Hoe om jou leser te verveel

Ons is nie net skrywers nie, maar ook lesers. Daar is ’n hele paar goedjies wat my so verveel dat ek my oë rol, die boek vies neersit (of neergooi) en eerder gaan klere stryk ( ek haaaaat strykwerk!!). Hier is ’n paar voorbeelde van wat jy moet doen om seker te maak dat jou lesers haar strykplank gaan opslaan:

Verduidelikings:

In ’n romanza is ons werk nie om lesings te gee nie. Die tegniese werking van ’n toestel of die chemiese samestelling van medikasie is nie van belang vir die leser nie. Al waaraan sy belangstel is die ontwikkelende verhouding en spanning tussen die held en heldin. Om die natuurskoon te beskryf in al haar glorie gaan die leser sommer inspireer om haar handdoeke ook te stryk.

Onbelangrike inligting:

Dit vertraag die leser om by die ‘juicy’ dele van die storie uit te kom – daardie dele wat verseker dat sy aanhou lees. As ’n sin of paragraaf nie die doel dien om jou storie vorentoe te beweeg nie, haal dit uit! Elke woord moet tel anders gaan jou leser haar gepaste lakens aan albei kante stryk.

Agtergrond:

Romanzas is nie die geskiedenis van drie generasies nie. Die leser word in die middel van ’n ontmoeting tussen die held en heldin ingegooi en word vinnig deel van ’n opwindende ontdekkingsreis met die tweetjies. Ons lesers stel nie belang in die lewensgeskiedenis van elke karakter nie. Enige agtergrond wat weergegee word, moet ’n storiedoel dien, moet die storie vorentoe beweeg. Anders gaan jou leser sommer haar waslappe en haarlinte ook stryk!

Hierdie is net drie van ’n hele paar verveel-voorbeelde. Waaraan kan julle dink? Wat verveel jou wanneer jy ’n boek lees?

Advertisements

13 comments on “Hoe om jou leser te verveel

  1. Laaaang paragrawe en laaaang stukke (onnatuurlike) dialoog werk ook nie vir my so goed in ‘n romanse nie. (Maar dit kon my nog nooit tot strykwerk gedryf kry nie!)

  2. Swak gemotiveerde konflik: As die held en heldin mekaar invlieg oor onbenullighede in plaas van oor werklike probleme of issues sal ek vir seker my man se golfhanddoek en sy Sondagkoerant ook stryk! 🙂

    Versteekte dialoog: Ek is een van daai lesers wat feitlik net die dialoog lees, want wanneer die gesprek vlot, dan loop die storie mos. Mens kan natuurlik nie heel sonder die res skryf nie, maar wanneer ek tussen ellelange sinne moet grawe en soek vir die dialoog, land die boek vinnig op die vloer.

    Mooiskrywery: Baie skrywers wil seker eintlik graag letterkundige werke skryf en is geneig om die wonderlikste woorde en uitdrukkings te gebruik en niemand is eintlik beïndruk nie, want hulle soek net ‘n heerlike sappige liefdesverhaal. As dit deur middel van eenvoudige taal vertel kan word, los liewer die mooiskrywery!

  3. Ai, eintlik is dit ‘n wonderwerk dat enigiemand nog die moed het om te skryf. Daar is soveel MOENIES en PASOPS, en what-not, mens kan omtrent nie bybly nie. Tog hou ons aan met probeer. Ek wonder hoekom?

  4. As ek eers moet begin lees oor hoe die wind deur die blare ritsel of ‘n paragraaf word daaraan gewei hoe die blommetjies ruik, dan kou ek my polse soos ‘n vampier. (Niks! sal my dryf tot strykwerk nie.)

    Ek gee werklik nie om dat die blommetjies soos Piet-my-vrou of Skop-die-hond ruik nie en ek gee ook nie om dat dit die heldin herrinner aan haar 6de verjaarsdag op haar stiefouma se plaas toe sy van die perd afgeval het nie. Ek wil hê hulle moet soen!

  5. Beskrywings is werklik tog soms nodig om ‘n sekere dialoog te regverdig al is mens haastig om slegs dialoog te wil lees. Soms kom ek agter as ek ‘n stukkie beskrywing oorgeslaan het, het ek nie ‘n clue waaroor die onmiddellik daaropvolgende dialoog gaan nie. Maar ja, lang beskrywings wat nie juis veel tot die romanse bydra nie, is onnodig en vervelig. Moet ook nie jou lesers probeer “opvoed” nie, hulle is klaar grootmense wat deur hulle eie opvoeding is en nie in joune belang stel nie.

  6. Dankie! Iewers waar ek dit kan sê!
    ‘n Stom heldin. Dít verveel my. As jy lees en lees en op bladsy veertig het die pragtige blonde blouoog Eva nog nie ‘n woord gesê nie. Ek moet erken, dit kom meer in die ouer Afrikaanse liefdesverhale voor, voordat Romanza ons kom verlos het van tabberts en brandmaer, beeldskone, sondelose en persoonlikheidslose Ikone. Die stom heldin steek egter nog soms kop uit (plaas dat sy tong uitsteek 😉 ) veral as daar ‘n baie sterk held tersprake is – hy verskree haar gewoonlik vir veertig bladsye sonder rede, en raai wat? Op bladsy vier en veertig besef sy sy het hom lief. Ten spyte daarvan dat hy duidelik ‘n selfbeeld probleem het, moontlik vir anger management moet gaan en haar nog nooit hoor praat het nie! Jy sal weet as jy met een van hierdie stommetjies te make het, dit voel asof jou tong aan jou verhemelte vasplak…

    • Ag jy stel dit so sprekend. En nou wonder ek skielik of ek nie iewers sulke stomme heldinne geskep het wat nie BOO vir ‘n gans kan sê nie.

  7. Ek hou ook van baie dialoog soos Madelie, maar ek het al boeke gelees waar die dialoog nie regtig die storie aanhelp nie, hulle karring net al in die rondte – dan hou ek ook summier op om dit te lees!

    Ek hou ook nie daarvan (en dis net ‘n persoonlike voorkeur) dat die held en heldin ‘n geskiedenis het nie. Dis later vir my so ‘n deurmekaarspul van wie wanneer wat aan wie gedoen het, dat ek sommer ophou lees. Om die waarheid te sê, as ek op die agterblad lees dat hulle mekaar ken, koop ek nie eers die boek nie.

    (Arien, die strykery het vir my beter geword toe iemand vertel het hoe sy elke keer vir die kind wie se klere sy stryk, bid – maak dit bietjie makliker om te hanteer :))

  8. Ons almal weet ‘n liefdesverhaal gaan oor liefde, maar wat my verskriklik irriteer is as die held en die heldin se bloed by elke liewe ontmoeting van pure begeerte begin borrel. Dis vir my kommên. Begeerte moet vir my nie elke keer so handuit-ruk erg wees nie, veral nie sommer met die eerste ontmoeting nie. Sommige skrywers laat die heldin klink asof sy haar hormone moet laat toets. As die tweetjies mekaar heelwat later in die boek passievol wil gryp, het ek natuurlik nie ‘n probleem nie. Maar sommer op bladsy tien? Dis vir my ongemotiveerd en onnatuurlik.

  9. Ek bewonder skrywers wat die verliefraakproses baie subtiel en geleidelik laat gebeur deur net ‘n blik of ‘n terloopse aanraking. Dis nou wat ek noem die uitgestelde begeerte. Ek is van nature te haastig en kry dit verdomp nie reg om soo lank te sukkel voor die eerste soen nie! (In my boeke, NIE ekke nie!!) 😉 Daarvoor is my helde te warmbloedig! Maar jy is reg, Cecilia, te veel te vinnig is in swak smaak. Daarvoor is ons Afrikaners darem nog te … wat sal ons dit noem? … ordentlik!

  10. Ek stem met jou saam, Cecilia. Bloed moet wragtie nie borrel nie. Mens kan belangstel, ja. Jy kan die skoenlappers in die maag-gevoel kry ook. Maar BEGEER? Dis vir my bietjie sterk. En soen kan hulle soen, solank dit net nie daai stofsuier, opslurp-besigheid is waarvan mens longontsteking kan ontwikkel nie. Mens moet darem eers weet die man se mondhigiëne is OK voor mens jou lewe in daardie rigting waag. Vir my werk daardie amperse soen selfs in die flieks wonderbaarlik goed. My hart gaan byna staan as die held die heldin net een van daardie skoenlappersoene op die oog gee. Of hy raak net op ‘n seker manier met sy kneukels aan haar wang. Ai toggie …

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s