Terugblik: Hoekom word daar neergesien op romanses?

“Ek skaam my dood om by ‘n winkel of ‘n biblioteek in te stap en te vra vir ‘n romanse,” het ‘n buurvrou eendag verontwaardig van haar laat hoor toe ek haar vra of sy die genre lees.

Ek, met ‘n tikkie verontwaardiging van my eie, wou toe weet: “Hoekom sou jy jou skaam daaroor?”

“Maar … ons lees mos darem beter dinge as dit …” antwoord sy toe met ‘n bietjie minder oortuiging.

“En wat sou dit wees?” vra ek doodluiters.

“Wel, ek lees graag outobiografieë,” rek sy die laaste woord so effens om dit darem meer belangrik te laat klink.

Ek moes bitter hard sluk aan ‘n giggel, want oombliklik sien ek toe voor my die ‘biegboekies’ oor die skandes en sekskapades van al die gevalle sporthelde, politici en hul vroue wat die afgelope klompie jare uitgegee is as outobiografieë. Goeie leesstof, inderdaad …

Ons hoor dikwels van vroue wat ons boeke skelm moet lees en dit dan wegsteek onder tydskrifte sodat ander mense nie moet sien wat hulle nou eintlik geniet om te lees nie.

Ek reken dis bitter pretensieus om jou vriende te probeer beïndruk met wat jy lees eerder as om bloot dit te lees wat jy geniet en wat jou goed laat voel!

12 comments on “Terugblik: Hoekom word daar neergesien op romanses?

  1. Dieselfde soos mense wat die Huisgenoot en die TV Plus wegsteek onder Garden&Home.

    Ons Elite se biegboekies is ook maar niks anders as ‘n liefdesverhaal nie, net meer versteurd. Die Elite wag nog vir hulle ‘happily ever after’.

    Ek steek veel eerder my Huisgenoot weg onder my Romanza-boekies…

  2. Vir ‘n goeie twingtig jaar het ek omtrent net romans gelees en dit geniet ook. In die verre verlede het ek dit as sulks beskryf:

    Romans

    Ek beskou myself vandag nie verhewe bo ‘n roman nie, maar ek lees deesdae die “swaarder” boeke. Ek is so agter met my leeslys, ek moet spook om in te haal. Tog pas ‘n roman gemaklik in as jy net ‘n uur of twee het om te verwyl.

    • Xena, jou kommentaar is baie geldig vir die Afrikaanse stories waarmee ‘n paar geslagte Afrikaanse vrouens grootgeword het. Gelukkig het baie intussen verander! Probeer gerus ‘n Romanza, net vir die studie. Deesdae se heldinne is sterk, selfstandige vroue, die helde kan meer as tien woorde praat en het selfs ‘n sagte kant, dinge bly nie noodwendig net meer by ‘n kuise soentjie nie …

    • Xena, ek merk dat jy soos baie ander mense nie die verskil tussen ‘n roman (novel)en ‘n romanse (romance) heeltemal verstaan nie. Die ‘swaarder’ leesstof waarvan jy praat, is in werklikheid romans. Lees gerus die radio onderhoud (klik hier regs bo op die opskrif ‘Radio onderhoud met Thaba Stereo’) waar ek die verskil mooi verduidelik. Moenie sleg voel nie, daar is selfs skrywers wat dit nie mooi kan onderskei nie. Dankie vir jou geselsies hier. Dis vir my lekker dat jy weer kom inloer het.

  3. Ek moet ongelukkig bieg dat ek nog nie een van die Romanza boekies gelees het nie!
    Hi julle.
    Ek het op skool altyd die romankeur se boeke gelees. Ek het my ma en pa se bib kaartjies ook sommer ingespan en dan met enige iets tussen 8 en 11 boeke gewoonlik daar uitgeloop. Nita Griesel, Susanna M. Lingua, Ena Murray en nog vele meer was my gunstelinge. 😉
    Toe skakel ek oor na Engelse boeke. Daar was niks fout met die gehalte van die afrikaanse boeke nie – ek het net na stories gesoek wat my langer as ‘n uur en ‘n half besig gehou het.
    Ek het nou onlangs maar eers weer regtig afrikaans begin lees. Dit lyk my ek sal my litte moet roer en so ‘n paar van die Romanza boekies moet aanskaf – enige goeie skrywers daartussen of dalk julle gunsteling boeke wat julle kan aanbeveel?

    • Lelani, ek glo jy het die pad geloop van baie Afrikaanssprekendes, maar gelukkig het die Afrikaanse ontspanningslektuur die afgelope klompie jare geweldig ontwikkel. Jy sal jouself ‘n guns doen om Romanza en ook ‘n paar ander liefdesromanskrywers se werk te lees. Besoek ons gerus op ons lesersblog by: http://www.romanzalesers.wordpress.com
      en klik op enige skrywer se naam vir meer besonderhede oor haar boeke.

      Ek gaan sowaar nie kan uitsonderings maak om sekere skrywers aan te beveel nie – die meeste van hulle is uitstekend en dit sal onregverdig van my wees om net party aan te beveel. (Hulle sal my nooit vergewe nie!!) Ek belowe jou jy sal aangenaam verras wees.

  4. Lelani, ek verstaan heeltemal dat Madelie nie skrywers kan aanbeveel nie. Almal van hulle se boeke is lekker-lees boeke. Maar ek wil myself tog verstout en sê koop een van Madelie se boeke! Haar boeke is altyd bevredigend.

    Jy sal nie spyt wees as jy aangesluit het by die Romanza-klub nie. Dis bekostigbaar en jy sal vinnig jou eie gunsteling skrywers leer ken. Ook persoonlik leer ken op die lesersblog

Lewer kommentaar op Marile Cloete Kanselleer antwoord