Leer wat jy kan, waar jy kan.

Wanneer mens begin skryf, wil jy jou eie vlerke toets. Jy wil sien waartoe jy self instaat is. Menige aspirantskrywer se loopbaan eindig voordat dit begin het omdat hulle bitter verontwaardig die manuskrip in die asblik gooi na die eerste kritiese terugvoer van ‘n uitgewer.

Die skrywers wat sukses bereik, is egter die wat daardie kritiek gebruik om te leer en weer en weer probeer.

Die kuns lê dus daarin om te leer waar jy kan. Koop vir jou ‘how to’ boeke, bestudeer die werk van ervare skrywers en kyk wat dit is wat hulle doen wat tot jou as leser spreek en maak dat jy hulle boeke koop.

Vertel ons asseblief watter skrywers inspireer jou en wat dit is wat jy by hulle geleer het. Watter boeke het jou gehelp om te slyp aan jou skryfvaardighede?

6 comments on “Leer wat jy kan, waar jy kan.

  1. Die heel belangrikste ding wat ‘n beginnerskrywer vir hom/haarself kan doen, is om voordat jy nog begin, uit te vind wat die uitgewers soek !!

    Ek sien die frustrasie van aspirantskrywers wat oral op die internet hul lot bekla omdat uitgewers nie in hul werk belangstel nie en dan gryp hulle na die opsie om self uit te gee, net om ‘n eie boek in die hand te kan hou. Erger nog, hulle plaas hul skryfsels op die internet en hoop om sodoende positiewe terugvoer te kry. Daardie terugvoer is egter nie noodwendig van mense wat weet waarvan hulle praat nie, al is dit hoe lekker om te hoor dat iemand jou skryfsels geniet.

    Die eerste struikelblok na selfpublikasie is dan om hul boeke te bemark en verkoop te kry. As daardie skrywers in die eerste plek uitgevind het presies waarna uitgewers soek in die genre waarin hulle wil skryf, kon hulle as ingeligtes dalk werk gelewer het wat byval vind en aanvaar kon word vir publikasie.

    Hoe vind jy hierdie dinge uit?

    Alle uitgewers het hul voorkeure op skrif en gee nie om om dit vir jou te stuur nie. Sommiges plaas dit op hul webwerwe waar dit maklik bekombaar is.

    Lees ook die publikasies van debuutskrywers, dan kry jy gewoonlik ‘n goeie idee van wat uitgewers wil hê. ‘n Eerste boek word slegs aanvaar as dit presies aan die vereistes voldoen. Dit mag vreemd klink, maar meer ervare skrywers kom gewoonlik weg met ‘n mate van verbuiging van die reëls en is nie noodwendig ‘n goeie voorbeeld vir jou as beginner nie.

    Laastens: Lees soveel as wat jy jou hande op kan lê van die genre waarin jy wil skryf. Kyk eers hoe word dit gedoen voordat jy heengaan en maande se harde werk daarin sit!!

    • Ek dink dis meer ‘n kwessie van verskillende uitgewers wat die klem op verskillende aspekte lê, maw elkeen het ‘n unieke tipe boek (of probeer dit hê) wat hulle uitgee.

  2. Dis net vir reekse ontspanningsleesstof waar daar definitiewe riglyne bestaan, maar uitgewers het almal besliste voorkeure en afkeure, selfs met kinderboeke. ‘n Skrywer kan oneindig baie tyd en frustrasie bespaar deur net so ‘n bietjie huiswerk te doen voordat jy maande lank werk aan iets wat die merk net-net mis.

  3. Ek wil baie baie graag skryf was jare terug by ‘n skryfskool deur die pos, maar het nooit verder gegaan nie, my lewe was te besig, wil nou graag weer skryf, kan julle my help met raad, ek kan nie by skryfskole aansluit nie, want dis te duur vir my. Asb, ek sal hulp baie wardeer, kan ek julle kontak en waarnatoe kan ek my werk e-mail vir raad. Vriendelike Groete

    • Ina, soos ons hier bo gesê het, die beste is om uit te vind wat uitgewers wil hê en dan te waag en te probeer. Gaan na die uitgewers se webwerwe toe. Daar is altyd ‘n afdeling waar hulle voorkeure vir die indien van manuskripte uitgespel is. Klik op ‘Manuskripvoorlegging’ en lees wat sê hulle daar. Probeer die volgende skakel: http://www.lapa.co.za

Wat dink jy??