Hou jou tenkie vol!

Skryf is vir my sinoniem met GEE. Jy gee nie net met jou verstand nie (behalwe dalk as jy akademies skryf), maar ook met jou hart. Natuurlik veral as jy romantiese fiksie skryf, omdat emosie so ‘n belangrike deel van ‘n liefdesverhaal is.
Niemand kan net aanhou gee as hy nie ook van êrens af ontvang nie. Dis nie ‘n moeilike som nie – as die dam net ‘n sluis het en geen invloei nie, gaan hy leeg raak.
Ek dink dis ‘n skrywer (eintlik enige mens!) se plig om voortdurend te werk aan die inhoud van jou gees – of dit nou ‘n piepklein tenkie of so groot soos die Gariepdam is. (Die foto van ons klompie op besoek aan die Gariepdam is dus eintlik van groot simboliese waarde.) As daar nie dinge is wat jou siel voed nie, moet jy ‘n plan maak om hulle te gaan soek! Dit help nie om te sit en wag op beter dae nie – hulle kom baie selde sommer vanself. Gewoonlik het die goeie dinge in die lewe ‘n bietjie aanmoediging nodig. Ons is dit aan onsself verskuldig. En aan ons geliefdes. En natuurlik aan ons lesers.
Daar is ‘n aantal basiese behoeftes wat vir die meeste mense geld. (Kyk gerus by http://marilecloete.wordpress.com/life-coaching-lewensafrigting/basiese-menslike-behoeftes/ as jy dit nog nie gelees het nie.) Hierdie kennis maak dit vir ‘n mens makliker om jou emosionele welstand te bestuur. Daar is egter ook spesifieke behoeftes wat uniek is aan elke mens – die spesiale dinge wat jóú laat tiek. Ek dink dis noodsaaklik dat ‘n mens vasstel wat daardie dinge is en hulle dan aktief opsoek of aankweek of op een of ander manier in jou lewe kry.
Die dinge wat ‘n skrywer se tenkie vol maak, sal afhang van die tipe skryfwerk wat hy doen. Vir ‘n wetenskaplike skrywer sal dit seker eerstens wees om op hoogte te bly van sy vakgebied. ‘n Romanseskrywer kan dalk in ons bose wêreld ‘n bietjie hulp nodig hê om in die liefde te blý glo – ‘n mens kan tog nie oor iets skryf as jy nie daarin glo nie. Dit kan gebeur deur jouself ‘n bietjie te beskerm teen die media (Nee, ek dink nie ons moet dit heeltemal ignoreer en in ‘n salige gekkeparadys voortsweef nie!). Of deur positiewe stories te versamel en aan te teken.
Iets wat vir almal geld, is om in kontak te wees met mense wat soos jy dink en voel. Mense vir wie dieselfde dinge belangrik is, mense wat verstaan wat jy probeer doen.
Ek was die afgelope naweek bevoorreg om tyd deur te bring saam met sulke mense. Agterna gesien is daar eintlik nie besonder baie oor skryf as sulks gepraat nie – maar die gedeelde passie vorm die basis van ons verbintentenis. ‘n Mens kan nie anders as geïnspireerd van so ‘n kuier af terugkom nie.
Wat is vir jóú nodig om jou tenkie vol te hou? Ons hoor graag van jou!

Advertisements

2 comments on “Hou jou tenkie vol!

  1. Lees, lees en nogmaals lees!! Veral in daardie spesifieke hoekie van die romanse-genre waar my hart lê – geestelike romans(es). Ontbyt op ‘n wynplaas tussen die Bolandse berge saam met my man. ‘n Dag saam met my kinders, en veral die kleinkinders. Net om hulle interaksie met die wêreld om hulle te ervaar, te sien hoe die lewe lyk vanuit hulle O so vars perspektief, is om my eie emosionele tenk weer vol te maak. Hulle absoluut onvoorwaadelike liefde en aanvaarding, die opregtheid waarmee hulle hulself gee, kan baie gou ‘n gat in my siel opvul. Om myself in die Woord in te dompel en dit op te ‘soak’ soos ‘n spons en weg te kom met die wete van die Skepper van alles wat mooi en goed is, se liefde vir Sy skepping waarvan ek en my baie beskeie talent deel is.

  2. You are what you feed your brain.

    As jy jouself omring met positiewe mense en dinge, kan jou daaglikse omgang nie anders as om jou te voed en te vul met inspirasie nie.

    ‘n Lekker kuier saam met mense wat jou belangstelling deel, is so genotvol en so belangrik soos wat Alta gesê het, maar vir ‘n skrywer is dit ook belangrik om juis te meng met mense met ander belange sodat jy kan leer van allerhande soorte mense en hul dinge om ook sulke karakters in jou boeke geloofwaardig te kan weergee.

    Leef na aan die natuur en die skepping sal jou daagliks herinner aan hoe klein jy en jou lewetjie werklik is in die groter prentjie. Deel dit met ander sodat jou lewe nie vernou tot die skerm van jou rekenaar nie!!

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s