My geliefdes hou nie regtig van my boeke nie!

Ons is almal bevoorreg om geliefdes te hê wat ons ondersteun in ons skryfwerk. Dit is egter nie vanselfsprekend dat ons vriende en familie noodwendig die regte lesers vir ons werk is nie. Hulle weet moontlik niks van die verskillende genres nie (as ons hul nog nie tot vervelens toe vertel het nie!) en is moontlik glad nie lesers van liefdesverhale nie. Of nog erger – glad nie lesers nie. Wanneer hulle dan jou boeke lees, is jy dankbaar – maar ook effens onrustig! Want hulle doen dit omdat hulle vir jou lief is (waarvoor jy dankbaar is!), nie omdat hulle regtig die boek wil lees nie.
Hieruit vloei voort dat ‘n mens soms heeltemal ontoepaslike kommentaar oor jou werk kry. Of raad wat glad nie goeie raad is vir jou loopbaan nie, hoewel dit baie goed bedoel is. Of daardie niksseggende “Dis baie oulik!” wat ek so verpes …
Hoe ondervind jy dit? Laat ons weet, asseblief!

Advertisements

7 comments on “My geliefdes hou nie regtig van my boeke nie!

  1. Nou raak jy ‘n baie teer puntjie aan. Die meeste mense wat kritiek te lewer het, weet niks van die genre af nie, en ek gee nie om om hulle reg te help nie, maar veel erger nog is die kritiek deur mense wat gladnie lees nie.

    Ek loop op die oomblik lekker deur by ons kerk se tannies wat agter hulle hande praat oor die vrou wat van ‘daardie’ boeke skryf. (Ons is in ‘n wonderlike plaasgemeente in ‘n tipiese boeregemeenskap met baie diep gewortelde vooroordele stewig in plek.) Dis einste húlle wat nog nie eens een van my boeke gelees het nie – hulle gooi net klippe en praat agter die voorbokke aan. Die feit dat die liefdestonele in my boeke selde meer as twee paragrawe beslaan en dat meer as die helfte van my boeke gladnie eens liefdestonele in het nie, kan hulle ook nie een bloue duit skeel nie.

    Die beste is natuurlik om hulle te ignoreer, maar dis makliker gesê as gedoen as dit die mense is wat jy om elke hoek en draai mee te doene kry.

    • Madelie, ek is nie ‘n bekende skrywer nie, maar ek woon saam met my skoonma wat 73 jaar oud is. Sy verslind alle Romanzas waarop sy haar hande kan le en ons giggel al, want hoe wilder die voorblad is, hoe vinniger raap sy die boek op. Sy lees al vandat sy ‘n kind is liefdesverhale en sy sal jou gou se ‘n boek is oudtyds as dit nie tred hou met die moderne samelewing nie.

      Ek is seker die dames wat so kritiseer het in elk geval elke liewe boek van jou gelees en dit geweldig geniet, maar is nou vasgevang in die ‘hype’ wat een suurknol veroorsaak het. Soos jy meld, dit is seker beter om hulle te ignoreer, maar ai, mens wil hulle so graag reghelp.

      • Yolande, jy laat my sommer beter voel! Jy hoef nie noodwendig ‘n skrywer te wees om hier saam te gesels nie, hoor. Ons is altyd bly om van lesers te hoor. Ons het ‘n spesiale blog daarvoor. Gaan loer gerus wat daar aangaan en sê seblief ook daar jou sê. http://www.romanzalesers.wordpress.com

        Bly om te hoor jy en jou ma lees ons boeke. Ja, dis seker beter as mens sulke kritiek kan ignoreer, maar ai, ons bly maar menslik!

  2. Dis nogal vir my ‘n probleem dat niemand wat ek ken eintlik kans sien om vir my opbouende kritiek te gee nie. As hulle daarvan gehou het, sê hulle dit, maar andersins bly hulle net stil. In daardie geval neem ek dan aan hulle het nie daarvan gehou nie. Maar ‘n rede hoor ek nooit.

  3. ‘Oulik’ is so goed soos ‘n doodskoot, julle is heeltemal reg. DAMNING WITH FAINT PRAISE, inderdaad. Dan moet hulle liewer niks sê nie, Marile. Erken hulle nie juis daarmee dat hulle nie die kennis of vernuf het om werklik te kritiseer nie, opbouend of nie?

  4. Ek dink ook (of dalk probeer ek myself net troos) dat baie mense nie gewoond is daaraan om ‘n boek verder te bespreek as om net te sê jy het daarvan gehou of nie daarvan gehou nie. Dalk het ons daar ‘n taak om mense te help om op ‘n opbouende manier kommentaar te lewer. Of dalk droom ek …

  5. Ek is hier eens met julle. Ek sou verkies dat die familie liewer eerlik en reguit sê as hulle nie daarvan hou nie, as om daardie veraf uitdrukking in die oë te kry of so ‘n verleë laggie, voordat die onderwerp subtiel of minder subtiel verander word. Sê liewer reguit as jy nie die boek gelees het nie of nie van Romanzas hou nie, maar moet seblief nie agter ander mense aanpraat nie. Dit maak my lam van moedeloosheid.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s