Wat laat jou tone krul van lekker lees?

‘n Skryfvriendin het onlangs vir my gesê haar grootste probleem is om nuwe interessante temas en agtergronde vir haar romanses uit te dink. Idees vir stories is oral rondom ons en dis nie te moeilik om nuwe stories uit te dink nie, maar is jou storie so dat dit jou lesers se tone laat krul van pure lekkerkry?

Ons wil bitter graag van lesers hoor wat hulle laat sug van lekkerte wanneer hulle ‘n boek neersit en wat maak dat jy aanhou omblaai en skoon vergeet van die kos op die stoof??

7 comments on “Wat laat jou tone krul van lekker lees?

  1. Ek hou van ‘n geloofwaardige storie wat geskryf is in ‘my taal’ en daarmee bedoel ek, nie groot en omslagtige woorde nie, die storie moet woel en werkskaf en vorentoe beweeg. Daar moet na hedendaagse kwessies verwys word en moderne tegnologie moet ingespan word. Vrouens moet sterker uitgebeeld word sonder dat hulle noodwendig snipperig en neerhalend is en ook nie noodwendig ‘n rabbedoe moes wees as kind nie. Mans moet meer respek vir vrouens toon.
    Ek wil ook nie weet of die mat op die blink gepolleerde vloer persies is of dat die spieël in die voorportaal victoriaans is nie – tensy dit wys op die karakter se belangstellings nie.
    ‘n Boek wat mens ‘n bietjie laat dink en miskien sal inspireer sonder om prekerig te wees.

    • Nes ek altyd gedink het! Ons lesers weet wat hulle wil hê en hulle wil dit NOU hê. Dankie vir jou bydrae, Pienk Pantoffels!

      Jy maak my nou nuuskierig. Is jy ‘n romanseleser? Lees jy die Romanzareeks?

      Ek’s mal oor jou skuilnaam en sal graag gereëld met jou wil gesels. Besoek ons asseblief weer.

      • Ek is mal oor romanse. Het vir baie lank net Engels gelees omdat dit vir my gevoel het die Afrikaanse boeke het almal dieselfde tema nl ‘man en vrou ontmoet, man en vrou baklei, man verklaar liefde van die eerste dag wat hulle ontmoet het, einde van storie’.
        Toe ontdek ek ‘Dis koue kos skat’ en net daar het ek weer Afrikaans begin geniet. Die skrywer praat sommer so uit die heup – soos meeste alledaagse mense praat. Ek kon elke situasie in my geestesoog sien. Ek was ge’hook’ op Afrikaans.
        Ek het al ‘n paar Romanza’s gelees, lekker ligte leesstof vir daai luilekker Saterdagmiddae.
        Afrikaans bly ‘n mooi taal. Ek is bly dat daar ‘n groter verskeidenheid skrywers is, want dit maak die leesondervinding sommer lipleklekker!

        • Weet jy, ongelukkig is daardie reseppie wat jy hier bo noem, presies wat van die romanseskrywer verwag word. Uitgewers is baie streng oor wat hulle wil hê of nie. Dit neem nogal kopkrap om binne die riglyne te bly en tog oorspronklik te wees.

  2. Wanneer ek lees is dit daardie afwagting wat my weer en weer laat omblaai. Tussen die held en heldin (hulle moenie te vinnig in mekaar se arms val nie), en dalk ‘n raaisel wat mens laat wonder tot die laaste paar bladsye. Ek hou ook van eg menslike karakters. As die heldin blonde hare, potblou ogies, ‘n dun lyfie maar ‘n ruim boesem en perfekte gelaatstrekke het, en boonop kan eet net wat sy wil, kan ek nie juis met haar identifiseer en die storie geniet nie. Natuurlik moet sy mooi wees, maar binne perke 😉

  3. Ek stem saam met julle. Vir my is ook die vraag: ‘Wat nou?’ wat my verder wil laat lees. Dit is die spanningslyn wat interessant moet wees en my daardie vraag laat vra.
    Omdat die romanza meer gaan oor die ontwikkeling van emosie en verhouding tussen die held en heldin, en minder oor die omgewing en plot, bly dit vir my ‘n uitdaging om die emosionele- en verhoudings-struikelblokke interessant te hou. Ek rol my oe as daardie struikelblokke verbeeldingloos is en wil juig as dit interessant is.
    Ek giggel sommer van vreugde as ‘n skrywer dit regkry om nie die eks-meisie/kerel of ‘n misverstand of die held/heldin se kinderjare gebruik om daardie spanning te bou nie. Dit is waar die nuut/vars uitdaging le. En natuurlik is ek ‘n humor-vraat. As ‘n boek my laat lag, is ek verlief… op die skrywer!!!

  4. Daardie IETS wat vonk tussen die held en heldin, en natuurlik die probleem wat hulle uit mekaar se arms hou, laat my tone krul as dit goed geskep is. Van skrywerskant af gesien is dit myns insiens ook die moeilikste deel om oortuigend te skep. Dankie vir julle insette, lesers. Dit help beslis.

Lewer kommentaar op Madelie Human Kanselleer antwoord