Mans wat liefdesverhale lees

Oor die algemeen sal ‘n man kaalvoet oor ‘n witwarm plaat kole loop eerder as om ‘n ‘softie’ of ‘n ‘sissie’ genoem te word. Ongelukkig sal ‘n voorliefde vir die lees van liefdesverhale hom een van daai neerhalende benaminge op die hals haal.

Ons het die afgelope week ‘n baie interessante en insiggewende gesprek gehad met so ‘n man wat dapper genoeg is om openlik (of so lyk dit) te erken dat hy ‘n romanse kan geniet en lustig daaraan lees. (Klik op ‘Kom gesels saam’ en kyk wat  sê hy daar)

Komaan, julle manne, laat hoor gerus van julle. Ons wil weet wat dit is wat jy geniet. Wat het gemaak dat jy die eerste een optel en wat het jy so geniet dat jy dit weer en weer sal doen?

Vertel, seblief!  Jou ‘geheim’ is veilig by ons! Jy kan mos ‘n skuilnaam gebruik as jy wil!

Terugblik: Hoekom word daar neergesien op romanses?

“Ek skaam my dood om by ‘n winkel of ‘n biblioteek in te stap en te vra vir ‘n romanse,” het ‘n buurvrou eendag verontwaardig van haar laat hoor toe ek haar vra of sy die genre lees.

Ek, met ‘n tikkie verontwaardiging van my eie, wou toe weet: “Hoekom sou jy jou skaam daaroor?”

“Maar … ons lees mos darem beter dinge as dit …” antwoord sy toe Lees voort

Hygroman vs. Romanse

Daar word heel dikwels in die media na die romanse as die ‘hygroman’ verwys. Dis ‘n neerhalende term wat deur oningeligtes uitgedink is – onoorspronklik en slegs ‘n nabootsing van die Engelse term ‘boddice ripper’.

Die Romanza reeks waarvoor ek skryf, kan beslis nie as sulks beskou word nie. Ons het weliswaar ook bygehou met die tye en ons romanses sluit ook deesdae soms meer intense liefdestonele in, maar nie noodwendig in elke boek nie en dis ook nie naastenby so eksplisiet as in die boeke van ons Britse en Amerikaanse kollegas nie.

Die moderne, gesofistikeerde leser verwag darem nie meer van ons om die verliefde paartjie voor die kamerdeur te laat omdraai nie. Sy verkies ‘n liefdestoneel wat in goeie smaak uitgevoer is. Dit is vir enige romanseskrywer ‘n uitdaging en soms nie maklik nie.

Die verhaal en die karakters self bepaal of die skrywer ‘n liefdestoneel gaan invoeg of nie. Soms is ‘n liefdestoneel noodsaaklik omdat dit tog die kulminasie van die romantiese liefde tussen man en vrou is en soms sal dit heel oorbodig en onnodig wees, veral as die heldin ‘n onskuldige meisie is. Ons by Romanza voeg dit ook nie in as die paartjie nie reeds emosioneel betrokke is en ook verbonde aan mekaar in ‘n langtermynverhouding is nie. Seks ter wille van die sensasiewaarde daarvan is uit wat ons aanbetref.

Die grootste uitdaging vir elke romanseskrywer is om haar leser se tone behoorlik te laat krul van pure lekker terwyl sy saam met die heldin van die verhaal op die held verlief raak. As sy dan nou ‘n klein bietjie uitasem raak in die proses, het die skrywer mos uitstekend in haar doel geslaag!

Terugblik: Wanneer jy ‘n romanse lees …

  • Veroorsaak dit ‘n chemiese reaksie in jou brein wat jou goed laat voel
  • Verlig dit stres op ‘n natuurlike manier
  • Ervaar jy ‘n gevoel van emosionele versorging omdat die held die heldin se diepste behoeftes verstaan
  • Kry jy insig in jou eie verhoudingsprobleme

En Het jy geweet:

  • Dit dra by tot die vrou se bemagtigingsproses omdat die heldin ‘n vrou in eie reg is
  • Die romanseleser is die mees belese leser in die wêreld. Hulle is sterk, intelligente en kreatiewe vroue wat presies weet wat hulle wil hê.
  • Sielkundiges stem saam dat die romanseleser warm, vriendelik en sensueel is.
  • Daar is omtrent 2% mans wat romanses  lees. Slim mans!