Waar begin ek as ek wil skryf?

Sommige skrywers begin by ‘n storie-idee of tema, ander weer met ‘n titel en nog ander by die karakters, die agtergrond of ‘n insident.

Hoe dit ookal sy, jy kan nie ver vorder voordat jy nie op jou hoofkarakters en hul agtergrond besluit het nie. Ek kan nie werklik aan die gang kom voordat ek nie ‘n prentjie in my kop van die karakters en die plek waar die storie afspeel, het nie. In my skryfhoekie is ‘n boekrak wat met sy rugkant na my lessenaar toe wys. Ek gebruik die agterkant daarvan as ‘n ‘Storiebord’ waarop ek my visuele beplanning doen. Ek knip tydskrifprente uit en maak ‘n collage daarvan totdat ek tevrede is dat ek nou weet hoe my hoofkarakters en hul omgewing lyk. Sommige skrywers teken selfs ‘n kaart van die dorp of omgewing waar die storie afspeel.

Nou steek ek my notaboeke in die werk. Ek het ‘n notaboek in elke vertrek van die huis. Sodra ek aan iets dink, moet ek dit neerskryf, anders vergeet ek. Heel eerste beplan ek die agtergrondstorie van elke karakter.  (kinderjare, opleiding, gebeure wat tot die aanvang van die storie gelei het) Daarna skryf ek die eienskappe van die hoofkarakters neer en leer hulle sterkpunte, swakhede, begeertes, motiewe en beweegredes vir optredes so ‘n bietjie ken.  Volgende sal ek bv. die hooftrekke van die storie neerskryf. Sommige skrywers doen dit op ‘n tydlyn sodat hulle mooi kan beplan presies waar sekere gebeurtenisse die beste sal inpas. Ander beplan elke hoofstuk tot in die fynste besonderheid.

Nuwe skrywers moet maar die verskillende dinge probeer en toets waarmee hulle gemaklik voel. Jy sal gou agterkom wat werk vir jou en wat nie.

Advertisements

30 comments on “Waar begin ek as ek wil skryf?

  1. Die heel laaste paragrafie hierbo is baie belangrik: vind self uit wat vir JOU werk.
    Ekself is ‘n swak beplanner, maar dit het gelei tot gapings in my stories. Ek probeer dus die afgelope jaar of wat baie hard om mooi vooraf te beplan. Nou wil dit vir my lyk of dit kan werk om vanaf ‘n sekere punt meer op gevoel voort te gaan AS jou vooraf beplanning aan die storie ‘n goeie, stewige basis gegee het en wanneer jy jou karakters al baie goed ken.

  2. Eintlik is dit nogal maklik, as jy jou karakters ken en toelaat dat hulle die storie skryf. Ek kan glad nie beplan nie. Ek kry ‘n idee in my kop, (voorbeeld Fasade van die Hart- ek het gedink dit kan ‘n lekker storie maak as ek ‘n helikoptervlieenier en ‘n wild veearts in een kajuit gooi. Die res het toe gebeur. Onbeplan), dan begin ek skryf. As iets nie werk nie, haal ek dit uit en probeer iets anders. Ek moet hou van wat gebeur en die karakters moet gemaklik wees daarmee. Soms kies ek insidente en dan ontwikkel die storie daaruit, maar ek het al gevind dat ek dan moet teruggaan en my karakters skaaf en mak maak vir die storie om te werk. Wat ek dus gevind het, ken jou karakters en weet hoe hulle in sekere situasies sal optree. En ja, skryf jou hart uit. Jy moet immers van jou storie hou.

  3. Ek skryf ook uit my hart uit. Ek probeer ook nou en dan die groot beplanning, maar dit werk net nie lekker vir my nie. Natuurlik beteken dit dat ek gereeld vashaak, omdat ek nie seker is in watter rigting die storie moet beweeg nie. Ek dink tog as ek onder tydsdruk moes werk, ek meer moeite met beplanning sou maak.

  4. Ek vind dat as ek eers ‘n storie het, gebeur die res makliker. Ek het ‘n witbordjie in my skryfhoekie en maak daar notas oor die karakters – hoe hulle lyk, uit watter soort gesin kom hulle, wat doen hulle ens. En dan moet jy natuurlik maar gaan sit en skryf – die storie moet op papier kom, anders help dit niks!

  5. Ek is baie swak met beplanning en begin meestal met ‘n storie sodra dit voortdurend na my toe terugkom en in my kop bly maal. Gewoonlik weet ek hoe my karakters lyk, wie hulle is en waar die storie afspeel… dan laat ek my deur hulle lei om my hul storie te vertel. Hulle word vir my werklike mense en ek word deel van hulle lewens alhoewel alles pure fiksie is. Ek skryf dus uit my hart sonder veel beplanning vooraf. Wanneer ek vashaak, gee ek hulle bietjie tyd om verder te ontwikkel en distansieer ek myself van hulle om objektief na die storie te kyk. Dit help nogal om weer die draad op te tel en die storie klaar te maak. Omdat ek so werk, is dit baie frustrerend wanneer ‘n storie nie kan wag om vertel te word nie en ek nie op daardie stadium kans kry om dit te skryf nie, maar dit is net so frustrerend wanneer ek wel tyd het en graag WIL skryf en daar nie ‘n storie of karakters sterk genoeg deurkom om mee te werk nie!

  6. ’n Mens vat jou storie en jou karakters orals met jou saam. As jy gaan slaap saam bed toe en as jy opstaan saam kombuis toe. Jy dink regtig gedurig aan hulle en raak nooit heeltemal van hulle ontslae nie. Dit frustreer jou huismense grensloos en jou huwelik wankel. Die hond knor vir jou en jou bure is vir jou kwaad omdat jy hulle weke laas gegroet het – omdat jy hulle eenvoudig nie raakgesien of herken het nie.
    Want die donker held en die blonde heldin is in jou kop en voor jou oë en jy luister die hele tyd na hul stemme. Dit klink taamlik ‘weird’, ek weet, maar ’n mens raak werklik so betrokke by jou verhaal dat jou gemoedstemming daardeur beïnvloed kan word. Ek dink dis dán dat jou verhaal wáár raak. Dink dus mooi voordat jy jou in daardie doolhof begewe. Maar weet ook dat dit wonderlik bevredigend kan wees om die toutjies te trek totdat alles in plek val en jy jou verhaal kan afsluit met: En hulle het vir ewig en altyd gelukkig saamgewoon.
    The end! The happy ending!

  7. Kristel, daar spreek jy nou ware woorde. My bure dink ek is ‘n vreeslike kluisenaar, maar as ek in storie-mode ingaan, is dit presies soos jy sê: hoor en sien kan om my vergaan en ek sal dit nie eens agterkom nie.

    Ek gesels selfs soms met my karakters. Het juis vanmôre my held aangespreek, want hy wil al dwars trek. Ek het die hele storie kant en klaar uitgewerk, maar moet nou die storielyn heelwat aanpas, want hy is eenvoudig te sterk en standvastig om hom die dinge wat ek vir hom beplan gehad het, te laat welgeval. Dit gee eintlik ‘n baie lekker nuwe wending aan die storie, so ek laat my maar meesleur. I just sit back and enjoy the ride! (Ek moet net onthou om aan te hou tik sodat ek my kwota woorde vir elke dag inkry.)

    • Ha, ek dog ek raak mal. Ek het gisteraand twee keer opgestaan om gou iets neer te skribbel voor ek vergeet om dit by te voeg. My man dink natuurlik ek hét mal geraak en skud maar net sy kop. Hierdie skrywery is ‘n verslawende besigheid …

  8. Hi daar. Ek het toevallig op die website gekom. Ek is eindlik opsoek na ‘n kursus vir kreative skryfkuns. Ek het al jare terug begin kortverhale skryf maar nog nooit vir iemand gewys of gese nie. Nooit moed gehad nie. Bang ek maak ‘n …… van myself. Het julle dalk vir my raad?

  9. Elana, ek weet nie werklik presies wat jy vra nie. Jy weet, dis so goed soos ek vra aan ‘n vlieënier: “Hoe vlieg mens ‘n Boeing?” 😛

    Hierdie post vertel juis waar en hoe mens moet begin. Lees gerus ook ander inskrywings op hierdie blog. Miskien moet jy vir jou ‘n goeie handboek oor die skryfkuns aanskaf. As jy liefdesverhale wil skryf, kry vir jou die DUMMIES boek. Dis die beste vir beginners. Kyk hier bo onder ‘Boeke oor skryf’

    Jou storie moet midde-in ‘n toneel begin. Moenie eers die agtergrond probeer skets nie, dis vervelig. Jou lesers soek aksie. Die agtergrondinligting kan jy so algaande aan die lesers deurgee.

    Kyk na die boeke wat jy baie geniet het, bestudeer die manier waarop daardie skrywers begin het en probeer een van daardie metodes.

    Weet jy, die begin is die moeilikste deel van die boek. Ek spandeer gewoonlik baie meer tyd aan hoofstuk een as aan enige van die ander hoofstukke. Die eerste paar bladsye van ‘n boek kan dit maak of breek.

  10. Ek is so bly vir hierdie blog! Ek het hierdie wonderlike idee, en was lekker op dreef om dit neer te skryf. Toe begin ek al meer vashaak en sukkel om die storie aan die gang te hou! Nou sien ek, (Dit is dalk vanselfsprekend) die storie begin by die karakters. Ek het die hele tyd op die storieverloop gekonsentreer en vergeet van die karakters! Ek het gisteraand die blog-post raakgelees waar jy jou karakters vrae vra. Om meer uit te vind oor hulle. My storie is nou eers eenkant toe geskuif, om my karakters beter te leer ken. Ek glo as ek weer begin skryf sal dinge baie beter verloop en die storie sal baie meer om die lyf hê. Dankie dankie!

    (Ek is net so vrek haastig om klaar te kry! Maar ek wil ook nie afgerammelde werk doen nie.)

  11. is op soek na Afrikaanse taal en spelreels vir die skryf van kinderboeke….of as jy my daarmee kan help met die begin van kinderboeke skryf.

  12. Ek skryf en skryf net as ek daai ‘feeling’ kry – Niks in die hele heelal bestaan as ek in my skryf bui kom nie. Shame my arme man en kind maak maar self kos en ploeter voort sodat ek kan skryf! 🙂 Maar soms raak dit so effe droog op my verbeeldings rakkie dan sit ek maar die potlood neer en wag vir die volgende mood. Skryf julle harte uit en moet asseblief nie worry oor wat ander van julle werk gaan dink nie – dis jou boek en jou storie! ‘

    Ek skryf soos wat ek dit sou wou lees – NES DIT IS. ‘n Ou vloek woordjie hier en daar het niemand met ‘n verbeelding al ooit kwaad gedoen nie.

    Lekker skryf en stuur bietjie ‘links’ – ons wat lief is vir lees wil julle stories ook lees .. mens is nie stingy met jou talent nie!

  13. *dit is seker goed en wel ek praat so — eks juis hier oor ek my potlood ses maande terug neergesit het en nou word rond krap om te sien wat ander skrywers doen om die juices weer te laat vloei. Maar Madelie, jou raad is sowaar soos ‘n blikkie Q20 … eks sommer weer lus vir skryf, my werksdag moet nou vinnig tot ‘n einde kom sodat ek kan gaan skryf!

  14. Ek wil graag my lewensverhaal vertel om ander te help, maar ek het wertlik geen skryftalent nie. Is dit moontlik om n skryfster te, kry wat bereid is om dit namens my te skryf?

    • Anoniem, as jy ‘n skrywer soek om vir jou te skryf, is daar drie maniere om dit te doen:

      1. Jy kan ‘n skrywer van wie se skryfstyl jy hou, kontak en vra of die persoon vir jou sal skryf. Onthou net die meeste fiksieskrywers het ‘n voorkeur vir die genre waarin hulle verkies om te skryf. Kies dus iemand wat soortgelyke stories as joune skryf.

      2. Of jy kan met jou storie na ‘n uitgewer toe gaan en hulle kan dan ‘n skrywer vir jou aanbeveel.(jy kan hulle d.m.v. hul webwerwe kontak) Hulle ken die skrywers en hulle kan sommer ook vir jou sê of hulle sal belangstel om so ‘n storie uit te gee. Dit gaan jou geld kos om ‘n spookskrywer te kry en miskien mors jy jou geld om daarvoor te betaal en dan stel geen uitgewer dalk daarin belang nie.

      3. Nog iets wat jy kan probeer, is om na ‘n organisasie soos SAVryskutskrywer toe te gaan en hulle aanbeveling te vra. Dis die soort diens wat hulle lewer. Google hulle net en kontak hulle op hul webwerf.

    • Dit klink vir my of jy wil self uitgee? Gewoonlik doen die uitgewers die setwerk. Indien jy op Kindle self wil publiseer, moet jy hulle handleiding download. Weet nie of ek jou vraag beantwoord nie, Jaco, want ek kan nie mooi agterkom van watter program jy praat nie. Oor die algemeen skryf skrywers in die gewone Word program en stuur dit per e-pos aan uitgewers.

  15. Is daar iemand wat my asb kan help my dogtertjie word be tas in die skool deur seuns die onderwysers en hoof weet al 2weke daar van en ht my niks ge se nie ek moes deur n ander vrou ge hoor ht asb ek soek hgulp my naam is annamarie

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s