Die liefde: Dis wetenskap én waansin (2)

WETENSKAP, HORMONE EN DIE LIEFDE:
Science Daily berig dat ’n onlangse meta-ontleding studie deur prof Stephanie Ortigue van die departemente van sielkunde en neurologie aan die Syracuse Universiteit, bevind het dat om verlief te raak nie net dieselfde euforiese gevoelens vrystel as wanneer ’n mens kokaïne gebruik nie, maar dat dit ook intellektuele dele van die brein affekteer. Navorsers het bevind om verlief te raak is so genotvol dat dit byna soos ‘n verslawing is. ‘n Mens kan dus sekerlik aanvaar dat die “onttrekkingssiptome” ná ‘n liefdesteleurstelling net so traumaties is. Die resultate van die Ortigue-span het ook onthul dat as ’n mens verlief raak altesame 12 areas van die brein saamwerk om euforie-geïnduseerde chemikalieë soos oxytocin, adrenalien en dopamien vry te stel. Die liefdesgevoel het ook ’n uitwerking op kognitiewe funksies soos metafore en liggaamsbeeld.
Die bevindings het die vraag laat ontstaan; “ Is dit die hart of die brein wat verlief raak?” Volgens Ortigue is hierdie ’n moeilike vraag. “Ek sou sê dis die brein maar die hart vertolk ook ’n rol weens die verwikkelde konsep van liefde wat gevorm word deur die prosesse tussen die hart en brein en andersom.” Die bevindings is van groot belang vir neuro-wetenskap en geestesgesondheid want as die liefde nie uitwerk nie, kan dit ’n groot bydraende faktor tot emosionele stres en depressie wees en dit kan tot die gebruik van nuwe terapie lei.
Navorsing deur Helen Fisher van Rutgers universiteit in Amerika noem drie fases van die liefde naamlik wellus, aantrekkingskrag en toegeneentheid. Elkeen van hierdie fases word deur verskillende hormone en chemikalieë gedryf. Die wellus-fase word in sowel mans as vroue deur die sekshormone testosteroon en estrogeen gedryf. Die tweede fase is die fase wanneer jy liefdesverskrik (love struck) is en aan byna niks anders kan dink nie. Wetenskaplikes meen dat drie hoof neuro oordraers in hierdie fase betrokke is naamlik adrenalien, dopamien en serotonien. Verhoogde adrenalien – en kortisolvlakke is die oorsaak van ’n galloppende hart, swetende handpalms en ’n droë mond as jy die geliefde raakloop. Die dopamien stimuleer begeerte en beloning deur ’n intense gevoel van plesier te sneller en dit het dieselfde uitwerking op die brein as kokaïne. Serotonien is volgens Fisher een van die belangrikste chemikalieë en dit verklaar ook hoekom jy voortdurend aan jou nuwe minnaar dink.
Maar verander die liefde werklik ’n mens se denke? Volgens ’n eksperiment wat in Pisa, Italië uitgevoer is, is dit beslis die geval. Dr Donatella Marazzati, ’n psigiater by die Universiteit van Pisa het bloedmonsters van 20 smoorverliefde paartjies wat minder as 6 maande lank verlief was, laat ontleed en het bevind dat die serotonienvlakke van nuwe minnaars ooreenstem met die breinmeganisme van obsessiewe kompulsiewe gedragsafwyking. Wetenskaplikes meen ook dat oxytocin en vasopressin ’n belangrike rol gedurende die derde fase vertolk. Oxytocin is die “drukkiehormoon” en die teorie is dat hoe meer seks ’n paartjie het hoe meer geheg raak hulle aan mekaar. Vasopressin is ’n belangrike hormoon in die langtermyn toewydingfase en word ná seks vrygestel.
Die wetenskap van die liefde is niks anders nie as genetiese breinprogrammering, sê Me Shani Grové, ‘n bekende sielkundige en skrywer van 10 selfhelpboeke waaronder Leef Ligter, hoe om jouself te bemagtig en te word wie jy werklik is, wat oor 16 verskillende soorte verslawende liefdes handel. “Mense is deur gene geprogrammeer om voort te plant om sodoende die voorbestaan van die gene te verseker. Ons is maar net slawe van ons gene. Vir die geen om te oorleef is die oerman outomaties daarop ingestel om soveel as moontlik kinders te verwek. Die relatief dunner bondel senuweeverbindings tussen die man se linker- en regterbrein maak dit moontlik dat hy makliker verskillende kompartemente vir verskillende vroue of sienswyses kan akkommodeer. Die vrou se brein is daarenteen, so geprogrammeer is dat sy net een man sal wil hê sodat sy haar biologiese rol kan vervul.
Carla van der Spuy

Advertisements

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s