Dagboek van ‘n romanseskrywer (8)

Ja, die tweetjies is nou veilig in mekaar se arms – the rest is up to them!
Dit laat my weer dink oor die belangrikheid van ‘n gelukkige einde vir die romanse. Lesers van romantiese fiksie wil doodeenvoudig nie ‘n storie lees, aan die karakters geheg raak – en dan sien hoe die skrywer hulle op ‘n ongelukkige tydstip aan hul eie lot oorlaat nie. Mense lees liefdesverhale omdat hulle graag in gelukkige eindes wil glo. Of so dink ek in elk geval. Hoe meer ontnugtering ons dus in die werklike lewe ervaar, hoe groter word ons behoefte aan ‘n veilige ervaring waar ons daardie ontnugtering vir ‘n rukkie kan agterlaat.
Mens wat sê ons skep ‘n vals indruk oor verhoudings, verstaan nie waaroor ‘n romanse presies gaan nie. Die romanse gaan oor die proses van verlief raak – daardie wonderlike, onverstaanbare ervaring wat ‘n doodgewone mens op die wolke laat loop en ongewone dinge laat dink en doen. Die romanse eindig waar die tweetjies commit (is daar ‘n mooier Afrikaanse woord hiervoor?). Nee, ons is nie so naief om te glo alle paartjies gaan vir ewig en ewig gelukkig saamlewe nie. Ons weet hulle gaan binnekort mekaar se klein foutjies begin ontdek. En ‘n rukkie later mekaar se groter foutjies … En hulle gaan trou en hy gaan gou-gou ontdek hy haat grassny, en sy gaan ontdek hy is ‘n man wat snags al die komberse vir homself wil hou … En sy gaan dalk onbeplan swanger raak, terwyl hy aandring om steeds soos in sy studentedae gereeld deurnag saam met sy pelle te kuier.
Nee, ons leef nie in ontkenning nie. Ons weet die lewe is hard en die glans bly nie vir altyd in verliefdes se oë nie. Ons weet eindes is nie altyd perfek nie. Maar ons weet die lewe is propvol perfekte OOMBLIKKE. En dis wat die slot van ‘n romanse wil wees – ‘n gelukkige oomblik, ‘n oomblik waarin die leser (en die skrywer) in die goeie kan glo. ‘n Oomblik wat die leser (en die skrywer) die krag gee om die werklikheid weer kaalhand aan te pak.

5 comments on “Dagboek van ‘n romanseskrywer (8)

  1. GREAT!! Dankie, Alta!

    Ek dink baie keer raak huwelike ongelukkig omdat die huweliksmaats ophou soek na daardie oomblikke. Hulle raak so verstrengel in die foute en probleme, dat die perfekte oomblikke by hulle verbygaan.

    Gister het my man gesê: “Kom sit seblief naby genoeg sodat ek aan jou kan vat.” Dit was vir my een van daardie oomblikke.

  2. Marile, jy het dit so akuraat EN mooi gestel. Dit is presies hoekom ons almal romanses lees – vir daardie verlief-word gevoel en die gelukkige einde: Om dit weer te ervaar, selfs al is dit net op papier. So kan ons die herinnering daarvan aan die lewe hou en net dalk het dit ‘n positiewe uitwerking op ons eie realiteit.
    Dan is daar natuurlik daardie sug van genoegdoening aan die einde wanneer die twee hulle onvoorwaardelike liefde aan mekaar verklaar, ons die boek toemaak met ‘n kat-in-‘n-roomfabriek glimlag en weer kans sien vir die realiteit van werk, kinders, man, kosmaak, skoonmaak, verkeer, ens. Ek dink altyd dat romanses is ‘n wonderlike mooi plek om heen te vlug wanneer die lewe druk.

  3. Ek wil vir julle vertel van een van daardie oomblikke … Verlede week voor my ma se begrafnis haal ons kinders (die eerste keer in maande weer almal bymekaar) die fotoalbums uit. Oa my ouers se troufoto’s. Ouens julle moet my pa se glimlag op daai een foto sien!!! Hulle sê mos a picture paints a thousand words. Linelle, ek dink nie n kat in n roomfabriek kom naby nie. Dis eenvoudig een van daardie Romanza-oomblikke gewees. En dit was RERIG!! Dit was ook net hulle begin. Hulle was n voorbeeld van die onsterflike liefde.

  4. commit = trou beloof. Nie noodwendig soos in huwelik nie, maar soos in “ek is getrou aan jou en jy aan my in hierdie verhouding.”

    Om ‘n mens se huweliksmaat met gereelde tussenpose net weer te wys jy waardeer hom/haar – dis tower oomblikke 🙂

Lewer kommentaar op Dirna Ackermann Kanselleer antwoord