Daardie laaste paragraaf

Ons weet dat lesers soms (dikwels?) die slot van ‘n boek lees voor hulle besluit om dit te koop. Dit spreek dus vanself dat die laaste sin of paragraaf van net soveel belang is as die eerste. Kyk gerus na die laaste paragrawe wat ek hieronder na die eerste sinne geplaas het. Kan jy ‘n idee vorm van die tipe verhaal wat tussenin afgespeel het? Kan jy ‘n verband tussen die twee eindpunte sien? Sou jy ‘n boek wou koop wat so eindig? Sou jy ‘n korter/langer slotparagraaf verkies het? Kan jy die slotparagraaf oorskryf sodat dit treffender is? Kan jy ‘n idee vorm van wat tussen die begin en die einde gebeur het?

1. Dis Liliane se laaste dag hier.
Sy is nie krank van liefde nie. Nee, dit voel eerder asof die dubbelheliks van haar genetiese kode vanaand hier in die roering van sy hande ontvou.
2. Julia Eksteen sit op die neus van haar motor, haar lang, bruingebrande bene opgetrek sodat haar elmboë op haar knieë rus.
Sy lag, staan op haar tone en soen hom op sy ken. “All’s fair in love and war,” sê sy en hardloop badkamer toe.
3. Kom na my toe.
Dus sal ek my liewer elke lente opnuut verbeel dat jy die oggend nie normaal was nie, maar tog gelukkig; dat jy singend na die spoorlyn gedans het, dat jy jou in die vervloekte arms van die stemmetjies gewerp het. En ek sal jou toewens wat ek jou op geen ander oomblik sou toewens nie: dat jy toe, in elk geval, heeltemal kranksinnig was. 4. ‘n Padmaker is nie ‘n mens nie, hy trap net ‘n spoor soos ‘n mens. Sy steek haar arms onder die benerige lyf in, lig haar op, hou haar vas teen haar lyf, saggies, hierdie kind-vrou wat haar ma is. Om die laken in die kamer om haar te gaan toevou dat sy kan slaap. Om haar weg te neem van die vallende rotse; die afgrond. Haar te dra oor ‘n pad wat nog lank is, en steil. Vér van ‘n finale skoon teerlaag. 5. “Daai tannie met die rok en die bangles is my pa!” hoor ek my seuntjie van ses woedend aan die ander kant van die supermarkrak protesteer.
En ek besef hiér – moer toe die vreemde in – het my kinders se grootste vrees waar geword. Want die hele wêreld lag.
6. Die foetery het gekom toe ons al amper by Sjina was.
En nou nog kan ek nie verstaan waarom mense my vra of dié of daardie verhaal wat ek geskryf het wáár is nie. Natuurlik is hulle almal waar. Ek het geen verbeelding nie en ek hou nie van mense met verbeelding nie. Hulle weet nie dat ‘n pomp ‘n pomp is en ‘n vuurhoutjie ‘n vuurhoutjie nie.
7. Een voordeel van vryskutwerk, is dat ‘n mens nie op wintersoggend hoef op te staan terwyl dit buite nog koud en donker is nie.
“Ek sal alles wat ek besit, verruil vir nog so ‘n dag,” sê Jacques, en druk haar selfs stywer teen hom vas.
8. Elizabeth kyk ontevrede na die wanorde om haar.
Hulle was ‘n formidabele span, sulke goeie vriende, het die mense gesê. Tog snaaks dat hulle nooit getroud is nie.
9. Dulcie-Anne Douglas stamp effens aan haar dogter.
Dulsie sug gelukkig terwyl drie paar arms haar omhels.
10. Dit gebeur in ‘n oogwink.
‘n Hele kosmos waarin net sy en Flint bestaan, vou om haar oop. ‘n Heelal met oseane, woude en diverse biome wat nét hulle kan ontdek. Met mane en sonne en sterrestelsels; asteroiede, komete en meteoriete wat geen verwoesting kan saai nie, want, weet sy nou, die stratosfeer van hulle planeet, is geloof in wat goed is, hoop op wat mooi is en liefde in al sy gedaantes.
En hier is die bronne:
1. Huis teen die skuinste – Marietjie van Rooyen
2. Liefdesvallei – Christine le Roux
3. Papawers – Ingrid vander Veken
4. Padmaker – Christine Barkhuizen le Roux
5. Moer toe die vreemde in – Johan Bakkes
6. Op pad Sjina toe (Uit: Verhale uit ‘n koel voorhuis) – Abraham H. de Vries
7. Eendag op ‘n reëndag – Jaybee Roux
8. Verbode drif – Irma Joubert
9. Vier begrafnisse en ‘n troue – Pat Stamatélos
10. Meetsnoer – Chanette Paul

Advertisements

3 comments on “Daardie laaste paragraaf

  1. Cat, elders op hierdie blog is interessante inligting oor wat mens met verskillende genres kan verwag. Dit behoort handig te pas te kom vir jou eie blog 🙂

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s