neem nie, kan hulle?

As jy nou dalkies so ‘n ietsie van jou swart kant openbaar, kan jy altyd sê maar dis jou karakters wat so optree, nie jy nie.

Hoeveel ontbloot jy van jouself in jou werk?

 

Gedagtes van ‘n meester

Die bekende skrywer prof. Hans du Plessis het by vanjaar se Lenteskryfskool vir liefdesverhale weer ‘n paar onvergeetlike lesings gegee. Dit is onmoontlik om al sy wysheid en ervaring hier neer te pen. Wat volg, is enkele losstaande gedagtes wat vir enige aspirant-skrywer tot nut kan wees.

  1. Die karakters se back story is noodsaaklik vir die storie. Daarsonder kan die storie nie begin nie. Alles gaan nie in die boek verskyn nie, maar die skrywer moet weet wat in hulle verlede gebeur het. Die gewone vrae kan die skrywer hier help: Waar, wanneer, wat, hoekom?
  2. Jou geaardheid bepaal HOE jy gaan beplan. Sommige skrywers beplan in detail, ander nie. Almal se proses hoef nie dieselfde te wees nie.
  3. Die spanningslyn van ‘n verhaal is die ruggraat daarvan. Die plot, m.a.w. wat gebeur in die storie, vorm die werwels daarvan. Elke toneel is ‘n werwel. En elke werwel MOET aan die ruggraat vas wees, m.a.w. elke toneel moet meehelp om die storie by sy klimaks uit te bring.
  4. Die skryfproses bestaan uit verskillende dele: inspirasie, beplanning, die skryf van die eerste weergawe (draft) en redigering en oorskryf.
  5. Inspirasie is oral rondom ons. Jy hoef dit nie in die bosse van Borneo te gaan soek nie.
  6. Die beplanning is jou gesprek met jou inspirasie.
  7. Moenie praat oor jou eerste draft nie – hou die storie vir jouself. Skryf hom eers uit jou uit.
  8. Redigeer: Niemand kan ‘n skrywer leer skryf nie, maar jy kan wel leer redigeer.
  9. Emosionele eerlikheid van die skrywer se kant af is noodsaaklik. Dit is ‘n proses wat die skrywer geweldig blootstel, maar ook kan genees.
  10. Die atmosfeer van ‘n boek word geskep deur die tekening van die ruimte. Lang, vervelige beskrywings behou nie die leser se aandag nie. Die skrywer moet leer plop soos ‘n koei! Dit beteken sy los so hier en daar ‘n klein stukkie inligting oor die ruimte, nie ‘n massa op een slag nie.
  11. Die skrywer moet in haar boek, haar karakters en in haarself glo.
  12. Deursettingsvermoë, talent, harde werk en passie is noodsaaklik vir suksesvolle skryfwerk.

Dagboek van ‘n romanseskrywer (5)

Dit het die afgelope week maar swaaaar gegaan. Ek het by my beoogde getal woorde (min of meer) gebly, maar die storie wou net nooit lekker op loop gaan nie.
Ons is nou oor die halfpadmerk, so ‘n mens moet eerstens steeds bly waak teen daardie insinking wat so graag in die middel kom. Aan die anker kant moet jy ook begin seker maak jy sal binnekort kan begin drade bymekaar trek. Die einde van ‘n romanse is sekerlik netso belangrik as die begin.
Ek het weer eens geval vir my manier om skielik ‘n idee te kry en dit dan in die middel van die storie sommer net in te bring – daardie gevreesde dumping. Maar nou weet ek om daarvoor te pasop. Na diepe oordenking oor die naweek (en ek het myself met ‘n yserhand weerhou daarvan om te skryf – liewer tyd aan lees bestee) het ek op drie aksies besluit:

  • Maak seker die bronne van interne konflik tussen die tweetjies is goed gemotiveer en word deur die loop van die storie stuk-stuk na vore gebring. En maak seker dis regtig geldige bronne, nie sommer net kleinigheidjies nie.
  • En gaan vang daardie karakter wat jy sommer hier in die middel ingebring het en laat haar/hom vroeër ook al een of twee keer vinnig verskyn of genoem word.
  • En derdens: Vat dit ‘n bietjie kalmer. Dis nie REGTIG nodig dat die manuskrip oormore (by wyse van spreke!) moet klaar wees nie.

My geliefdes hou nie regtig van my boeke nie!

Ons is almal bevoorreg om geliefdes te hê wat ons ondersteun in ons skryfwerk. Dit is egter nie vanselfsprekend dat ons vriende en familie noodwendig die regte lesers vir ons werk is nie. Hulle weet moontlik niks van die verskillende genres nie (as ons hul nog nie tot vervelens toe vertel het nie!) en is moontlik glad nie lesers van liefdesverhale nie. Of nog erger – glad nie lesers nie. Wanneer hulle dan jou boeke lees, is jy dankbaar – maar ook effens onrustig! Want hulle doen dit omdat hulle vir jou lief is (waarvoor jy dankbaar is!), nie omdat hulle regtig die boek wil lees nie.
Hieruit vloei voort dat ‘n mens soms heeltemal ontoepaslike kommentaar oor jou werk kry. Of raad wat glad nie goeie raad is vir jou loopbaan nie, hoewel dit baie goed bedoel is. Of daardie niksseggende “Dis baie oulik!” wat ek so verpes …
Hoe ondervind jy dit? Laat ons weet, asseblief!

Dagboek van ‘n romanseskrywer (4)

Die afgelope week was dit elke dag opnuut ‘n stryd net om aan die gang te kom. Ek beproef  elke uitsteltegniek in die boek en daarbuite en mors sodoende ‘n klomp kosbare tyd. Hoekom kan ek nie ook soos ander skrywers ‘n onbedwingbare drang hê om te skryf nie? Nee, ek het ‘n onbedwingbare begeerte om alle ander dinge waaraan ek kan dink, te doen.
En as ek die dag nie geskryf het nie, voel ek die aand soos brommerbollie. Om dus die dag te red, moet ek eenvoudig tot skryf kom. Al is dit ook in die aand wanneer my oë toeval en die inspirasie nul is. Selfs die grootste klomp onsin is beter as niks. Die volgende oggend kan jy altyd begin redigeer – en vermoor.
Wat ek wel al geleer het, is om die vorige dag se deel oor te lees en te begin redigeer wanneer ek nie moed het vir verder gaan met die storie nie. Ongemerk word jy dan weer betrokke by die storie en word dit makliker om weer ‘n entjie te vorder. En as ek net so 500 woorde kan vorder, begin gaan dit gewoonlik darem makliker.
Na die hele week se dapper voortsukkel het die ligpuntjie teen Donderdag (of was dit Vrydag?) gekom – daardie helder oomblik wanneer die storie homself verras, wanneer een van die karakters iets doen of sê wat ek glad nie beplan of verwag het nie. Niemand is meer verbaas as ekself nie. Die oomblik het gekom en met hom saam nuwe moontlikhede gebring wat die storie oor sy moeë middel kan kry. Hopelik.
Dis een van die klein dingetjies wat skryf die moeite en die lyding werd maak.

Chanette Paul oor genres

As jy dit nog nie op Litnet raakgesien het nie, gebruik dadelik hierdie skakel om Chanette Paul se gedagtes oor skryf in verskillende genres te lees:

http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=50968

(Onthou, haar post vervolg ook op ‘n tweede bladsy.)