Hoe lyk die ideale romantiese held?

Lees gerus hier wat bekende skrywers van romantiese verhale
oor die ideale held te sê het:
http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Hoe-lyk-Mnr-Perfek-20120204

Advertisements

So leer ‘n mens …

Lenteskool voorlegging

Hierbo is die skakel na my poging by verlede jaar se skryfskool vir liefdesverhale op Potch. As jy daarop kliek, gee dit jou ‘n keuse in watter program jy dit wil oopmaak. Kies PowerPoint, dan sal jy die skuifiereeks kan sien.
Die praatjie was nie bedoel om voorskriftelik te Lees voort

Uit die pen van ‘n kenner

Lees gerus wat Helene de Kock onlangs in Rapport gesê het oor ontspanningsfiksie:

Tolstoy het toeka al gesê daar is net goeie en slegte boeke. Dit geld ontspanningsliteratuur ook.

Wat verstaan mens onder ontspanningsromans? Vroeër is dit goeie gewilde prosa genoem. Deesdae word van genrefiksie gepraat, waaronder verhoudingsromans, liefdesverhale, romanses, spanningsromans.

Uiterste leesbaarheid, meen Tom Gouws, is vir populêre prosa ’n voorvereiste. Dit kan en dit moet ’n storie vertel. ’n Stewige storie ook! Die meesterskrywer Lees voort

Dagboek van ‘n romanseskrywer (14)

Wat om te doen met ‘n mislukte manuskrip – dis geen maklike vraag nie. Want myns insiens moét daar iets gedoen word. Om bloot oor te gee en die ding maar weg te smyt, is nie vir my ‘n opsie nie. Dit ruik darem alte veel na gaan lê. En dit is ‘n ding wat geen skrywer kan bekostig nie. Maar om die regte keuse te maak, is bitter moeilik.
Die ooglopende opsies is natuurlik om die manuskrip te vat en of ‘n romanse of ‘n volwaardige liefdesroman daarvan te maak. Wat Lees voort

Dagboek van ‘n romanseskrywer (13)

Die gevreesde brief van die uitgewer het toe gekom. Ja, hulle kom altyd uiteindelik – al is die wag hóé lank! En dan ontdek jy heel moontlik jy is glad nie bly nie. Want nou moet jy hom oopmaak en lees … Nog een van die vele klein heldedade wat ‘n skrywer moet bemeester voor ‘n boek uiteindelik op sy rak kan staan.
En ja, die vreeslikheid het toe gebeur – die antwoord is NEE. Net om mooi te bewys ‘n skrywer kan nooit ooit op sy louere Lees voort

Dagboek van ‘n romanseskrywer (12)

Die wag word lank. Jy probeer hard om nie bewustelik te wag nie. Maar dit werk nie heeltemal nie. Jy begin droom van daardie brief van die uitgewer. Dis nie aangename drome nie …
Ek dink elke skrywer wonder op ‘n stadium wanneer hy dit kan waag om oor sy manuskrip navraag te doen by die uitgewer. (Philip de Vos het vertel hoe hy na ‘n jaar vir die uitgewer Lees voort

Die liefde: Dis wetenskap én waansin (4)

LIEFDESKAART:

Die bekende seksuoloog, Prof Elna Mc Tosh onderskryf die sielkundige John Money se teorie soos in sy boek Lovemaps vervat, wat die term “liefdeskaart” op onbewuste vlak geskep het om ’n mens se bloudruk vir die volmaakte maat te beskryf.

Hierdie liefdeskaart is die gevolg van vroeë herinneringe en ervarings,  byna soos ’n eggo uit jou kinderjare. Die kaart gaan oor dit wat vir jou op sensuele vlak van belang is en baie daarvan is opgeneem nog voor jy jou verstand behoorlik gekry het – soos bv. ’n lekker geur, mooi haarkleur of uitbundige humorsin.

Begrip van jou liefdeskaart kan tot ’n beter Lees voort

Verskille tussen die romanse en die LR (vervolg)

Chanette Paul het die volgende hieroor geskryf toe sy ‘n jaar of wat gelede Sophia Kapp se  liefdesroman Die tuiskoms entoesiasties vir publikasie aanbeveel het:
ʼn Romanse is bloot dit – die storie van ʼn liefdesverhouding wat tussen ʼn man en ʼn vrou ontwikkel vandat daardie chemiese reaksie wat ons verliefdheid noem vonk vat, en duur tot en met die kulminering van hierdie liefde – sy dit die wedersydse verklaring van die held en heldin se liefde vir mekaar, ʼn huweliksaansoek, die troue of waarheen die storie ook al lei. Dis die soort verhale wat in die Romanza-reeks uitgegee word.
Die liefdesroman strek veel wyer en beweeg ook nader aan lewenswerklikhede. Dit word uitgegee as enkeltitel, dit wil sê nie as deel van ʼn reeks nie. In die liefdesroman Lees voort

Die liefde – dis wetenskap én waansin (1)

Aangesien heelwat lesers van hierdie blog juis oor die verskynsel van die liefde skryf, plaas ek hierdie eerste aflewering deur skrywer Carla van der Spuy. ‘n Verkort weergawe van die artikel het onlangs in By verskyn. Dankie, Carla!

Kan die liefde aan blote toeval toegeskryf word of word die vlamme van passie deur chemie en DNA bestuur? ’n Mens kan wel jou hart verloor, maar wetenskaplikes en navorsers beskryf hierdie kragtige emosie toenemend aan ’n onweerstaanbare “mengeldrankie bestaande uit chemikalieë afkomstig van die brein.” Ja, die liefde is al met elektrisiteit, ‘n weerligstraal, ’n donderslag en dronkenskap vergelyk, ’n toestand waarin elke sel van jou liggaam vir romanse oorgehaal is.
Soos die geval met dwelms is wat die sentrale senuweestelsel stimuleer, veroorsaak die liefde ook euforie, energie en opwinding. Maar die liefde wat tegelykertyd as stresvol en hemels ervaar word met gevoelens wat van sinkend tot fladderend in jou binnegoed wissel, kan ook toksies en verslawend wees en dit kan jou bedwelm, vergiftig en ontmagtig. Dit kan selfs tot akute fisieke pyn en volslae fiksasie met die voorwerp van jou passie lei. En tot tydelike waansin wat deur die huwelik genees word het die Amerikaanse skrywer Ambrose Bierce gesê. Hoe anders verklaar jy die feit dat ’n doodgewone jong man met ’n Griekse god en ’n gewone jong vrou met ’n godin verwar word, wou hy weet.
Volgens Dr Eugene Viljoen,’n kliniese sielkundige en seksuoloog is die liefde ’n subjektiewe gevoel en van die moeilikste emosies om te definieer; die Eskimo’s beskryf sommer 20 verskillende soorte liefde. ‘n Artikel getiteld Love Science: Falling in Love Simply a Matter of Brain Chemisty, lui dat as ons enkellopend is, ons soekend is en die bloudruk verander ons brein dan in ’n radarskerm – voortdurend op soek na die beste passing. Die liefde het al daartoe gelei dat konings abdikeer en in sepies soos Days is onbereikbare liefdes al ontvoer en in hokke in donker kelders toegesluit.
Pure wanhoop.

Verskille tussen die romanse en die liefdesroman (vervolg)

DIE HARDE WERKLIKHEID:
Hoewel die LR steeds romantiese fiksie is, en dus altyd die leser genadig sal wees in die sin dat dit nie die VOLLE aakligheid van die lewe (soos die letterkundige roman) na vore bring nie, bied dit ‘n meer realistiese kyk op die werklikheid as die romanse. Dit behels onder meer dat verhoudinge ingewikkelder sal wees, karakters minder geneig tot geykte optrede, karakters minder beeldskoon en die hoofkarakters nie vlekkeloos (onkreukbaar is mos PG se woord!) soos in die romanse sal wees nie.
LENGTE:
Die groter omvang van die LR word teweeg gebring deur die omvattender uitbeelding van die hoofkarakters, ‘n ingewikkelder plot en meer onvoorspelbare gebeure. Soos in die romanse is herhaling hier ook die ding wat die leser die gouste verveel. Wanneer die karakter dus agterna dink oor ‘n situasie wat alreeds in die verhaal geteken is, is dit dus baie belangrik dat hy/sy ‘n nuwe insig moet kry of op een of ander manier moet groei of iets leer en nie bloot in sy gedagtes moet herhaal wat gebeur het nie. Die gevaar van telling i.p.v. showing raak hier dus ook baie groot, want dis moeiliker om gedagtes te show as te vertel.
TITEL:
Romanses se titels dui gewoonlik op die ligter aard van die genre. Die titel van ‘n LR moet ‘n aanduiding gee dat dit ‘n ander tipe verhaal is.

Verskille tussen die romanse en die LR: Plot

In die romanse weet ons die spanning word volgehou deur die beginsel van die uitgestelde begeerte. Dit alleen is egter (meestal) nie genoeg om die leser by ‘n heelwat dikker boek aan die omblaai te hou nie. Hoewel dit in enige liefdesverhaal belangrik sal wees, speel die ontdekking van die liefde (dus die proses van verlief raak) in die LR nie meer alleen die sentrale rol nie. Daar moet meer dinge (en veral dinge wat werklik vandag in die SA samelewing geld) wees wat die leser laat aanhou omblaai. Dit bring mee dat daar ook sub-plots kan wees, ook ander verhoudings wat verander of groei of selfs tot niet gaan. Terwyl die romanse redelik voorspelbaar moet wees (ons weet mos die lesers weet presies wat hulle wil hê), is heelwat meer spanning, kinkels en verrassings nodig in die LR. Dit is dus nog belangriker dat elke toneel absoluut funksioneel moet wees, moet bydra tot die spanning en moet bydra tot die groei van (veral) die vroulike hoofkarakter.

Verskille tussen die romanse en LR: Karakterisering

Karakters word baie meer volledig getoon in die liefdesroman as in die romanse. Hulle word meer veelkantig en in diepte ontwikkel (ronde karakters). Die persoonlike ontwikkeling van veral die vroulike hoofkarakter is basies netso belangrik as die liefdesverhaal. Dit bring mee dat die ontwikkeling van die verhouding nie so stewig in die sentrum van die storie staan soos by die romanse nie. Die held is nie hier die een wat vir haar die oplossing bring en alles vir haar beter maak nie. Sy is self besig om deur haar probleme te werk, nuwe insigte te kry, ens. en deur die ontwikkeling van die liefde word sy hierin gehelp. Baie meer ruimte word dus aan die vroulike hoofkarakter (LW. sy is nie meer ‘n heldin nie) se ander verhoudings ook gegee en dit word baie meer in diepte ondersoek.

Die soeke en groei van die vroulike hoofkarakter is dus netso belangrik as die ontwikkeling van die liefdesverhouding. Hieruit volg (vir my) dat die manlike hoofkarakter eintlik ‘n effens kleiner rol speel as in die romanse, want hy is nie meer alleen verantwoordelik vir alles wat die heldin beleef nie. (Dit hang natuurlik af of die skrywer verkies om hom ook te laat fokaliseer.) Indien hy ook fokaliseer, moet dit met gereelde tussenposes gebeur, en nie net af en toe nie. Dit is dan ontsettend belangrik dat daar by hom ook ontwikkeling moet plaasvind, dat hy ook as mens moet groei en nie net in die sin dat hy verlief raak op die meisie nie.

Die staatmaker newekarakters van die romanse werk nie so goed in die LR nie. Die gewone (welbedeelde) feeks in die sexy (rooi) klere is nie meer noodwendig nodig nie. ‘n Groter en meer unieke verskeidenheid newekarakters is dus nodig en meer aandag word aan hulle eie binnewêreld en verhoudinge gegee. Newekarakters word vollediger geteken en het ‘n groter invloed veral op die lewe en persoonlike groei van die vroulike hoofkarakter.

Omdat daar meer ruimte is om die karakters beter te ontwikkel, speel hul beroepe ook gewoonlik ‘n groter rol as in die romanse. In die romanse dien die beroepe meestal as interessante agtergrond vir die liefdesverhaal, terwyl dit in die LR staan as integrale deel van die hoofkarakters se lewe en dus ook heeltemal realisties en in meer detail uitgebeeld word.

Onthou die blogroll!

Ons blogroll is besig om in ‘n paradys van nuttige skryfwenke te ontwikkel! Die dag se wenk van die 31 dae verskyn daagliks daarop, maar daar is ook al ‘n hele paar ander nuttige verwysings. Kyk veral na nommers 1 en 21. Wanneer jy met die handjie oor die opskrif hang, verskyn daar ‘n kort Afrikaanse aanduiding waaroor dit gaan. Almal is lekker kort stukkies inligting vir aspirant-skrywers én ervare skrywers en kan help wanneer die inspirasie ‘n bietjie yl raak! Die meeste wenke is toepaslik vir skrywers van ‘n wye verskeidenheid dinge van die romanse, liefdesroman, spanningsroman tot by die skryf vir ‘n blog.

Verskille tussen die romanse en die liefdesroman: Milieu

Ek het in ‘n verklarende woordeboek gaan kyk presies wat onder die term milieu verstaan word: Kring, omgewing, sfeer waarin iemand opgroei en tuis is. Ook: agtergrond, atmosfeer.

In prosa beskryf die term dus die hele konteks waarin die verhaal afspeel, die verbande waarbinne die karakters funksioneer. ‘n Liefdesroman en ‘n romanse kan in dieselfde omgewing afspeel, selfs die hoofkarakters kan dieselfde wees, maar dit sal verskillend uitgebeeld word in die twee genres.

In die liefdesroman word die omgewing absoluut realisties uitgebeeld en die harde werklikheid van die Suid-Afrikaanse (of ander) landskap word nie vermy soos dikwels in die romanse nie. Gewilde romanse-situasies soos die heldin wat alleen in ‘n afgesonderde huisie gaan bly, is dus nie altyd haalbaar nie. Die werklikheid van misdaad, armoede, ens. moet in die LR aangespreek word as dit relevant is vir die verhaal.

Die omgewing en natuur kan in die LR ‘n groter rol speel as in die romanse. In die werklikheid word mense se lewens tot ‘n groot mate bepaal deur die omgewing waarin hulle leef. Die LR bied dus meer moontlikhede om die natuur/agtergrond werklik deel van die storie te maak en nie net die doek waarop die gebeure afspeel nie.

Omdat die LR steeds romantiese fiksie is, sal daar egter altyd ‘n element van hoop wees om die realisme te temper, teenoor die letterkundige roman waar (myns insiens) met die werklikheid in al sy brute aakligheid omgegaan word.

Bogenoemde is my persoonlike gedagtes. Ek hoor graag van iemand wat verskil of saamstem!

Skrywersname? Skuilname?

Vroeër was dit heel algemeen dat letterkundige skrywers ook populêre leesstof onder ‘n skuilnaam geskryf het. Dikwels het lesers van daardie persoon se ontspanningslektuur eers na so ‘n skrywer se dood agtergekom wie hy/sy werklik was, of net ‘n klein groepie was bewus daarvan.
Deesdae word daar meestal nie meer verwys na skuilname nie, maar eerder na skrywersname. Dit gebeur soms dat skrywers verskillende genres onder verskillende name publiseer, net om dit vir die lesers makliker te maak. ‘n Persoon kan byvoorbeeld kinderboeke, kortverhale en romans onder drie verskillende name skryf. Al weet die leser ook al drie hierdie name verteenwoordig dieselfde persoon, weet hy dan presies wat hy gaan kry as hy ‘n boek onder ‘n sekere naam oopmaak.
Skrywers van populêre leesstof het egter ook dikwels hul eie redes waarom hulle van ‘n skrywersnaam gebruik maak, wat meestal verband hou met die persepsie van ‘n sekere naam by die publiek. Netsoos vermaaklikheidskunstenaars se name nie altyd geskik is as verhoogname nie, klink alle name ook nie so gepas vir bv. ‘n liefdesverhaalskrywer nie. Skrywersname is dan dikwels net ‘n klein aanpassing van die regte naam, wat net makliker op die oor val.

Dinge wat sukses bevorder

Die volgende het ek gedurende die afgelope jaar uit my life-coaching kursus (New Insights) gekry en my eie gedagtes, spesifiek op skryf gerig, bygevoeg:
1. Owning the self-image of a success.
Sien jouself as ‘n suksesvolle skrywer.
2. Feeling a strong purpose for reaching a goal.
Vertel jouself elke dag hoekom dit vir jou welsyn so belangrik is om te skryf.
3. Imagining success even before it happens.
Dink gereeld aan daardie lekker gevoel (warm, fuzzy feeling!) as jy ‘n gepubliseerde boek in jou hand hou. As jy dit nog nie ervaar het nie – span jou verbeelding in!
4. Continual mental focus on the benefits of reaching your goal.
Dink daagliks aan al die positiewe gevolge van jou skryfwerk.
5. Belief in your abilities—confidence.
Sê daagliks vir jouself jy glo in jouself. Sê dit met oortuiging!
6. Taking appropriate goal achieving actions; getting things done.
Sorg dat jy wel skryf op die dae waarop jy besluit het, al is dit net ‘n paar woorde.
7. Looking for and finding enjoyment/happiness in goal-related actions.
Lees daagliks en doen admin gereeld. Vir my persoonlik beteken dit ook my betrokkenheid by ‘n verskeidenheid blogs.
8. Openness to learning the lessons in all failures and successes (knowing there are lessons).
Herhaal dinge wat jy al geleer het, vir jouself. En pas toe!
9. Seeing mistakes and setbacks as normal, solvable.
Vergeet teleurstellings van verlede, tackle die nuwe uitdagings.
10. Recognizing and appreciating what you gain from each success.
Konsentreer op suksesse.
11. Being genuinely proud of what you’ve accomplished.
Wees in alle nederigheid trots op alles wat jy al bereik het.

Dagboek van ‘n romanseskrywer (11)

Jou manuskrip is voltooi, hersien en weer hersien en weer hersien, aan ‘n eerste leser (of meer) voorgelê, wéér hersien – en eindelik weggestuur. En nou is jy in een van die heel moeilikste fases van skrywer-wees: Die wagtyd.
Ek is nie ‘n geduldige mens nie. Wag is oor die algemeen vir my een van die moeilike dinge in die lewe. En hierdie soort wag  is ‘n spesiale soort wag – nie onvergelykbaar met vroeër jare se pa’s se lang wag terwyl Vroutjie alleen die baba in die wêreld moet kry nie. Ek kan ongelukkig ook nie juis sê dit word makliker met ervaring nie.
Maar ek kan darem sê dit lyk of ‘n mens geleidelik gewoond kan raak daaraan. Dit word deel van die landskap van jou lewe; dit staan nie meer so hoog uit bo alles soos aan die begin nie.
Die beste raad wat ek kan gee, is om te probeer om nie so BEWUSTELIK te wag nie. Hoe meer ‘n mens daarop konsentreer, hoe stadiger gaan die tyd mos in elk geval verby. Laat die dae maar hul loop neem, vul jou lewe met ander dinge (verkieslik ‘n splinternuwe storie!) en jy sal sien, soms vergeet ‘n mens selfs vir ‘n rukkie dat jy eintlik aan die wag is …
Een klein dingetjie: Dit werk vir my om elke keer spesifiek te vra dat die uitgewer ontvangs moet erken van die manuskrip. Dan is ek seker hy is waar hy moet wees (een keer in ‘n skrikkeljaar loop dinge mos maar skeef met e-posse). Maar dis ook ‘n sielkundige ding, dink ek. Iets te doen met ‘n gevoel van afsluiting (closure) – die baba is nou uit my hande, ek kan heeltemal niks meer aan hom doen nie.
Die harde werklikheid is dat ‘n wagtyd van vyf of ses maande nie ongewoon is nie. Die goeie nuus is dat die tyd wél verbygaan, al is dit teen ‘n slakkepas!

Dagboek van ‘n romanseskrywer (10)

Dis een ding om iemand se voorstelle vir die verbetering van jou manuskrip te hanteer. Dis ‘n ander om werklik sover te kom om daardie voorstelle te aanvaar en toe te pas. Ja, dit klink baie eenvoudig, maar ons moet onthou, daar is ‘n brose skrywersego (is ons almal se ego’s so broos soos myne?) betrokke. En ook ‘n goeie skoot koppigheid.
‘n Mens moet egter onthou jy moet steeds eienaarskap van jou manuskrip behou. Daarom het jy altyd ‘n keuse of jy jou eerste leser se voorstelle gaan aanvaar of nie. Dis jou reg om elke voorstel noukeurig te bekyk en self te besluit wat jy daarmee gaan doen. Die uitdaging is natuurlik om dit te doen sonder dat daardie ego  en koppigheid jou heeltemal pootjie!
Goed, jy het die veranderinge aangebring na goeddunke. Nou kom die volgende stappie. Baie eenvoudig – dit behels net ‘n enkele kliek op die woordjie Send. Maar ‘n baie moeilike oomblik waarby baie aspirant-skrywers nooit uitkom nie. Dit vat moed om jou manuskrip die wye wêreld in te stuur. Want hy kan verwerp word. En ons weet die vrees vir verwerping is moontlik die heel grootste menslike vrees. Want ons skei moeilik onsself van ons skeppings. As jou manuskrip verwerp word, is dit baie moeilik om dit nie as ‘n persoonlike verwerping te ervaar nie.
Reg, nou is hy gestuur. En jy bly sit met ‘n vreemde, leë gevoel daar waar die storie was. En die lang wag begin. Die heel beste raad? Vul daardie leë plek so gou as moontlik met ‘n nuwe storie. Vergeet van die oue, moenie bewustelik wag en die dae tel nie. Dit is in elk geval my ervaring.

Gedagtes van ‘n meester

Die bekende skrywer prof. Hans du Plessis het by vanjaar se Lenteskryfskool vir liefdesverhale weer ‘n paar onvergeetlike lesings gegee. Dit is onmoontlik om al sy wysheid en ervaring hier neer te pen. Wat volg, is enkele losstaande gedagtes wat vir enige aspirant-skrywer tot nut kan wees.

  1. Die karakters se back story is noodsaaklik vir die storie. Daarsonder kan die storie nie begin nie. Alles gaan nie in die boek verskyn nie, maar die skrywer moet weet wat in hulle verlede gebeur het. Die gewone vrae kan die skrywer hier help: Waar, wanneer, wat, hoekom?
  2. Jou geaardheid bepaal HOE jy gaan beplan. Sommige skrywers beplan in detail, ander nie. Almal se proses hoef nie dieselfde te wees nie.
  3. Die spanningslyn van ‘n verhaal is die ruggraat daarvan. Die plot, m.a.w. wat gebeur in die storie, vorm die werwels daarvan. Elke toneel is ‘n werwel. En elke werwel MOET aan die ruggraat vas wees, m.a.w. elke toneel moet meehelp om die storie by sy klimaks uit te bring.
  4. Die skryfproses bestaan uit verskillende dele: inspirasie, beplanning, die skryf van die eerste weergawe (draft) en redigering en oorskryf.
  5. Inspirasie is oral rondom ons. Jy hoef dit nie in die bosse van Borneo te gaan soek nie.
  6. Die beplanning is jou gesprek met jou inspirasie.
  7. Moenie praat oor jou eerste draft nie – hou die storie vir jouself. Skryf hom eers uit jou uit.
  8. Redigeer: Niemand kan ‘n skrywer leer skryf nie, maar jy kan wel leer redigeer.
  9. Emosionele eerlikheid van die skrywer se kant af is noodsaaklik. Dit is ‘n proses wat die skrywer geweldig blootstel, maar ook kan genees.
  10. Die atmosfeer van ‘n boek word geskep deur die tekening van die ruimte. Lang, vervelige beskrywings behou nie die leser se aandag nie. Die skrywer moet leer plop soos ‘n koei! Dit beteken sy los so hier en daar ‘n klein stukkie inligting oor die ruimte, nie ‘n massa op een slag nie.
  11. Die skrywer moet in haar boek, haar karakters en in haarself glo.
  12. Deursettingsvermoë, talent, harde werk en passie is noodsaaklik vir suksesvolle skryfwerk.

My geliefdes hou nie regtig van my boeke nie!

Ons is almal bevoorreg om geliefdes te hê wat ons ondersteun in ons skryfwerk. Dit is egter nie vanselfsprekend dat ons vriende en familie noodwendig die regte lesers vir ons werk is nie. Hulle weet moontlik niks van die verskillende genres nie (as ons hul nog nie tot vervelens toe vertel het nie!) en is moontlik glad nie lesers van liefdesverhale nie. Of nog erger – glad nie lesers nie. Wanneer hulle dan jou boeke lees, is jy dankbaar – maar ook effens onrustig! Want hulle doen dit omdat hulle vir jou lief is (waarvoor jy dankbaar is!), nie omdat hulle regtig die boek wil lees nie.
Hieruit vloei voort dat ‘n mens soms heeltemal ontoepaslike kommentaar oor jou werk kry. Of raad wat glad nie goeie raad is vir jou loopbaan nie, hoewel dit baie goed bedoel is. Of daardie niksseggende “Dis baie oulik!” wat ek so verpes …
Hoe ondervind jy dit? Laat ons weet, asseblief!

Dagboek van ‘n romanseskrywer (4)

Die afgelope week was dit elke dag opnuut ‘n stryd net om aan die gang te kom. Ek beproef  elke uitsteltegniek in die boek en daarbuite en mors sodoende ‘n klomp kosbare tyd. Hoekom kan ek nie ook soos ander skrywers ‘n onbedwingbare drang hê om te skryf nie? Nee, ek het ‘n onbedwingbare begeerte om alle ander dinge waaraan ek kan dink, te doen.
En as ek die dag nie geskryf het nie, voel ek die aand soos brommerbollie. Om dus die dag te red, moet ek eenvoudig tot skryf kom. Al is dit ook in die aand wanneer my oë toeval en die inspirasie nul is. Selfs die grootste klomp onsin is beter as niks. Die volgende oggend kan jy altyd begin redigeer – en vermoor.
Wat ek wel al geleer het, is om die vorige dag se deel oor te lees en te begin redigeer wanneer ek nie moed het vir verder gaan met die storie nie. Ongemerk word jy dan weer betrokke by die storie en word dit makliker om weer ‘n entjie te vorder. En as ek net so 500 woorde kan vorder, begin gaan dit gewoonlik darem makliker.
Na die hele week se dapper voortsukkel het die ligpuntjie teen Donderdag (of was dit Vrydag?) gekom – daardie helder oomblik wanneer die storie homself verras, wanneer een van die karakters iets doen of sê wat ek glad nie beplan of verwag het nie. Niemand is meer verbaas as ekself nie. Die oomblik het gekom en met hom saam nuwe moontlikhede gebring wat die storie oor sy moeë middel kan kry. Hopelik.
Dis een van die klein dingetjies wat skryf die moeite en die lyding werd maak.

Dagboek van ‘n romanseskrywer

Hierdie is ‘n proefneming. Dalk kan dit vir my as aansporing dien as ek weet mense sien op die internet of ek aan die woeker is – of aan die wroeg omdat ek nie woeker nie! Dit kan miskien vir aspirant-skrywers interessant wees om die pad te sien wat ‘n storie by ‘n skrywer loop. En vir ander skrywers, wat gerus kan aandui waar hulle pad verskil van myne (want dit sal beslis). Verskoon asb. hierdie lang post – die lateres sal natuurlik baie korter wees.

1. Augustus 2010 – besoek ‘n interessante plek en besef ek moet beslis ‘n storie daar laat afspeel.
2.
Terwyl nog daar is wonder ek oor die beroepe van die hoofkarakters. Dis vir my belangrik om te skryf oor iets wat ek baie goed ken, maar ‘n mens kan tog ook nie net elke keer skryf oor die paar beroepe waarvan jy kennis het nie. Ek kyk dus terug oor my vorige romanses en besluit op ‘n beroep wat ek al tevore gebruik het, maar met ‘n ander spesialiseringsgebied.
3. As ‘n mens die held en heldin het, moet jy hulle natuurlik erens saamgooi in ‘n interessante situasie. Op die ou end besluit ek op iets wat redelik na aan die werklikheid is.
4. Intussen wonder ek hoe hulle moet lyk. As ek nie kan sien hoe die mense lyk nie (in my geestesoog), kan ek nie dink wat hulle sal doen nie. Ek kyk terug na my vorige romanses en besef my donkerkophelde was telkens my lekkerste helde (dis nou volgens my – lesers verskil dalk). Die blonde manne het my beslis minder aangespreek – en ons weet die skrywer moet kan verlief raak op haar held, anders kan sy nie die leser op hom laat verlief raak nie. Dit is dus maar weer eens ‘n donker man met donker oe.
Ek kyk terug na my ander stories en besef die meeste heldinne is blond. Ek sit die boeke langs mekaar neer en bekyk die voorblaaie. Dit gaan sekerlik later vervelig word as elke liewe boek ‘n blonde meisie op die voorblad het. Hierdie een moet dus ‘n donkerkop wees. Dit bring my by die vraag of dit goed is om die held en heldin elke keer heeltemal verskillend te laat lyk, of kan dit goed werk as hul redelik eenders lyk?Mettertyd begin ek egter besef hierdie heldin wil nie ‘n vurige donkerkop wees nie. Sy wil ‘n warmbloedige rooikop wees (soos iemand wat ek werklik daar ontmoet het … nudge nudge wink wink …) Na ‘n redelike stryd en prettige gesprek met die persoon gee ek die heldin met vreugde haar sin. Hoe maklik dit vir Lapa gaan wees om ‘n mooi rooikop vir die voorblad te kry, weet ek nie. Maar dis anderdag se worries …
Dis altyd vir my lekker as ‘n karakter sy eie lewe en wil begin kry – maar dit kan seker ‘n maklike verskoning vir swak skrywersbesluite ook wees!!
Hul ouerdom – Ek besluit ook hulle gaan nie so erg jonk wees nie – so erens tussen middel dertig en middel veertig. Weet nog nie lekker of ek dit moet noem of net moet impliseer nie.
5. Intussen wonder ek oor hul karaktertrekke. Tot watter mate kan ‘n mens se helde en heldinne altyd dieselfde sterk- of swakpunte he sonder om vervelig te raak? ‘n Humorsin is bv vir my ontsettend belangrik by ‘n held. Tydens prof Hans se lesing op Potch beklemtoon hy dat ‘n mens jou karakters baie goed moet ken – jy moet baie meer van hulle weet as wat jy vir die leser gaan vertel. Ek maak dus die drie hofies wat hy voorstel en begin dinge neerstip.
Fisiek – hoe lyk hy
Sosiaal – sy geaardheid, wat hy doen, vriende, familie
Psigies – ‘n hangup (maar nie te ernstig nie!)
Prof Hans beklemtoon hoe belangrik dit is dat jou karakters van mekaar moet verskil. Dialoog is ‘n kragtige manier om dit te bereik. En om hul ‘n kenmerkende mannerisme te gee werk ook baie goed. Maar wat? Dit moet iets wees wat jy effektief kan beskryf. En dit moet iets wees wat nie on-sexy is nie! Ek het wel ‘n idee, maar weet nie hoe ek dit beskryf sal kry nie.
6. Toe moet ek besluit op die openingstoneel. Ons weet almal die begin en die einde van ‘n romanse is baie belangrik en ‘n mens wen of verloor lesers daar. Daarby probeer ek altyd die held alreeds in daardie eerste toneel inbring. ‘n Mens wil natuurlik ook agtergrondinligting daar gee, maar ek dink dis ‘n versoeking om te gou te veel te gee en jou leser te verveel. Prof Hans het ook beklemtoon hoe belangrik die karakters se back story is, want daarsonder kan daar nie in die hede iets gebeur nie.
7. Oor die newekarakters het ek nog glad nie sekerheid nie. Ek het wel vir haar ‘n moeilike (en baie jong en hupse) ma gegee. Ek het mettertyd begin besef ek laat in die meeste stories een of albei se ekse op die toneel verskyn. Hierdie slag wil ek dit probeer vermy. Maar dis nogal moeilik! Dis een voordeel wat ouer helde en heldinne bring – daar kan altyd ‘n eks erens in die prentjie kom!
8. Maandag, 6 Sept. 2010 – Ek maak my somme en besluit dat ek teen ongeveer duisend woorde per weeksdag teen die einde van November kan klaar wees. Reg, ek het dus ‘n haalbare doelwit. Ek spring entoesiasties weg en tik my duisend woorde. Die openingstoneel lyk nie vir my te sleg nie. Die held verskyn alreeds in die eerste sin, hy is aantreklik (die beskrywing is kort), daar is dadelik ‘n konneksie van die heldin se kant af.
9. Dins, 7 Sept. – Ek gaan voort met die eerste toneel. Die twee is in mekaar se omgewing en daar is spanning, want sy herken hom maar hy weet niks van haar af nie. Daarby is haar  ma saam met haar op reis en daar is spanning tussen hulle twee. Daar ontstaan ook spanning tussen die held en sy aanstaande skoonmoeder … Ek vorder nog omtrent duisend woorde.
10. Woens, 8 Sept. – ‘n Klein krisis in die huishouding – en ek skryf met groot moeite laat in die dag heelwat minder as duisend woorde. En ek beland op ‘n punt waar iets nou moet GEBEUR om die storie verder te dra … en NIKS gebeur in my kop nie. Ek gaan slaap tamelik moedeloos.
11. Don., 9 Sept. – Terwyl ons die oggend stap vertel ek my man van ‘n liedjie waar die verteller praat van ‘n meisie wat hy tevore in ‘n sekere werelddeel gehad het en na wie hy verlang. Net daar besef ek dis wat my held moet he – hy’s ‘n swerwer en hy het erens iemand agtergelaat.
Terselfdertyd besef ek die storie het spoed verloor omdat ek te vinnig te veel inligting gegee het – ek sal dit moet verander dat sy nie aan die begin besef wie hy is nie.
Intussen is daar mense wat my nodig het en ek skryf die hele dag niks. Toe ek eintlik moet kosmaak, beland ek vir die eerste keer die dag voor die rekenaar. Ek lees oor en besef ek sal moet begin moor. Ek haal ‘n hele paar honderd woorde uit en save hulle op ‘n ander plek, vir ingeval ek hul weer nodig kry. Ek lees oor en besef dit was die regte ding om te doen. En gaan slaap ‘n bietjie minder wanhopig.
12. Vry, 10 Sept. – Ons het namiddag ‘n begrafnis (‘n vriendin se bejaarde pa) en ek weet ek sal moet roer as ek voormiddag iets gedoen wil kry. Ek is dus vroeg-vroeg voor die rekenaar – en hier sit ek, besig om te blog ipv te skryf …

Lus vir ‘n hamburger?

Hier is ‘n opsomming van die hamburger-tegniek wat ons by die skyfkursus bespreek het. Dis baie nuttig as ‘n model vir opbouende kritiek vir enigiets (boeke, flieks, enigiets) en werk ook goed as ‘n metode om ‘n brief met ‘n klagte so te motiveer dat die ontvanger nie die harnas in gejaag word nie.

Sien die broodjie weerskante van die vleis as positiewe input. Die vleis is dan die (opbouende) kritiek wat jy oor die betrokke saak het. Jou bespreking begin dus met ‘n paar positiewe punte, beweeg dan aan na ‘n paar negatiewe punte (wat jy op ‘n positiewe, opbouende manier formuleer) en sluit dan weer af met ‘n paar positiewe gedagtes.

Hierdie metode maak dit makliker vir die uitdeler en die ontvanger van kritiek. Dis ook ‘n goeie manier om in die gewone lewe enige netelige kwessie met iemand op te haal.

Welkom alle aspirant-skrywers!

Hiermee ‘n spesiale welkom aan al die wonderlike kreatiewe mense wat vandag (Don. 10 Junie) se skryfkursus vir liefdesverhale by Lapa se Kaapse kantoor in die Tygerberg Waterfront bygewoon het. Julle het ons verstom met jul entoesiasme en kreatiwiteit.

Daar het wonderlike idees na vore gekom, ‘n hele klomp fantastiese helde en heldinne het uit die praktiese oefeninge na vore getree. En die twee dapper manne wat dit gewaag het tussen die klomp vrouens, het dit gate uit geniet!

Ons hoop julle – en enige voornemende of gevestigde skrywer – gaan nog dikwels hier kom kuier, jul vrae stel en jul wyshede deel!

(En ja, Marile Cloete is eintlik Alta Cloete – en sy is nie heeltemal so mooi soos haar hond nie!)

‘n Moet-lees vir romanseskrywers

Die heel nuttigste boek wat ek as romanseskrywer op my rak het, is Writing a romance novel for dummies. Soos al die Dummy-boeke is dit verstaanbaar en prakties – baie maklik om stuk-stuk te lees soos jy dit nodig kry.
Contents at a glance:
1.   Welcome to the world of romance writing
2.   Laying the foundation: The building blocks of a great romance
3.   Putting pen to paper
4.   Putting it all together: Mechanics count, too
5.   Submitting your manuscript – and making the sale!
6.   The part of tens (ten plots, ten tips for the perfect title, ten common writing mistakes, ten reasons why a ms gets rejected, ten ways to beat writer’s block, ten Q’s every romance writer should ask herself)