Die litmus-toets

In een van sy vroeë kortverhale sê Chris van Wyk hy meet sy stories aan die litmus-toets. In Engels is dit die volgende: listenable, interesting, telling, meaningful, unusual, strange. In Afrikaans vertaal kom dit seker neer daarop dat die storie sag moet val op die oor van ‘n luisteraar as hy voorgelees word (soos nou gedemonstreer deur die voorlees van Rykie Roux se Satynprinses); moet interessant wees; dit moet iets bekendmaak, hetsy oor die menslike psige of die lewe self; dit moet iets beteken vir die leser; dit moet ongewoon wees, of miskien buitengewoon(?); dit moet vreemd wees (laasgenoemde miskien in terme van ‘weird’).

Sal mens die Romanza-riglyne daarmee kan versoen? Elke skrywer probeer alles in sy/haar vermoë om oorspronklik te wees, al handel die storie oor doodgewone mense in doodgewone omstandighede. Mens probeer een aspek daarvan uitsonderlik maak, of gee die storie ‘n kinkel wat die pad na die voorspelbare einde minder voorspelbaar maak. Ongelukkig werk ons nie met kortverhale nie, maar wel met ‘n veel langer teks. Miskien is dit raadsaam as ons as skrywers meer aspekte van ons verhale meet aan hierdie toets.

Op die keper beskou klink dit vir my na ‘n nekbreker, want ek probeer dan so hard om my karakters geloofwaardige, elke-dag mense te maak. Ongelukkig vind ek toenemend dat werklike mense alles behalwe gewoon en alledaags is! Soms is die werklikheid regtig vreemder as fiksie!

Nou wonder ek net: Hoe doenbaar sal dit wees om elke aspek van jou storie so te meet? En hoe leesbaar/geloofwaardig gaan dit jou eindproduk maak?

Advertisements

7 comments on “Die litmus-toets

  1. Sjoe, Bets, dis ‘n mondvol!! Jy het my sowaar aan die dink gesit en toe sommer laat nalees ook. Ek kom toe op ‘n verduideliking af van hoe mens toets of jou karakter ‘n oorspronklike karakter is of nie deur jouself ‘n hele lys vrae oor jou karakter te vra. Dit word ook ‘n litmus toets genoem en is geensins soos die 100 vrae waaroor ons al vantevore gesels het nie. Hierdie lys vrae is eerder om te toets of jy sekere aspekte oordoen het, m.a.w. of jou karakter oorhel na ‘n cliché karakter. Dit toets ook of die karakter nie dalk is soos die skrywer self graag sou wou wees nie. (Chuck Norris se Walker, Texas Ranger?) Ek sou sê die toets is dus baie bruikbaar vir die romanseskrywer, nie waar nie, Bets? Is die romanseskrywer nie geneig om die heldin iemand te maak soos sy self graag sou wou wees nie?

    Gaan loer bietjie:

    http://www.springhole.net/quizzes/marysue.htm

    Dis nou alles goed en wel, maar soos jy sê, as ek alle aspekte van my storie so moet toets, dink ek gaan my lus vir skryf by die venster uitvlieg en ek glo, ware oorspronklikheid ook!!

  2. O my magtie, daardie lys is genoeg om my te laat ophou skryf! In die halfuur na 1 uur se skryftyd wat ek per dag het (as dit goed gaan!) het ek eenvoudig nie genoeg tyd om die lys vrae eers deur te lees nie, watwou nog my hoofkarakters daaraan te meet! Ek sal my maar verlaat op Lapa se oordeel. As hulle die manuskrip terugstuur en sê die karakter is ‘te dik vir ‘n daalder,’ dan sal ek hom/haar verander.

  3. Ek glo nogal in: ‘Truth is stranger than fiction”. Ek hoop uitgewers ook. Ek het eenkeer ‘n kortverhaal oor ‘n ware gebeurtenis geskryf en die kritiek was dat dit te vergesog was. Ek is nie ‘n goeie skrywer nie en kon dalk dit nie goed vertel het nie, maar dit was nie die redakteur se beswaar teen die storie nie.

    • Dis jammer mens kan nie dag en datum bysit om hulle te oortuig van die waarheid van mens se storie nie. Maar miskien glo hulle die lesers sal dit ook nie vir die waarheid aanvaar nie. En dis seker die mense wat oortuig moet word.
      Sterkte met jou volgende probeerslag.

  4. Ek het ook eenkeer ‘n stuk in my verhaal ingebring – ‘n stuk van my lewe wat ek self beleef het en wat volgens my reg by die verhaal ingepas het – en die redakteur het gesê daardie deel is ongeloofwaardig. Ek het dit uit die verhaal gehaal en die verhaal is aanvaar. Ek het wel vir die redakteur gesê dat ek dit self beleef het, maar hy het gesê al beleef jy die vreemdste dinge gaan jy nie maklik jou leser daarvan oortuig as dit ongeloofwaardig klink nie. Dit het my versigtig gemaak om verder van dinge in my verhale gebruik te maak wat ekself beleef het, want al weet ek dit is waar, klink dit soms vir ander ongeloofwaardig.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s