Dagboek van ‘n romanseskrywer (13)

Die gevreesde brief van die uitgewer het toe gekom. Ja, hulle kom altyd uiteindelik – al is die wag hóé lank! En dan ontdek jy heel moontlik jy is glad nie bly nie. Want nou moet jy hom oopmaak en lees … Nog een van die vele klein heldedade wat ‘n skrywer moet bemeester voor ‘n boek uiteindelik op sy rak kan staan.
En ja, die vreeslikheid het toe gebeur – die antwoord is NEE. Net om mooi te bewys ‘n skrywer kan nooit ooit op sy louere rus nie. Uitgewers wat hulle sout werd is, laat hulle nie beïnvloed deur hoeveel goeie manuskripte ‘n sekere skrywer dalk al tevore gelewer het nie. Elke manuskrip word op eie meriete beoordeel. Maar ‘n skrywer is geseënd as hy ‘n uitgewer het wat die moeite, tyd en koste aangaan om kommentaar te lewer op die manuskrip en leiding te gee oor wat presies daarmee skort. As die skrywer dan (na die aanvanklike skok en dalk ‘n paar koppies tee of ‘n paar wyntjies) die kans aangryp om op daardie leiding te reageer, kan dit net tot groei en verbetering lei. Om net eenvoudig ‘n nee te ontvang sonder enige redes, kan regtig baie demoraliserend wees. En glo my, dit gebeur een of ander tyd met die meeste van ons.
In hierdie geval pas die manuskrip eenvoudig nie binne die raamwerk waarbinne die romanse geskryf moet word nie. ‘n Romanse moet presies dít wees – ‘n verslag van die romanse tussen ‘n (oulike) man en ‘n (baie oulike) meisie. Natuurlik moet hulle êrens woon en hulle met beroepe besig hou, maar die ontwikkelende liefdesverhouding moet sentraal bly in die storie. Wanneer die karakters se issues met die ontwikkelende verhouding begin meeding vir die sentrale plek in die storie, begin die storie oorhel na ‘n liefdesroman i.p.v. ‘n romanse. En dis presies wat hier gebeur het – ek het (in ‘n poging om nuut en vars te bly!) besluit in hierdie storie mag daar nie weer eens ‘n troeteldier óf ‘n donker man met ‘n kitaar wees nie. En toe ontwikkel die tweetjies ernstige parent issues! En die parent issues kom staan presies lángs die ontwikkelende verhouding in die storie, i.p.v. ‘n paar treetjies agtertoe, waar hulle hoort. (Wat is mooi Afrikaans vir parent issues? Ouerkwessies? Nee, dit werk nie. Ouerskapkwessies – nee, dis iets anders! Help!)
Nou: Hoe vorentoe? Ek weet nie. Ek dink nog. (Maar wonder bo wonder – na ‘n klompie jare se ondervinding slaag ‘n mens wel daarin om oor so-iets te dink sonder die behoefte om jou polse in die proses af te kou!)
En ja, natuurlik het ‘n slim skrywer op hierdie stadium al laaankal met ‘n nuwe romanse begin. En laat sy haar ook nie deur hierdie klein terugslag van die spoor af dwing nie. Makliker gesê as gedaan … 🙂

Advertisements

One comment on “Dagboek van ‘n romanseskrywer (13)

  1. Oeg, dis nou wanneer jy reeds aanbeweeg het en twee hoede moet dra. Ek kan verstaan dat dit moeilik is om in verskillende genres gelyktydig te werk. Die twee is soort van dieselfde en eintlik heel verskillend, nie waar nie? Sterkte met jou besluit.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s