Om van die huis af te werk

Voltydse skrywers is bevoorreg om hul beroep van die huis af te kan beoefen. Ja, daar is ooglopende voordele – soos dat jy netso hard kan werk in jou pj’s en hasie-pantoffels as in ‘n korporatiewe pakkie erens in ‘n hoe gebou. Daar is natuurlik ook nadele – soos dat jy naderhand verleer om met jou netjiese hakskoentjies te loop en soos ‘n eend waggel wanneer jy gedwing word om die buitewereld aan te durf.
Dink jy mense beskou jou werk as ‘n REGTE werk? Of dink hul jy drink heeldag tee en lees storieboeke (wat natuurlik vir ‘n skrywer noodsaaklike navorsing is!)
Wat is die voordele?
Wat is die nadele?
Enige wenke vir ander wat dit dalk oorweeg?
Hoe lyk ‘n tipiese werksdag?
Laat weet ons, asb!

Advertisements

24 comments on “Om van die huis af te werk

  1. Ek het onlangs tot my verbasing uitgevind dat daar tog wel mense is wat dink ons skryfwerk is “regte” werk, en dit nogal komende van ‘n man. Hy het gevra hoe lank ek al skryf, en my antwoord was: Ek het eers jare lank gewerk en toe het ek in die negentigs begin skryf. Hy vra toe: Nou verstaan ek nie so mooi nie, jy sê jy het eers jare lank gewerk en toe het jy begin skryf… is skryf dan nie ook ‘n werk nie? Ek dink dit is harde werk, want elke lettertjie, elke sin, elke komma en punt en leesteken word in jou gedagtes geformuleer en deur jou vingerpunte op die toetse uitgehamer op so ‘n wyse om dit vir jou leser interessant en aanloklik te maak.
    Dit laat sit mens aan die dink, nè! Soms laat ons eie antwoorde aan lesers hulle dink dat om te skryf is om te speel.

  2. Werk van die huis af is vir my een groot lekkerte. As ek nie wil werk nie, kan ek doen wat ek wil en as die skryflus of die muse my in die middel van die nag pak, kan ek opstaan en aan die werk spring.

    Die nadeel vir my is dat ek nou nooit werklik weg van my werk af is nie. Afskakel en ontspan is deesdae vir my nogal moeilik.

    Nog ‘n probleem is dat mense aanvaar jy is te alle tye beskikbaar, want ‘jy werk mos nie’. As jy dus verskoning maak en sê dat jy iets nie kan doen nie, want jy het werk, dink hulle jy dink net verskonings uit.

    Baie mense dink werklik dat skryf nie regtig werk is nie.

    Ek probeer dus om kantoorure te handhaaf en hou my dikvellig vir onredelike versoeke wat my skryftyd gaan steel.

    Die grootste tydsteler is natuurlik die blogs!! Ek het al als probeer om myself te dissiplineer, maar ek swig telkens maar weer … soos nou!

  3. Ja, ons spandeer soms te veel tyd hier, maar die blogs gee ons daardie samesyn met kollegas wat ‘n mens nie het as jy by die huis werk nie. Dalk moet ons dit maar beskou as die tydjie in die teekamer of by die koffiekan van enige maatskappy waar kollegas met mekaar gesels oor werksdinge (of ander dinge!) Die blogs het in der waarheid vir ons almal kollegas gegee, wat ons nie voorheen gehad het nie.
    Hoewel ek ‘n mens is wat soms alleen moet wees, kan dit regtig eensaam word so alleen by die huis. Daarom is sms’e en e-pos vir my ‘n wonderlike manier om in voeling met ander mense te bly. ‘n Mens kan daarmee so lekker vinnig iets se wat jy wil se, sonder bv ‘n tydrowende telefoonoproep of besoek.
    Maar as jy by die huis werk, hoef niemand natuurlik te weet wanneer jy wel ‘n oproep of besoekie toelaat om ‘n bietjie lank uit te rek nie … Dit bring my by die heel lekkerste aspek van ons situasie – die gebrek aan ‘n baas! Of ja, daar is ‘n baas – ons lesers! Maar hulle is gelukkig geduldig en vol begrip …

  4. Ek wil net so ‘n ietsie byvoeg. Dalk ter wille van dié wat nog nie só lank met hierdie hoogs stimulerende, vervullende ambag van ons besig is nie. As jy nie in jou pasoppens is nie, kan jou lewe so groot word soos die omvang van jou rekenaarskerm. Ek het mettertyd ontdek mens moet plek MAAK vir daai hakskoentjies. Hulle willens en wetens onder die slippers en plakkies gaan uitgrawe, aantrek en hulle dan toelaat om buite die vier mure van die lekkerste werkplek op aarde, te gaan wandel. Jou lewe kan erg vereng terwyl jy eintlik baie besig is.

    • Jip, Dirna, nou spreek jy ‘n waar woord. Skryf kan ‘n mens se lewe oorneem as jy nie pasop nie. Maak tyd vir regte mense ook. Onthou, hulle bly die broodnodige bron van jou inspirasie en materiaal vir jou stories. Dit bring ook balans in jou lewe.

  5. Ek sit eintlik tussen die boom en die bas omdat ek voltyds buitenshuis skoolhou en ook voltyds (!) van die huis af skryf. Die skrywery beskou ek as deel van my ontspanning/ontvlugting, en glo my, dis vir my net so onmisbaar soos om sjokolade te eet! Al wanneer dit baie dissipline verg, is wanneer die ‘deadline’ naby is en die storie nog nie klaar nie, of wanneer ek ‘n manuskrip moet ‘redigeer’ (wat eintlik beteken herskryf!).
    Omdat ek by die skool ondervinding het van leerlinge, hul ouers, die hoof, die onderwysdepartement wat almal jou baas is, is dit lekker om aan iets te werk waar jy nie ‘n baas het nie (die C’s is eintlik nie regtig BAAS nie?)
    My arme manlief trek maar erg swaar. Ek dink/asem/leef ‘n storie en vra hom allerande vrae (hy is my wandelende ensiklopedie) en dan verbrand ek die kos ook nog al is my werksplek binne gryp- en ruik-afstand van die stoof af!
    Die bloggers is ook werklik vir my kollegas omdat ek by die skool ELKE pouse in die Snoepie werk en dus net 10 minute voor skool kans kry om met my skoolkollegas/ vriendinne te gesels of as ons ‘n spesiale ‘date’ maak om te gaan koffie of tee drink.

  6. Ek is nie ‘n skrywer nie, maar ek werk ook voltyds by die huis. Ek is in diens van ons besigheid. Maar die meeste mense besef dit nie, en daarom hanteer hulle my soos ‘n huisvrou – iemand met baie tyd. En dan kan hulle nie altyd verstaan as jy sê jy kan nie nou nie!! Die lekker daarvan is dat ek fleksie-tyd werk. As dit nodig is, werk ek sommer ‘n nag deur! Die sleg is dat jy maklik met iets anders kan besig raak en skoon vergeet van die werk wat gedoen moet word!!

    • Hi Toortsie! Vandat ek begin skryf het, sal ek ook nooit weer na iemand wat van die huis af werk, selfs ‘n huisvrou, dink as iemand wat hope tyd het nie. Welkom by ons geselsplek en sterkte met jou werk. Ek wens soms ek kan die skoolhou heeltemal los en net by die huis sit en skryf, maar heelaas – die onderwys betaal goeie geld al sê die stakende massas wat.

  7. Hoe lekker is dit nie om te weet ons is almal in dieselfde bootjie en kan saampraat en mekaar se skrywersbehoeftes verstaan. Ek kan amen sê op elk van die vorige opmerkings. Ek werk ook vaste ure en dit het nogal lank geneem voor my bure en kennisse dit verstaan het en besef het ek kan nie elke oggend of middag kuier en teedrink nie. Werklike vriende, vir wie jy jou hart kan oopmaak, verstaan beter waarom ek liefs ‘n afspraak maak vir ‘n koffietjie en oëwys en dan ‘n kwaliteitkuier inkry. Ek werk ook vir my inkomste, net soos enige agt tot vyf kantoordame, of watter ander beroep ookal, en het ook ‘n baas: my gewete, my kreatiewe drang, my lesers en LAPA. Ek het ook spertye, wat ek self stel om my te dissiplineer en kan daarom nie aan allerlei verenigings behoort nie.
    Daarom kan ek vir enige aspirant- en beginnerskrywer sê dit hang van jouself af of jy geskryf gaan kry. En ek stem heelhartig saam, ons moet soms wegkom van die rekenaarskerm en tussen mense kom om te luister en te kyk en waar te neem. En om te geniet.

  8. Kan ek maar my nie-skrywer vinger in die pie druk?

    Ek het al baie dinge van Suid-Afrikaanse skrywers gehoor. Onder andere dat daar bitter min van hulle is wat hulle self met hulle pen kan onderhou. Dit is dus seker ‘n groot voorreg indien jy wel heeldag op jou as kan sit en van die huis af kan werk aan ‘n boek. Soos ek verstaan moet die meeste (selfs briljante skrywers) voltyds werk om die pot aan die kook te hou en in gesteelde uurtjies aan hulle passie wy.

    • Xena, jy sal verstom wees om te hoor daar is ‘n hele paar van ons Romanza-skrywers wat voltyds skryf en daaruit ‘n lewe maak. (Nou praat ek waarskynlik nie van ryk word nie, maar net oorleef.) Ander, soos ek, werk voltyds en skryf by die huis. Maar dit help ons ook ‘oorleef’ omdat dit vir ons terapie is, lekker is, en een van daardie Langenhoven-dinge: die swaarkry met lekkerkry klaarkry. Want al is skryf wraggies harde werk (al sit mens op jou jis!), is dit vir ons ook beloning en ontspanning en ontvlugting en soos medisyne wat ons uit die malhuis hou.
      As jy hier is, is jy seker ‘n leser, so dankie dat jy ons help onderhou!

  9. Ek (wat myself nogal as ‘n feminis beskou!) moet ruiterlik toegee ek sou nie voltyds kon skryf as ek nie ‘n man gehad het wat die broodwinner is nie. (Ek kan darem meestal sorg vir die poeding). Na jare in ‘n beroep wat my nie bevredig het nie, was hy die een wat my die stootjie gegee het om die sprong die onbekende in te waag.
    Vir my is die jare van ‘n beroep plus kinders in die huis verby (o, ek mis dit vreeslik – die kinders, nie die beroep nie) en dis nou die geleentheid om my op hierdie manier uit te leef. Maar heelwat van ons skrywers is nog jonger mense met skoolgaande kinders plus ‘n beroep.

  10. Xena, met werk vir my inkomste het ek eintlik bedoel my sakgeld, geldjie wat my eie is, want ek is ook afhanklik van my man. Ek geniet my skryftyd regtig baie, want was ook vir jare in die arbeidsmark en is daarom dankbaar vir die lewe wat ek nou het. Lekker werk.

  11. Ek is ook so gelukkig om voltyds te kan skryf, maar ook net omdat my man die pot aan die kook hou. Die inkomste van ‘n skrywer is ongereeld en jy kan nie werklik daarop staatmaak nie, die storie dat min Afrikaanse skrywers leef van hulle skryfwerk is dus waar. As ons leserspubliek meer geld aan boeke spandeer het, of liewer, as ons ‘n groter leserspubliek gehad het, sou ons inkomste genoeg kon wees. Die skrywers van die Mills & Boon boeke, wat wêreldwyd versprei word, se inkomste kan eenvoudig nie met ons s’n vergelyk word nie. *SUG!*

  12. Ek glo ek het die talent om te skryf en wil dit bittergraag ontgin nou nadat ek my werk “verloor” het in die verskepingsbedryf. My webblad hou geen verband met skryf nie, maar ek dui dit tog aan. Ek stel baie belang in reisskryf en kortverhale en “short stories”, beide in afrikaans en engels. Ek weet van die kursusse wat mens kan deurloop as vryskutskrywer en ook by die S.A Writer’s College. Ek sal graag wil weet waar begin mens as mens nie nou kan inskryf vir ‘n kursus nie? Kan ek ‘n paar stories skryf en stuur vir iemand? As predikantseun wat uiteraard grootgeword het in ‘n pastorie (geensins konserwatief) het ek nogal ‘n paar “skokkende” en lekker stories, veral as tiener in die 70’s in die Vrystaatse Goudvelde

    Groete

  13. Jaco, om geld te verdien met skryf is nie maklik nie, veral as jy in Afrikaans wil skryf. Daar is min skrywers in Suid Afrika wat leef van skryf. Maar as jy die passie daarvoor het, moenie dat geld jou terughou nie! Die beste raad wat ek jou kan gee, is doen dit en stuur dit aan die redakteurs waar jy dit gepubliseer wil hê. Die belangrikste is egter om eers uit te vind wat uitgewers en tydskrifredakteurs wil hê. Doen jou huiswerk deeglik voordat jy sommer wegspring en begin.

    • Hi Madelie

      Ek dink daaraan om ‘n kursus in kreatiewe skryfkuns en tydskrifjoernalistiek te deurloop by die SA Vryskutskrywers. Het jy enige kommentare van hierdie kursusse? Ek is seker dit behoort mens te help om aan jou skryfstyl te slyp
      Groete
      Jaco

  14. Salmari, daar is net een raad: Byt vas en druk deur. Skryf is harde werk en verg deursettingsvermoë. Die feit dat jy weer en weer probeer, wys my dat jy regtig wil.

    Lees die inskrywings op hierdie en al die ander bladsye hier. Ek glo dat jy iewers iets sal kry wat jou inspireer om weer te probeer!!

  15. Salmari, ek stem saam met Madelie. Iemand het gesê die heel belangrikste ‘tool’ vir ‘n skrywer is ‘butt glue’. Dit verg werklik deursettingsvermoë om jou eh… agterent op die stoel te hou en vasbyt om nie jouself skoon uit die ding uit te praat nie. Veral wanneer jy dink dit wat op die skerm staan sommer gemors is. Hanteer dit soos kantoorwerk. Jy MOET gaan sit en dit doen. Ek het myself al betrap dat ek ander dinge soek om te doen net sodat ek nie voor die rekenaar hoef te gaan sit nie. Moet ook nie wag vir daardie ontwykende wonderwerk ‘inspirasie’ nie. ‘n Cliche, maar baie waar, skryf is 99% perspirasie en 1% inspirasie. Sterkte!! Dis uiteindelik al die moeite werd.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s