Dagboek van ‘n romanseskrywer

Hierdie is ‘n proefneming. Dalk kan dit vir my as aansporing dien as ek weet mense sien op die internet of ek aan die woeker is – of aan die wroeg omdat ek nie woeker nie! Dit kan miskien vir aspirant-skrywers interessant wees om die pad te sien wat ‘n storie by ‘n skrywer loop. En vir ander skrywers, wat gerus kan aandui waar hulle pad verskil van myne (want dit sal beslis). Verskoon asb. hierdie lang post – die lateres sal natuurlik baie korter wees.

1. Augustus 2010 – besoek ‘n interessante plek en besef ek moet beslis ‘n storie daar laat afspeel.
2.
Terwyl nog daar is wonder ek oor die beroepe van die hoofkarakters. Dis vir my belangrik om te skryf oor iets wat ek baie goed ken, maar ‘n mens kan tog ook nie net elke keer skryf oor die paar beroepe waarvan jy kennis het nie. Ek kyk dus terug oor my vorige romanses en besluit op ‘n beroep wat ek al tevore gebruik het, maar met ‘n ander spesialiseringsgebied.
3. As ‘n mens die held en heldin het, moet jy hulle natuurlik erens saamgooi in ‘n interessante situasie. Op die ou end besluit ek op iets wat redelik na aan die werklikheid is.
4. Intussen wonder ek hoe hulle moet lyk. As ek nie kan sien hoe die mense lyk nie (in my geestesoog), kan ek nie dink wat hulle sal doen nie. Ek kyk terug na my vorige romanses en besef my donkerkophelde was telkens my lekkerste helde (dis nou volgens my – lesers verskil dalk). Die blonde manne het my beslis minder aangespreek – en ons weet die skrywer moet kan verlief raak op haar held, anders kan sy nie die leser op hom laat verlief raak nie. Dit is dus maar weer eens ‘n donker man met donker oe.
Ek kyk terug na my ander stories en besef die meeste heldinne is blond. Ek sit die boeke langs mekaar neer en bekyk die voorblaaie. Dit gaan sekerlik later vervelig word as elke liewe boek ‘n blonde meisie op die voorblad het. Hierdie een moet dus ‘n donkerkop wees. Dit bring my by die vraag of dit goed is om die held en heldin elke keer heeltemal verskillend te laat lyk, of kan dit goed werk as hul redelik eenders lyk?Mettertyd begin ek egter besef hierdie heldin wil nie ‘n vurige donkerkop wees nie. Sy wil ‘n warmbloedige rooikop wees (soos iemand wat ek werklik daar ontmoet het … nudge nudge wink wink …) Na ‘n redelike stryd en prettige gesprek met die persoon gee ek die heldin met vreugde haar sin. Hoe maklik dit vir Lapa gaan wees om ‘n mooi rooikop vir die voorblad te kry, weet ek nie. Maar dis anderdag se worries …
Dis altyd vir my lekker as ‘n karakter sy eie lewe en wil begin kry – maar dit kan seker ‘n maklike verskoning vir swak skrywersbesluite ook wees!!
Hul ouerdom – Ek besluit ook hulle gaan nie so erg jonk wees nie – so erens tussen middel dertig en middel veertig. Weet nog nie lekker of ek dit moet noem of net moet impliseer nie.
5. Intussen wonder ek oor hul karaktertrekke. Tot watter mate kan ‘n mens se helde en heldinne altyd dieselfde sterk- of swakpunte he sonder om vervelig te raak? ‘n Humorsin is bv vir my ontsettend belangrik by ‘n held. Tydens prof Hans se lesing op Potch beklemtoon hy dat ‘n mens jou karakters baie goed moet ken – jy moet baie meer van hulle weet as wat jy vir die leser gaan vertel. Ek maak dus die drie hofies wat hy voorstel en begin dinge neerstip.
Fisiek – hoe lyk hy
Sosiaal – sy geaardheid, wat hy doen, vriende, familie
Psigies – ‘n hangup (maar nie te ernstig nie!)
Prof Hans beklemtoon hoe belangrik dit is dat jou karakters van mekaar moet verskil. Dialoog is ‘n kragtige manier om dit te bereik. En om hul ‘n kenmerkende mannerisme te gee werk ook baie goed. Maar wat? Dit moet iets wees wat jy effektief kan beskryf. En dit moet iets wees wat nie on-sexy is nie! Ek het wel ‘n idee, maar weet nie hoe ek dit beskryf sal kry nie.
6. Toe moet ek besluit op die openingstoneel. Ons weet almal die begin en die einde van ‘n romanse is baie belangrik en ‘n mens wen of verloor lesers daar. Daarby probeer ek altyd die held alreeds in daardie eerste toneel inbring. ‘n Mens wil natuurlik ook agtergrondinligting daar gee, maar ek dink dis ‘n versoeking om te gou te veel te gee en jou leser te verveel. Prof Hans het ook beklemtoon hoe belangrik die karakters se back story is, want daarsonder kan daar nie in die hede iets gebeur nie.
7. Oor die newekarakters het ek nog glad nie sekerheid nie. Ek het wel vir haar ‘n moeilike (en baie jong en hupse) ma gegee. Ek het mettertyd begin besef ek laat in die meeste stories een of albei se ekse op die toneel verskyn. Hierdie slag wil ek dit probeer vermy. Maar dis nogal moeilik! Dis een voordeel wat ouer helde en heldinne bring – daar kan altyd ‘n eks erens in die prentjie kom!
8. Maandag, 6 Sept. 2010 – Ek maak my somme en besluit dat ek teen ongeveer duisend woorde per weeksdag teen die einde van November kan klaar wees. Reg, ek het dus ‘n haalbare doelwit. Ek spring entoesiasties weg en tik my duisend woorde. Die openingstoneel lyk nie vir my te sleg nie. Die held verskyn alreeds in die eerste sin, hy is aantreklik (die beskrywing is kort), daar is dadelik ‘n konneksie van die heldin se kant af.
9. Dins, 7 Sept. – Ek gaan voort met die eerste toneel. Die twee is in mekaar se omgewing en daar is spanning, want sy herken hom maar hy weet niks van haar af nie. Daarby is haar  ma saam met haar op reis en daar is spanning tussen hulle twee. Daar ontstaan ook spanning tussen die held en sy aanstaande skoonmoeder … Ek vorder nog omtrent duisend woorde.
10. Woens, 8 Sept. – ‘n Klein krisis in die huishouding – en ek skryf met groot moeite laat in die dag heelwat minder as duisend woorde. En ek beland op ‘n punt waar iets nou moet GEBEUR om die storie verder te dra … en NIKS gebeur in my kop nie. Ek gaan slaap tamelik moedeloos.
11. Don., 9 Sept. – Terwyl ons die oggend stap vertel ek my man van ‘n liedjie waar die verteller praat van ‘n meisie wat hy tevore in ‘n sekere werelddeel gehad het en na wie hy verlang. Net daar besef ek dis wat my held moet he – hy’s ‘n swerwer en hy het erens iemand agtergelaat.
Terselfdertyd besef ek die storie het spoed verloor omdat ek te vinnig te veel inligting gegee het – ek sal dit moet verander dat sy nie aan die begin besef wie hy is nie.
Intussen is daar mense wat my nodig het en ek skryf die hele dag niks. Toe ek eintlik moet kosmaak, beland ek vir die eerste keer die dag voor die rekenaar. Ek lees oor en besef ek sal moet begin moor. Ek haal ‘n hele paar honderd woorde uit en save hulle op ‘n ander plek, vir ingeval ek hul weer nodig kry. Ek lees oor en besef dit was die regte ding om te doen. En gaan slaap ‘n bietjie minder wanhopig.
12. Vry, 10 Sept. – Ons het namiddag ‘n begrafnis (‘n vriendin se bejaarde pa) en ek weet ek sal moet roer as ek voormiddag iets gedoen wil kry. Ek is dus vroeg-vroeg voor die rekenaar – en hier sit ek, besig om te blog ipv te skryf …

Advertisements

8 comments on “Dagboek van ‘n romanseskrywer

  1. Marile, so min of meer maar my werkwyse ook. Ek het byv. Sondagoggend in die droeë loop van die Swakoprivier gestap met my niggie wat te heerlik babbel, en net daar tussen die twee van ons word ‘n storie gebore. Probleem… die held se werk gaan nogal navorsing verg. Nou weet ek nie so mooi nie. Die nuwe storie of die een waarvoor daar nie so baie navorsing gedoen moet word nie? Die sperdatum lê nie so ver in die toekoms nie. Dalk maar veilig speel en die laaste een vir ‘n ander dag hou? Of waag ek? Het julle raad?

    • Watse beroep is dit?Miskien kan jou blogmaats help. Die internet het soveel inligting … dit neem dalk glad nie so lank as wat jy dink nie.

      Om te skryf oor iets wat jy reeds weet, is natuurlik altyd veiliger, maar wie wil nou veilig speel as jy iets so opwindends soos skryf doen?

      … Sê ou Grootbek wat altyd koes vir navorsing!!

  2. My gut feeling sê die woestyn een. ‘n Kernfisikus, Madelie! Is daar êrens iemand wat daarmee kan help??? Ek het dit gekies omdat dit goed inpas in die Namibiese opset met sy uraanmyne, en die karakter uitstekend gaan pas.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s