Verwerping of kritiek wat seermaak

Vrees vir verwerping is een van die mensdom se grootste troetel-einas. Wanneer ‘n skrywer ‘n manuskrip pos, begin daardie vrees aan jou knaag. Jou skryfwerk het uit jou hart uit gekom, dis soos ‘n kind wat uit jou gebore is. Verwerping of kritiek gaan jou beslis seermaak. Handewringend wag jy dus op daardie uitslag.

“Dankie, maar nee dankie” kom daardie beleefde, maar besliste briefie. Eina!!

Onthou dan een ding: jy is in goeie geselskap. Groot skrywers het dit ook al beleef en daarna met harde werk groot sukses behaal.

  • Probeer weer. Dalk het jy dit vir die verkeerde uitgewer gestuur. Miskien is dit presies waarna ‘n ander uitgewer op soek is. Moenie jou manuskrip sommer in die onderste laai van jou lessenaar gooi nie. Onthou dat die oordeel wat oor jou werk uitgespreek is, slegs daardie een uitgewer se opinie is.
  • Dalk het jy die verkeerde genre aangepak. Miskien is jou werk meer gepas in ‘n ander genre. Eksperimenteer met iets anders.
  • Probeer objektief na jou werk kyk. Dalk sien jy waar jy kan verbeter. Moenie sommer tou opgooi nie.

OF:

“Jou boek is publiseerbaar, maar slegs as jy dit sus of so verander,” is nog ‘n ander gevreesde briefie. Dit kan net so seer maak as verwerping, want jy was dan so seker jou manuskrip is perfek.

Hoe hanteer jy verwerping of kritiek?

  • Erken dat dit seermaak. Om die pyn te ontken, sal niks help nie.
  • Gee jouself kans om oor die ergste seer te kom en lees dan weer die kritiek. Dit sal heelwaarskynlik nie meer so seermaak soos met die eerste oogopslag nie.
  • Deel jou gevoelens met iemand wat sal verstaan.
  • Wees goed vir jouself: eet ‘n tjoklit of koop vir jouself blomme, drink ‘n glas wyn, of enigiets wat jou sal troos.
  • Takel dan weer die manuskrip en maak die veranderinge wat die redakteur voorstel of pos dit vir ‘n ander uitgewer indien dit verwerp was.
  • Moenie wag totdat jy weer van die uitgewer hoor nie, begin so gou moontlik met ‘n nuwe manuskrip

Skrywers, deel asseblief julle ervaringe met ons. Vertel jou storie. Ons wil graag weet hoe jy verwerping of kritiek oorkom het.

Advertisements

13 comments on “Verwerping of kritiek wat seermaak

  1. Ek dink dis baie belangrik om te onthou dat dit nie jy as mens is wat afgekeur word nie, maar slegs daardie betrokke manuskrip. Presies soos ons nie ons kinders verwerp as hul iets verkeerds doen nie, maar bloot dit wat hulle gedoen het.

  2. Ja, ons ken almal daardie gevoel van ‘n afgekeurde manuskrip. Oombliklik voel jy om nooit ooit weer te probeer skryf nie, want jy het dit dan nie gemaak nie.

    Ek het dit al deurgemaak, die briefie om te sê jou manuskrip voldoen nie aan die verreistes nie. Dit was soos ‘n hou in die maag.En ek het skaam en verneder gevoel en wou dit vir niemand vertel nie. Was daarna vir jare te skaam om vir mense te sê ek skryf, want dan kom die onmiddellike vraag: het jy al gepubliseer? Om dit te vermy het ek in die geheim geskryf. Net my man en kinders het geweet. Maar altyd het die vraag by my bly spook: wat was die uitgewer se vereistes dan, want dit is nie in die afsêbrief gemeld nie. Een redakteur was eerlik genoeg om te sê die storie werk nie, maar hy weet self nie hoekom nie.

    Toe kom ek gelukkig by die regte uitgewer en redakteur waar daar skrywersontwikkeling gedoen word en kry my manuskrip terug met kommentaar en voorstelle van verbetering, met die uitnodiging om dit terug te stuur na ek die nodige daaraan gedoen het. Dit het my aanvanklik ook moedeloos gehad, want dit het oorskryf beteken en, volgens my mening liefllike passasies nekomdraai as voorland gehad. Tog het ek besluit om deur te druk. Die resultaat? My boek staan vandag op my boekrak en ek is baie trots daarop. Vele ander boeke het daarna gevolg.

    Ons wat reeds gepubliseer het, kry ook nog teleurstellings wanneer ons soms ‘n ander genre aanpak wat by ‘n ander uitgewer beland en dan ook, na maande se wag, net ‘n brief kry om te sê “jammer, ons kan nie jou storie gebruik nie.

    Dit is wat skryf behels: aanhou, aanhou, aanhou. En lees soveel as wat jy kan oor die skryfkuns.

  3. Madelie, dis ‘n wonderlike post! En met baie goeie raad hoe om daardie aaklike gevoel te hanteer.

    Alle skrywers het ten minste al een verwerpingsbrief ontvang. Dit kan vir verskeie redes wees: Dalk is daar regtig fout met die ms en daar is beslis nie ‘n mark daarvoor nie. Of die ms het te veel skaafwerk nodig om die storie netjies en grypend te maak. Of… dalk stel die uitgewer net nie belang nie. Dit is werklik ‘n baie subjektiewe besigheid. En dit vertel ek myself sodat ek dit nie persoonlik opneem nie. Gelukkig is dit soos Annetjie se: Die regte uitgewer + manuskripontwikelling = boek op die rak!

    Hier is ‘n voorbeeld van ‘n paar beroemde skrywers wie se werk nie aanvaar was nie:

    1. Stephen King
    Een van die uitgewers het in sy verwerpingsbriefie gese: Ons stel nie belang in wetenskapsfiksie met negatiewe utopias nie. Dit verkoop nie.

    2 . John le Carré
    Na hy sy eerste boek, The Spy Who Came in From the Cold, voorgele het, het een van die uitgewers dit na ‘n kollega gestuur met ‘n nota: “Hy het geen toekoms nie.”

    3. J.K. Rowling
    Harry Potter and the Philosopher’s (later Sorceror’s) Stone was uitgegooi deur ‘n klomp uitgewers, insluitende: Penguin and HarperCollins. Bloomsbury, ‘n klein uitgewertjie, het haar boek aanvaar en kyk net!

    4. John Grisham
    Sy eerste boek, A Time to Kill, was verwerp deur ‘n dosyn uitgewers en 16 agente voor dit uiteindelik aanvaar was en so ‘n ‘best-seller’ loopbaan begin het.

    Aanhouer wen!!!!

  4. Ek glo nie daar is ‘n skrywer wat nog nie ‘n ms teruggekry het nie. Dit is egter vreeslik frustrerend as jy ‘n ms terugkry en net gemeld word dit is nie geskik vir plasing nie – sonder om te weet wat is dan verkeerd. Gelukkig is Lapa nie een van daai soort nie – hul vertel jou presies wat is fout en al is dit steeds nie ‘n lekker gevoel nie, leer jy daaruit.

  5. Stephen King vertel in sy outobiografie “On writing” dat hy op ‘n stadium een van daardie outydse staandertjies met ‘n skerp metaal pen gehad het waaraan hy sy verwerpingsbriewe gesteek het om rekord te hou van hulle en dat hy sommer ‘n hele klomp aan daardie pen gehad het!

    Ander kunstenaars wat ook aanvanklik verwerp is:

    ‘n Platemaatskappy het Elvis Presley weggewys en agterna glo vertel: “Here was some kid who thinks he can sing, but I told him to go away.”

    Walt Disney was uitgelag toe hy vir die eerste keer sy idee van animasieflieks voorgestel het!!

  6. Dit klink byna of verwerping, soos misery, ‘n maatjie soek. Maar dit troos tog om te weet ander skrywers (ook regtig groot name) het daardeur gegaan. Per slot van sake is dit die uitgewer wat weet wat verkoop. Mens kan verseker na hulle luister. En positiewe uitgewers wat positiewe kritiek lewer, wat aanmoedig en boonop voorstelle gee vir verbetering, lyk ten minste asof hulle weet waar mens te kort skiet. Dié wat niks anders as Nee Dankie sê nie, WEET dalk self nie wat fout is nie. As hy nie weet nie, dan hoef mens seker ook nie jou hart uit te huil oor sy verwerping nie. As dit my troos, doen ek ten minste niemand skade nie .

  7. Ek was buite myself toe die uitgewer bel en sê hulle is verskriklik opgewonde oor die ms. Daar moes net ‘n paar veranderinge gemaak woord teen ‘n bepaalde sperdatum. Ek het die veranderinge aangebring en die ms weer weggestuur. Toe kom net ‘n onpersoonlike briefie van dieselfde vrou wat ‘n paar maande tevore so opgewonde was. Die Ms is afgekeur. Punt Klaar. Ek was teen die planke van teleurstelling. Nie hoekom dit nou nie meer goed was nie. Ook nie wat ek kan doen om dit te verander vir die toekoms nie. Net; dit is afgekeur.
    Hiermee het ek ‘n probleem, om ‘n mens so opgewonde te maak dat jy vir dae twee meter bokant die aarde beweeg en jou dan sonder ‘n rede met ‘n bang terug te bring, is nie aangenaam nie.
    Vandag nog kan ek dit nie kleinkry nie, maar gelukkig het ek by ‘n uitgewer beland wat regtig belangstel en moeite doen om gedetaileerde verslae te stuur. Ek glo dat as jy ‘n brief kry wat sê dit is nie goed genoeg vir publikasie nie, moenie ophou nie. Sit die seer eenkant en gaan soek iemand wat vir jou kan help en probeer weer. Net volgende keer is jy gelukkig.

  8. Mari, onthou jy die uitdrukking wat ons as kinders altyd gebruik het? “Eers gegee en dan teruggeneem is erger as ‘n dief gesteel!”

    Sjoe, dit moes vir jou baie erg gewees het, Mari, MAAR kyk waar staan jy nou – jy het ‘n hele lys gepubliseerde boeke en sommer BAIE aanhangers. Moenie ophou skryf nie.

  9. Ek het eers begin skryf toe ek 40 was. Ek het met kortverhale begin maar hulle het vinniger terug gekom met die onpersoonlike ou notatjie by. “Dit is ongelukkig nie geskik vir publikasie nie.”
    Toe een dag stuur ek ‘n storie vir die Sarie en die redakteur kritiseer toe vir my die storie. Toe vir die eerste keer besef ek ,waar ek fouteer. Ek besef toe ook ek is te langdradig vir n kortverhaal en ek begin toe ook in die geheim skryf. Nie eers my man en kinders het daarvan geweet nie. Ek skryf toe vir Jakkalswater en gooi dit onder in’n kas. Omtrent n jaar later toe hoor ek die aand oor “Lesers en Boeke”, dit was n program op die radio dat J.P.v/d Walt n kompetisie uitgeskryf het met n afdeling vir Nuwe Skrywers. Ek het toe die prys vir die Nuweling skrywer gewen en dit was alles te danke aan die verhale Redakteur van Sarie. Kritiek is baie kosbaar, al is dit nie lekker nie.

  10. Die harde werklikheid is dat ‘n mens baie meer uit kritiek kan leer (as jy gewillig is) as uit komplimente. Naar, maar waar!

  11. Jou goeie raad oor hoe om verwerping te hanteer, kan ons toepas op ALLE terreine van ons lewe. Orals is ons maar bang om verwerp te word, en so gaan BAIE talent verlore. Want baie keer is dit juis die mense naby aan jou wat jou afraai om ‘n ding te doen, dalk is hulle bang jy steek HULLE in die skande? Of dalk is hulle bang hulle verloor jou as jy goed doen?? Baie dankie vir hierdie mooi skrywe.

    • Jy’s baie reg daar! Ek dink op alle terreine word baie dinge NIE gedoen nie, omdat ons diep binne-in iemand gaan minder van ons dink as ons nie ‘n sukses daarvan maak nie.
      Aan die ander kant is daar ook iets soos ‘n vrees vir sukses, maar dis weer ‘n ander dag se storie …

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s