Uit die pen van ‘n kenner

Lees gerus wat Helene de Kock onlangs in Rapport gesê het oor ontspanningsfiksie:

Tolstoy het toeka al gesê daar is net goeie en slegte boeke. Dit geld ontspanningsliteratuur ook.

Wat verstaan mens onder ontspanningsromans? Vroeër is dit goeie gewilde prosa genoem. Deesdae word van genrefiksie gepraat, waaronder verhoudingsromans, liefdesverhale, romanses, spanningsromans.

Uiterste leesbaarheid, meen Tom Gouws, is vir populêre prosa ’n voorvereiste. Dit kan en dit moet ’n storie vertel. ’n Stewige storie ook! Die meesterskrywer Etienne van Heerden het al oor ontspanningsromans die volgende gesê: “Gewilde prosa hoef die stereotipes nie te bestendig nie; jy kan verteerbaar maar terselfdertyd boeiend en oorspronklik skryf.”

Goeie populêre prosa is inderdaad ’n genre wat nie minderwaardig teenoor of ’n bedreiging vir die letterkunde is nie. Charles Malan (1986) is oortuig dat “alle soorte prosa hul eie bestaansreg (het)”. Hennie van Coller meen daar is “oorgange, ooreenkomste en raakpunte” tussen letterkunde en populêre literatuur.

Ontspanningsromans is ’n genre wat meer op vermaak ingestel is. Eleanor Baker het in 1992 al gesê ’n stewige populêre roman moet geloofwaardig wees en ronde karakters en beter motivering hê. Maar die pakket moenie so swaar gelaai wees dat dit die leser vervreem nie.

Moenie toeganklik met dom verwar nie, het Jeanne Goosen gemaan. Dáár, dink ek, lê die sleutel tot ’n goeie ontspanningsroman: toeganklikheid én geloofwaardigheid.

Uit watter hoek goeie populêre prosa ook al beskou word, dit bly ’n vereiste dat dit inderdaad knap geskryf moet wees.

Dit wil sê die skrywer van genrefiksie moet die leser kan vermaak en terselfdertyd ’n diepgang in sy/haar roman kan inweef sonder om toeganklikheid in te boet.

Goedgeskrewe beteken dat daar geloofwaardige karakterisering is, dat die ruimte waar die verhaal afspeel helder uitgebeeld is en dat daar tog asseblief, en ek wil dit herhaal, ‘n lekker storie moet wees.

Mense koop en lees genrefiksie om vermaak te word en ook om iets te leer en interessante inligting te bekom. In fiksie moet verbeelding en feite so geïntegreer wees dat die verhaal in geen ander tyd of omgewing of kultuur kon afgespeel het nie.

As ’n populêre roman nié goed geskryf is nie, beteken dit doodeenvoudig dat die skrywer nie betrokke genoeg is by sy of haar verhaal nie.

Hennie Aucamp meen dit gebeur wanneer die skrywer se belewenis oppervlakkig is, wat tot gevolg het dat die prosa eentonig, spanningloos en voorspelbaar is. Volgens Aucamp ontbreek voortreflike gebruik van die taal meestal ook dan.

Die dae toe ’n verveelde huisvrou na die pen gegryp en haar emosies op papier uitgestort het, is vir goed verby. Kyk maar wie skryf nóú ontspanningsromans.

Ontspanningsromans word al lank nie meer deur mense geskryf wat nie weet wat die spesifieke vereistes van genrefiksie is nie. Skrywers van ontspanningsverhale ken die mark en hulle ken hul produk.

’n Boek is bepaald ’n produk, want as dit nie gelees word nie, is dit soos ’n skildery in ’n kas. Dit weet hierdie skrywers. Hul redakteurs weet dit ook. En redakteurs en uitgewers het ’n reputasie wat hulle nie graag wil skaad nie.

Wanneer ’n ontspanningsroman verskyn, het dit deur ’n streng keurproses gegaan. Daarby ook deur die hande van bekwame redakteurs en redigeerders.

Van redigering gepraat, die meeste van die skrywers van ontspanningsromans doen eers self deeglik redigering, in elk geval voordat hulle daaraan dink om dit vir ’n redakteur te stuur. Die redakteur se werk is bepaald nie om die manuskrip soos ’n opstel na te sien nie.

En wat van die persepsie dat mans spanningsverhale lees en vroue liefdesromans? Dis nie heeltemal waar nie. Mans lees alles. Vroue ook. Dokters en dekane, professore en onderwysers, bankiers en predikante lees graag om te ontspan. Maar die boeke wat hulle lees, moet iets om die lyf hê.

Ek is van mening ’n ontspanningsroman moet die waarheid kon gewees het; die waarheid waaraan toeganklik en verbeeldingryk vorm gegee is. Maar hoor wat sê ander skrywers, soos Wilna Adriaanse: “As leser hou ek daarvan as die karakters in al hul ‘menslikheid’ uitgebeeld word.”

Sophia Kapp dink ’n ontspanningsroman moet vermaaklik wees; ontspannend, helder, toeganklik, iets wat ’n leser intrek en betrek. En Malene Breytenbach: “Ontspanningsromans is verhale wat lekker lees, meevoer en inspireer.”

Inderdaad ’n mondvol – en moeilik om aan te voldoen.

Helene de Kock is ’n skrywer van ontspanningsromans en werk aan ’n Ph.D. in Afrikaans en Nederlands oor die onderwerp “Die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman”.

– Rapport

Advertisements

One comment on “Uit die pen van ‘n kenner

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s