Verskille tussen die romanse en die LR (vervolg)

Chanette Paul het die volgende hieroor geskryf toe sy ‘n jaar of wat gelede Sophia Kapp se  liefdesroman Die tuiskoms entoesiasties vir publikasie aanbeveel het:
ʼn Romanse is bloot dit – die storie van ʼn liefdesverhouding wat tussen ʼn man en ʼn vrou ontwikkel vandat daardie chemiese reaksie wat ons verliefdheid noem vonk vat, en duur tot en met die kulminering van hierdie liefde – sy dit die wedersydse verklaring van die held en heldin se liefde vir mekaar, ʼn huweliksaansoek, die troue of waarheen die storie ook al lei. Dis die soort verhale wat in die Romanza-reeks uitgegee word.
Die liefdesroman strek veel wyer en beweeg ook nader aan lewenswerklikhede. Dit word uitgegee as enkeltitel, dit wil sê nie as deel van ʼn reeks nie. In die liefdesroman word die minder idilliese kant van die lewe betrek: die onregverdigheid van die lewe, menslike wreedheid, die struikelblokke wat oor die mens, veral die vrou, se pad kom en dies meer. Daar loop steeds ʼn goue draad van hoop en optimisme deur die verhaal, maar die hoof- en ander karakters word blootgestel – en soms uitgelewer – aan nare werklikhede. Die liefdesroman eindig nie noodwendig idillies nie, maar wel op ʼn hoopvolle noot. Waar die romanse dus die onaangenamer sy van die lewe grootliks ignoreer of minstens binne ʼn kader plaas waar álle kwaad deur die goeie oorwin word, betrek die liefdesroman die lewe in al sy fasette binne ʼn baie realistieser konteks. Die liefdesroman se plot is baie meer verwikkeld as die romanse s’n en daar is heelwat meer karakters. Die karakters en hulle menswees word ook baie dieper ontgin en dikwels word meer as een karakter se perspektief ingespan. Die liefdesroman is dan ook aansienlik dikker as die romanse. Liefdesromans is warm, emosionele stories – feel good stories, maar stories wat die werklikheid aanspreek. Om Donna Baker aan te haal: “a story of imagination and passion, with a theme in which real characters live real lives, with a plot that may be simplicity itself or as complex as War and Peace.” Daar is bittermin sulke boeke in Afrikaans, en dikwels dra dié ʼn bietjie swaar aan literêre eienskappe en swaarwigtigheid. Wat Sophia Kapp se boek onderskei, is dat dit nie ʼn tree agteruitstaan vir die soort liefdesroman wat in die internasionale mark so gewild is nie. Dis ʼn universele storie wat amper toevallig in Suid-Afrika afspeel en tog klop daar ʼn sterk (Suid-)Afrikaanse hart in die kern daarvan, ʼn hart wat ʼn mens onder meer met nuwe oë na die Klein-Karoo en die lewe self laat kyk.

Advertisements

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s