Wat presies is skryfsukses?

My baie wyse skrywervriendin, Rykie Roux, het onlangs dit vir my gesê:

Wat skryfsukses betref, probeer ek myself herinner dat die reis net so belangrik is soos die bestemming. M a w as ek vandag net een paragraaf kon skryf wat sing soos ’n nagtegaal of een nuwe woord of segwyse vir Afrikaans kon munt, is ek ’n beter skrywer as wat ek gister was. En so sal ek aangaan tot ek doodgaan.”

Wat is skryfsukses vir jou?

15 comments on “Wat presies is skryfsukses?

  1. Ek dink ons sukses kom in verskillende stappe. Die eerste stap is om ‘n boek op die rakke te kry. Daar is hoeveel ‘skrywers’ wat nooit ‘n boek gepubliseer kry nie, dus is dit al klaar ‘n groot prestasie – een wat ons nooit moet vergeet nie! Vandaar af dink ek dat ons elkeen se stappe verskil – ons elkeen se definisie van sukses is iets anders. Vir party is dit die hoeveelheid boeke wat hulle skryf, vir ander die hoeveelheid wat verkoop, vir ander die hoeveelheid geld.
    Ek probeer nou dink wat dit vir my is, en moet erken dat dit heel moeilik is om die ‘daar’ as ‘n skrywer te definieer. Dalk sal dit vir my ‘n kombinasie van al die bogenoemde wees. Ek weet eerlikwaar nie. Ek’s nog nie ‘daar’ nie.
    Dalk as ons dit definieer sal dit ons ‘n beter eindpunt gee om na te streef en ook te weet wanneer ons dit bereik.

  2. Dalk moet ‘n mens net telkens jou oog fokus op die volgende hekkie. En dalk is die “daar” vir elke mens op ‘n ander plek. My man sê altyd die doelpale skuif net telkens weer ‘n entjie vorentoe. As jy een dingetjie bereik, is daar ‘n ander een wat wink …
    Dalk is daar nooit ‘n “daar” nie. Want al het jy die Nobelprys gewen, kan jy altyd mik om hom WEER te wen!! Overgeset synde – jy kan elke boek BETER probeer maak.
    En sukses is nie iets wat vinnig kom nie. (Behalwe miskien vir enkele gelukkiges/begaafdes) Die meeste skrywers bou lank en pynlik aan ‘n reputasie.

  3. Eers was dit vir my die blote feit dat ek die tyd en die vryheid het om te kan skryf. Later het ek dit gemeet aan die groeiende rytjie van my eie boeke op die rak.

    Om te hoor dat lesers my werk geniet, is vir my ‘n mate van sukses. Erkenning en vergoeding is sekerlik vir elke skrywer belangrik, maar soos julle twee hier bo tereg sê, om jou ambag te bestudeer en jou vaardighede te ontwikkel en telkens jou doelwit ‘n entjie verder te verskuif sal uiteindelik ware sukses verseker.

    Van dag tot dag? Sit op daai stoel en hou by jou oogmerk van om ‘n sekere hoeveelheid werk elke dag in te sit! Soos Gary player gesê het: “The harder I work, the luckier I get!”

  4. Vir my slaan Marile se man die spyker op sy kop. Die doelpale verskuif gereeld. En ek moet eerlik wees soms frustreer dit my, want alhoewel mense sê jy moet op my ouderdom wéét waarheen jy gaan, kan ek dit nie elke dag sê nie. Ten spyte van die rytjie boeke op die rak met my naam op voel ek myself nie veel wyser as die dag wat ek begin het nie. Dalk bietjie vaardiger, maar dis ook maar al. Eintlik het julle nou ‘n ding in my kop aan die gang gesit. Ek voel waarlik nie ek het al enige noemenswaardige sukses behaal nie. Dalk is dit net die impetus wat nodig is om bietjie te dink oor hoe ek dit sal definieer. (sodat ek dit herken ás die dag kom????) Maar is dit dan nie steeds net my idee van sukses nie? Ek wonder – is dit nie dalk, as ek die Engelse idioom mag herskryf, Success is in the eye of the beholder, nie?

  5. Dit voel vir my elke keer soos die heel eerste keer wanneer ek weer ‘n nuwe boek moet begin, want dit is nuwe karakters, nuwe milieu, nuwe konflik en spanning want ek wil graag elke boek ‘nuut’ skryf en nie met my eie ou kalwers ploeg nie. Dus kan ek ook nog nie praat van sukses nie. Tog is elke boek wat voltooid op die rak staan ‘n klein persoonlike sukses want ek wil myself nie aan ander skrywers se sukses meet nie, probeer in my eie baan wenstreep toe hardloop en hoef nie noodwendig eerste die lint te breek nie.

  6. Sukses begin klein: Die publikasie van jou eerste boek.
    En dit gaan voort met klein dingetjies soos toe my skoonseun se spaarseun my verlede week aan sy vriendin (net voor hulle vertrek na die matriekafskeid) voorstel: “Dis nou my tannie, Marietjie Welgens. Sy skryf boeke. Sy is famous.”
    As sulke klein gebeurtenisse so goed voel, kan ek nie wag vir die GROOOT goed nie!

  7. Toortsie, natuurlik kan jy saampraat! Jy as leser het mos al ‘n idee wie JY sien as suksesvolle skrywers. As aspirant-skrywer (nog meer as leser) het jy ook ‘n idee van wat sukses vir jou sal wees. Wanneer jy dan eendag ‘n kortverhaal of boek of artikel onder jou naam iewers gepubliseer sien, sal jy net weet hoe dit voel ook.

  8. Skrywersukses is vir my, “Aanhouer wen!” As skrywer is mens nie altyd die eerste keer suksesvol nie. Baie keer voel jy moedeloos en wil jy gaan sit, veral as jou eerste paar pogings nie suksesvol is nie. Maar ek weet dat die skrywer wat aanhou skryf, aanhou verbeter, sal op die ou end ‘n sukses wees. Ek is lewende getuie daarvan. 🙂

    • Jy’s reg, Anzel, daar is bitter min skrywers wie se eerste pogings suksesvol is. Ons begin maar almal met probeerslae. Dis wat jy van die kritiek wat jy kry, maak wat jou uiteindelike sukses bepaal. Mens kom seker ook nooit by ‘n punt waar jy kan sê nou het ek niks meer om te leer nie. Dis wat skryf so ‘n wonderlike loopbaan maak: die feit dat die reis nooit vervelig of oninteressant raak nie.

  9. My persoonlike doelwit is om as debuutskrywer erken te word. Dis die satisfaksie om gerekend te word deur selfs n klein uitgewer vs self publiseer. Deeltyds werk ek vir die afgelope 3 jaar aan n historiese roman van oor die 400 bladsye om n BAAAIIE onbekende faset (laat-steentydperk Namas en baie navorsing) van ons Afrikaanse geskiedenis weer te gee wat nog nooit vertel is nie. Ek het n baie goeie keurverslag gekry, maar is nie aanvaar nie (telling vs showing… en ek stem saam). Ek het sopas die Afrikaanse skryfgids bekom en probeer elke wenk toepas. My vraag is; alhoewel dit fiksie is en drama van sin 1 af uitbeeld, hoe behou ek die plot (moet daar 1 wee?) in n verhaal wat die Namas se oergebruike weergee? Help!

Lewer kommentaar op Madelie Human Kanselleer antwoord