Die binneversiering van die skrywer se werkplek

Wat is die belangrikste dinge in ’n skrywer se werkplek?

Ek sien op Facebook het die Boekrakkers van die Lekkerlees Boekrak almal foto’s van hul werkplekke geplaas. Al wat leef koekeloer nou of hulle iets op daardie uitstekende skrywer se lessenaar sal kan opmerk wat, as hulle dit sou nadoen, dit vir hulle net dalkies so ’n bietjie van daardie glorie sal bring. Baie groot skrywers poseer agter op hulle boeke in hul studeerkamers waar die groot meesterstukke gebeur. Jy gryp ’n vergrootglas en kyk of jy kan sien presies watter naslaanwerke daar op die boekrak agter die lessenaar is wat jou dalk kan help om ook soos hulle te kan skryf.

Dis egter nie die indrukwekkende studeerkamer of die rakke vol goeie naslaanwerke en die beste tegnologie tot jou beskikking wat eendag van jou ’n puik skrywer gaan maak nie, dis iets heel anders.

Jy benodig die volgende:

Die vermoë van VASBYT.

Enige skrywer wat al die pad geloop het, sal jou kan vertel dat moed opgee na die eerste briefie wat jou manuskrip wegwys eenvoudig nie ’n opsie is nie. Stephen King vertel in sy boek ‘On Writing’ dat hy ’n hele versameling sulke briefies het! Natuurlik maak so ’n brief seer en jy gaan letterlike deur die hele proses van rou voordat jy jouself weer kan afstof en aangaan en oor begin. Dis doodnatuurlik en heeltemal menslik. Die belangrikste ding is dat jy wel opstaan en weer probeer!

’n Laai vol NEDERIGHEID:

As jy dink dat alle skrywers ’n lewe van roem en glorie beleef, maak jy ’n yslike fout. Die skrywer is veel eerder uitgelewer aan die felle kritiek van elke iedere een wat die alfabet op skool geleer het. Hulle dink hulle het die reg en die kennis in pag om jou werk uitmekaar te trek en te kritiseer en skroom nie om dit uit te saai nie. Wat jy nou nodig het, is om op jou tong te byt, agter jou einste Facebook-gepubliseerde lessenaar stelling in te neem en met nederigheid jou hakskene oormekaar te haak en jou ding te doen.

Megabondels MEELEWING:

Elke skrywer wat begin moet nog al hierdie dinge leer en wie is nou beter as jy wat reeds daardeur is om daardie ou se hand te vat, te help en aan te moedig? Ons weet almal skryf is ’n eensame werk en in jou alleenheid is dit maklik om moedeloos te raak en dalk boedel oor te gee. Sluit dus aan by ’n kritiekgroep of skrywersforum waar jy kontak het met medeskrywers, waar jy ondersteuning kan kry en selfs dalk ook ’n bydrae kan maak deur ’n beginner moed in te praat.

Papiergewigte van PROFESSIONALISME:

Dis maklik om ná daardie slegte verslag van ’n uitgewer of keurder baie te sê te hê oor daardie ou wat jou kwansuis so uitmekaargetrek en te na gekom het. Ja, die opinie van daardie keurder is slegs die opinie van een persoon en jy kan dus maar jou manuskrip vir ’n ander uitgewer aanstuur en weer deur die senutergende proses van wag en sien worstel. Of jy kan introspeksie doen, die dinge uit die verslag neem wat wel vir jou sin maak en jou manuskrip verbeter voordat jy dit herindien. Die geheim is om uit elke verslag dit te neem wat jou werk kan verbeter en jou as professionele skrywer ontwikkel.

Lêers vol LOJALITEIT:

Jy is ’n skrywer omdat lees vir jou so lekker is. Onthou jy lank gelede toe jy die vreugde van die lees van ’n goeie boek ontdek het? Toe jy agtergekom het hoe lekker dit is om jouself tussen die bladsye van ’n boek te verloor? Onthou jy hoe jy na die foto van die skrywer agter op die boek gestaar het en gewens het dat dit jy kon wees? Ek het onlangs iewers gelees dat meer as 80% Amerikaners erken dat hulle graag skrywers sou wou wees.  Jou lesers voel dalk dieselfde. Onthou dit wanneer ’n entoesiastiese leser jou uitvra oor jou werk of vriende wil maak op Facebook. As dit nie vir jou lesers was nie, sou jou skryfwerk van nul en gener waarde wees nie.

Beautiful  BINNEVERSIERING:

Dis dus nie die binneversiering van jou skryfhoekie of studeerkamer wat van jou ’n skrywer van formaat maak nie, maar jou eie binneversiering. Jou skryfwerk reflekteer tog wie en wat jy is. Laat jou eie, pragtige/handsome sigselwers deurskemer en jy kan nie verloor nie!!

Advertisements

6 comments on “Die binneversiering van die skrywer se werkplek

  1. Madelie, jy sê dit alles so mooi met woorde. Jy slaan die spyker op die kop. Dankie vir jou gereëlde insette op hierdie blog. Ek dink ons klomp wat nog steeds aan die probeer skryf is, word gereëld geinspireer om nie moed op te gee nie. Baie geluk met jou volgende boek wat in September verskyn. Hoe gaan dit met die nuwe genre? Hoe vorder jy?

    • Sukses in een genre beteken nie noodwendig sukses in ‘n ander een nie. Ek leer ook weer heel van voor af!! Dis wat skryf so wonderlik maak. Daar is altyd iets nuuts om by te leer. Ek is dus saam met jou aan die sukkel … 😉

      • Baie sterkte! Ek weet jy sal ‘n sukses daarvan maak. Ek het nou nie meer tieners nie, maar gaan wel eendag tiener kleinkinders hê, so ek gaan beslis ‘n boek of twee vir my aanskaf.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s