Wat om NIE te doen NIE:

Elke skrywer ken daardie pad wat ons stap wanneer dit voel asof elke tree wat ons neem in die verkeerde rigting is. Ons maak soveel foute, dat ons begin wonder of ons wel kan skryf. Ek is een van daardie mense wat uit my (en ander mense) se foute leer. Hier is ’n paar (van die baie) lesse wat ek geleer het:

  • Moenie opwarm nie:
    • Jou storie moet in die middel van die aksie begin. En daardie aksie moet in jou eerste sin wees. Jy wil glad nie jou leser verveel met agtergrond nie – dan kyk jou leser in die verkeerde rigting. Jy wil hê jou leser moet uitsien na wat kom, nie fokus op wat was nie. As jy romanses skryf wil jou lesers op die eerste bladsy al vonke sien spat tussen die held en heldin.
  • Moenie dinge sonder rede laat gebeur nie:
    • Elke liewe aksie/episode/toneel wat in jou storie plaasvind moet ’n storiedoel dien. Dit moet die storie vorentoe beweeg en die leser meesleep in ’n emosionele ervaring (opwinding/spanning/verrassing, ens). As ’n toneel uit jou storie kan geneem word sonder om die leser te verwar of die storielyn te breek, beteken dit dat daardie toneel glad nie nodig was nie. Alles moet met ’n doel gebeur.
  • Moenie jouself herhaal nie:
    • O wee! Hierdie is my (en vele ander skrywers) se pynlikste les. Ek kry ’n lekker sê-ding en dan kan ek my vingers eenvoudig net nie beheer nie. Elke keer as hulle tik, moet hulle dan daardie sê-ding tik. As julle maar net weet hoe baie ek al sê-goed moes uitredigeer. Sug. Maar … jy weet hoe vinnig ’n oorspronklike frase afgesaag kan raak. Oplossing: dink aan nog ’n paar oorspronklike frases en raak gewoond aan die ‘delete’ knoppie!

In julle skryfervaring, wat julle geleer om NIE te doen NIE?

Advertisements

15 comments on “Wat om NIE te doen NIE:

  1. Moenie die hele tyd wonder of dit goed genoeg is nie.
    Moenie elke vyf minute kyk hoeveel woorde het jy al gevorder nie.
    Moenie probeer om soos iemand anders te skryf nie.
    Moenie sit en wonder hoekom jy nog nie ryk geword het uit jou skryfwerk nie …

  2. Vergeet van mooiskrywery … vertel dit soos dit is.
    Vergeet daarvan om jou leser/redakteur te probeer beïndruk. Vertel net jou storie!
    Vergeet van soetklinkende uitdrukkings en liriese taalgebruik. Hoe eenvoudiger, hoe beter.
    Vergeet van tongknopende groot woorde, lesers wil nie telkens na die woordeboek gryp nie.

    Klink dit vir jou asof ek dieselfde ding oor en oor sê? Klink my ek het EEN les baie goed geleer!! 😛

    PS: Sien jy hoe irriterend is herhaling, al sê jy dit telkens op ‘n ander manier?

  3. Al waar mens miskien herhaling kan toelaat, of die hergebruik van ‘n sê-ding, is wanneer dit karaktergebonde is: jou hoof- of newe-karakter het een of ander uitdrukking wat deur die loop van die storie tipies van daardie karakter se doen en praatstyl word. Selfs dit moenie afgesaag raak nie. Dit kan natuurlik ook deur gebeure in die storie vir een of ander rede verander. Maar moet tog ‘seblief nie dat die held heeltyd vir die heldin “My poppie” noem nie, want dan het jy, wie jy ookal is, hierdie leser verloor!

  4. Ek weet nie of dit as mooi skryf kan deur gaan nie, maar hierdie leser is mal daaroor wanneer iemand met woorde kan speel. Die sinsnede wat die moeite werd is om aan te haal omdat dit ‘n idee beter as ‘n prentjie voorstel. Onder die Afrikaanse romanskrywers is Kristel Loots briljant daarmee.

    Dit is egter ‘n kuns en as die skrywer dit forseer, is dit nag. Jy het dit of jy het dit nie.

    Iets wat my bitter vinnig kan verveel in ‘n boek is beskrywings. Ek gee nie om hoe die huis, plaas, kantoor, rangskikking, kar wat ook al lyk nie. Ek stel ook nie belang wat die held en heldin in elke toneel dra nie. Ek dink nie eers ek sal agterkom as die skrywer nagelaat het om die held of heldin te beskryf nie.

  5. Skrywers moet sekerlik hul lesers se voorkeure in ag neem, en ek vermoed meer lesers as net jy verkies dit as daar minder beskrywings is, Xena. Persoonlik hou ek daarvan om die karakters ‘aan te trek’, veral as die klere by die toneel of storie inpas. Ook die omgewing kan so ‘n rol speel, veral as die skrywer dit regkry om die ‘dekor’ in die loop van die gesprek / toneel te ‘verf’ op so ‘n manier dat dit nie die verloop van die storie rem nie. Maar ellelange paragrawe wat net beskryf, is dodelik, ek stem.

  6. Ek is dalk miskien meer visueel ingestel, daarom is beskrywings van die omgewing, hoe huise lyk, ens. en wat die held en heldin aan het, vir my nogal belangrik. Dit help my om ‘n prentjie in my kop te vorm.

    Maar ek raak gou vervelig as daar lang gedeeltes is waar die heldin bv. met haarself worstel. Ek skiep dit gewoonlik en lees weer by die dialoog.

    Ek stem wel saam: hoe eenvoudiger, hoe beter!

    • Hmm, gedagtemonoloog wanneer die heldin sit en wonder hoe nou en waarheen kan erg vermoeiend raak. Maar wanneer ek as skrywer ‘n geheim met die lesers wil deel waarvan die held of die ander karakters in die boek nie mag weet nie, dan is dit die maklikste manier om dit gedoen te kry. Ek sal in die toekoms daarna oplet om dit nie te lank uit te rek nie, of dit miskien af te wissel met gebeure.

      • Ek dink die geheim is dat die gedagtemonoloog nie ‘n herhaling van gebeure waarvan die lesers reeds weet, moet wees nie. As skrywer is dit bitter maklik om in daardie strik te trap wanneer jy die karakter se gevoelens oor wat gebeur het, wil weergee. Vir die leser lyk dit na herhaling. Dit moet dus tot die minimum beperk word. Jy is reg, Ronelle, die lesers lees agter die dialoog aan, want in die dialoog gebeur die storie mos eintlik.

  7. As leser verloor ek belangstelling as karakters nie geloofwaardig optree nie. ‘n Bekende skrywer het in 2 (dalk meer?) van sy boeke telkens vroulike karakters wat mans uit die bloute bespring en probeer verlei. Dis dalk ‘n man se fantasie, maar die wese van meeste vroue is soveel anders. Ons soek liefde en getrouheid. Dis interessant dat sy redakteur ook ‘n man is…sou hulle dit dalk nie oplet nie?

    • ‘n Interessante waarneming, Kathleen. Weet jy, ons kry weer dikwels dat mans vir ons sê dat die manne nie werklik optree soos die helde in ons boeke nie.

      Oukei, in die romanse hou ons meestal die ideale man (ons vroue se fantasieë?) voor as die held in die verhaal, maar in die meer ernstige roman word die werklike lewe beskryf. Miskien is jy reg oor daardie manlike skrywer se fantasie, maar is fiksie dan nie maar geheel en al die fantasie van die skrywer nie?? 😉

      Terloops, daardie soort optrede van genoemde skrywer se vroulike karakters, is dalk buite jou persoonlike verwysingsraamwerk, maar is jy seker daar bestaan nie wel sulke vroue nie? Buitendien, populêre fiksie se hoofdoel is om te vermaak en miskien gebruik die skrywer juis daardie vroue se optrede vir die vermaaklikheidswaarde daarvan omdat hy dink dat sy (manlike?) lesers dit sal geniet. Stephen King het eenmaal gesê: “I write this #$%^& because people want to read #$@%^!”

      Maar nou ja, as daardie skrywer vir jou ongeloofwaardig skryf, moet jy dalk nie weer sy boeke lees nie, of miskien kan jy hom opspoor op Facebook en hom reguit vra daarna? Skrywers hou oor die algemeen daarvan om van hul lesers te hoor.

  8. Wel, die skrywer se boeke is baie boeiend en verkoop soos soetkoek, so dalk pla dit niemand anders nie! Toe die vierde, vyfde vroulike karakter wat hy beskryf so…eh…hups (!) is het dit my net opgeval. Maar ja, soos jy noem is die held in ‘n romanse ook maar die skrywer se fantasie. Dis interessant dat mens in die onderskeie genres soms heel verskillende dinge mag doen. Ek leer baie hier by julle!

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s