Hoeveel openbaar jy van jouself in jou skryfwerk?

Dis seker ‘n vraag wat elke skrywer die een of ander tyd vra. As skrywer sit jy so baie van jouself in jou skryfsels dat jy sekerlik in jou werk weerspieël wie en wat jy is.

Gelukkig kan jy kies wat en hoeveel jy van jouself wil ontbloot of nie. Jy kan dus ‘n goeie voetjie voorsit en net jou goeie kwaliteite toelaat om deur te skemer. Niemand kan jou daarvoor kwalik neem nie, kan hulle?

As jy nou dalkies so ‘n ietsie van jou swart kant openbaar, kan jy altyd sê maar dis jou karakters wat so optree, nie jy nie.

Hoeveel ontbloot jy van jouself in jou werk?

 

Advertisements

12 comments on “Hoeveel openbaar jy van jouself in jou skryfwerk?

  1. Ek dink ‘n skrywer openbaar soms veel meer van homself as wat hy self besef. Netsoos ‘n mens in die gewone lewe ook deur jou optrede heelwat van jouself openbaar.

  2. Marile, ek stem saam met jou. Selfs al is die karakters in my boeke baie verskillend van my, is daar wel in elkeen so ‘n bietjie (meestal ‘n baie klein bietjie) van my. Ek dink ons as skrywers ontbloot dele van onsself nie net deur ons karakters nie, maar ook deur die styl en woordeskat wat ons gebruik, asook die tipe konflik en karakterontwikkeling wat ons kies.

  3. Miskien is dit hoekom ek knaend slae kry oor my heldinne nie ‘sterk’ genoeg is nie … want ek is so ‘n ou ‘softie’!!

    Ja, sonder dat jy weet, of dit bewustelik doen, openbaar jy sekerlik baie van jouself. Selfs deur die keuse van name vir jou karakters vertel jy ‘n ietsie van jouself.

    ‘n Skrywer wat byvoorbeeld haar boeke op eksotiese plekke laat afspeel, hunker sekerlik in haarself om op daardie plekke te wees.

    ‘n Skrywer wat passie goed kan uitbeeld, kan ‘n persoon met ‘n passievolle geaardheid wees. Iemand wat weer in haar alledaagse lewe baie ‘prim en proper’ is, sal ook haar karakters so laat optree, nie waar nie?

  4. Lesers het al vir my gesê dat hulle my plek-plek in my boeke kan “sien”. Gelukkig het hul my darem nog nie met een van die goggas in my boeke vergelyk nie! Marile is reg, gaan lees jou eie boek met aandag en jy sal self sien hoeveel jy van jou openbaar eintlik sommer so onwetend.

  5. Die ander kant van die prentjie is ook waar. As jy as persoon baie skugter en skaam is, kan jou heldin parmantig en bekkig wees.
    As jou kosvoorkere byvoorbeeld seekos uitsluit, mag jou hoofkarakter weglê aan ’n sappige kreefstert.
    Maar, dit is waar dat mens soms situasies gebruik wat al met jou gebeur het. As skrywer benut ’n mens jou talent as waarnemer … beskryf en berg jy tonele wat om jou gebeur, net om dit later in ’n boek weer te gee.

  6. Wel, ek het definitief in my romanse wat oor onderwysers gegaan het, die heldin toegelaat om die skoolhoof al die bekkige antwoorde te gee wat ek in die werklike lewe baie graag sou wou doen!

  7. Ek moet erken een van my vriendinne sê sy kan my duidelik HOOR in my romanses, en ek kan nie met haar stry nie. Soos julle almal hier bo gesê het, gee mens noodwendig baie oor (en van) jouself weg in jou karakters, veral in die heldin. Ek vermoed ek skep heldinne soos wat ek graag sou wou wees en verswyg meestal my swak eienskappe (of probeer dit ten minste doen). Dalk is my vroulike newekarakters meer soos ek werklik is? Na watter kant mens ookal redeneer: jy IS in daardie boek, want dis jou woorde, jou verbeelding, JOU HARDE WERK. As jy nie daar is nie, het jy nie uit jou hart geskryf nie, en dis tog maar hoe romanseskrywers tiek. Of misgis ek my?

  8. Ek glo nie Bets. Ek moes al so baie hoor, net soos jy, dat wanneer mense my boeke lees, hulle my letterlik kan hoor praat. En al probeer ek hoe hard, kry ek dit nie reg om iets anders te projekteer nie. Dit klink nou baie snaaks. Wat ek bedoel is dat my heldin bekkig kan wees, net om te hoor hoe baie sy soos ek praat. Ek is nie bekkig nie, maar ek geniet dit om karakters te skep wat niemand oor kan loop nie, omdat ek so maklik toegee. Dus is die ander kant ook waar. Skryf is ‘n fantasiewêreld waar jy die karakters se lewe manipuleer en miskien jou drome kan uitleef. So voel dit vir my.

  9. Mense sê dit vir my ook. En ek weet nie of dit goed of sleg is nie, want hulle moet mos eintlik die hoofkarakter se stem hoor, nie myne nie!

  10. Weet julle, ek het al baie gedink dat ek julle manier van doen al so goed leer ken het hierdie afgelope jaar, dat, al sou jou naam en foto nie by jou comment verskyn nie, ek sal weet wie aan die woord is net deur dit te lees. Dis hoeveel mens van jouself deur jou woorde openbaar!!

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s