Die romanseskrywer en die held in haar storie.

Hoe kry die skrywer dit reg om ‘n held te skep op wie die leser heerlik saam met die heldin verlief kan raak terwyl sy die storie lees?

Sy skep ‘n man op wie sy sélf verlief kan raak!

‘n Klompie jaar gelede was dit die stil, sterk, effens baasspelerige tipe wat vroue laat swymel het. Hy het die heldin kom red van wat dit ookal was wat in haar pad na geluk gestaan het. Hy het al haar probleme kom oplos en sou vir die res van haar lewe vir haar sorg terwyl sy sy huishouding bestuur en sy kinders grootmaak … en natuurlik sy bed warm hou.

Vandag is hy steeds ‘n sterk man, maar in plaas van oorheersend, is hy eerder sensitief vir die heldin se gevoelens en behoeftes en hy vul haar aan, laat haar toe om tot haar volle potensiaal te ontwikkel. Hy is so seker van sy eie manlikheid dat hy haar toelaat om selfstandig en selfversorgend te wees terwyl hy ‘n lewenslange vennootskap met haar aangaan. ‘n Vennootskap waar sy die ma van sy kinders gaan wees, maar nie nodig sal hê om ‘n eie loopbaan prys te gee daarvoor nie. Hulle twee neem saam die huishouding waar en maak saam die kinders groot … en hy hou dikwels die bed vir háár warm!

Romanseskrywers, vertel bietjie hoe maak jy om ‘n ‘drop dead gorgeous hunk’ te skep wat die lesers se tone laat krul?

6 comments on “Die romanseskrywer en die held in haar storie.

  1. Drop dead gorgeous? Ek weet darem nie. Ek probeer wel om ‘n held te skep waarop ek self verlief sou kon raak, soos die bloginskrywing sê, want mens moet darem met die man kan uithou vir die volle weke/ maande wat dit neem om die storie klaar te skryf. Maar ‘n gorgeous man? Ek vertrou hulle eenvoudig nie. Die held in my stories is verkieslik nie ‘beautiful’ nie. Wel sexy en aantreklik en karaktervol, en bo-al manlik met ‘n stem wat jou kan hipnotiseer. Soms deur die wind en verstrooid. Soms bevooroordeeld teen vroumense. Maar altyd eerbaar en hopelik eerlik! Ek hoop maar die held werk vir die leser ook. Ek het nog net eenmaal ‘n klagte gehad, en dit was omdat die held die heldin ‘Nooi’ genoem het. Ek het dit nog nooit weer gedoen nie!

    • Beauty is in the eye of the beholder …

      Wat vir my gorgeous is, is nie noodwendig vir jou of my suster so nie. So, vir my is die geheim om die held so te beskryf dat die meeste vroue van hom sal hou.

      A tall order? You bet!

      • Baie maklik: Ek kyk na my twee seuns en na my geliefde Springsteen (en besluit in watter dekade van sy lang loopbaan ek hom wil sien) – en sit dan die beste van hulle plus my dierbare man se goeie eienskappe daarby. (En een klein “foutjie”). En siedaar – ‘n lang donker man met integriteit, humorsin en ‘n sterk werksetiek.
        Daarom seker ook hoekom my blonde helde nog nooit vir my so goed gewerk het nie! 🙂

  2. Hm, dis waar wat julle sê. Die uiterlike beskrywing is eintlik nie deurslaggewend nie. Mens moet die man net só beskryf dat dit die leser se verbeelding aan die gang sit om haar eie idee van drop-dead-gorgeous te gebruik. En miskien werk jou blonde helde nie so goed nie, omdat die blonde manne wat jy ken dalk nie die karaktertrekke het wat jy in jou held soek nie, Marile!

  3. Dit is ongetwyfeld ‘n baie subjektiewe ding, hierdie. Daardie man wat my hart ‘n paar kloppings laat mis, gaan tien teen een iemand anders glad nie inspireer tot dagdrome nie. Maar… ek dink daar is ‘n paar faktore wat ons as vrouens in ons manne soek. Madelie, jy’s reg. Jare gelede was dit die donker, vat-geen-nonsens, dominerende man wat koning gekraai het in die boeke en flieks.
    Nou? Ek sou se dat vandag se vrou soek ‘n man wat sterk is: sterk opinies het, sterk morele standaarde, sterk etiese waardes, sterk passie, sterk persoonlikheid, en natuurlik sterk spiere! Die verskil is dalk dat ons nie meer wil he dat mans ons moet oorweldig en ons lewens oorneem nie. Al daardie sexy krag wat in hulle vibreer wil ons he as ons ondersteuning in die realisering van ons eie drome.
    Dit is eerder die bogenoemde wat my inspireer om helde te skep – nie noodwendig donker of blond hare nie. Dit is die geheimsinnigheid in die blou oe, eerder as die blou oe, wat ons trek.

Lewer kommentaar op Bets Smith Kanselleer antwoord