Waar gaan dinge gebeur?

Hoe kies jy die ruimte waar jou verhaal gaan afspeel? Kom dit heel eerste, of besluit jy eers op jou hoofkarakters en plot?

Advertisements

13 comments on “Waar gaan dinge gebeur?

  1. Ek is mos ‘n beplanner. Wat eerste kom is my karakters en die hoofkonflik tussen hulle. Dan soek ek na ‘n interessante ruimte wat gaan help – nie net met die konflik nie, maar ook om die karakters nader aan mekaar te bring.

    Elke skrywer doen dit anders. Hoe gebeur dit vir jou, Marile?

  2. Ek het dit nooit so beplan nie, maar dit lyk vir my die ruimte kom vir my eerste en daarna die ander dinge. M.a.w. ek besluit eerste waar die storie gaan afspeel en daarna wie die hoofkarakters is en wat hulle issues is. Ek kry nie my karakters gebou as ek nie weet waar hul gaan funksioneer nie. Of so lyk dit vir my! Dit was vir my ‘n groot dag toe Helene de Kock gese het dit werk vir haar ook min of meer so.
    Aansluitend hierby is dat ek gewoonlik skryf oor ‘n ruimte wat ek baie goed ken en waarvan ek dus werklike herinneringe en ervarings het om op voort te borduur.
    Maar dis belangrik om altyd te onthou elke skrywer moet self uitvind wat vir hom/haar werk. Ons kan deel in mekaar se ondervinding, maar ons kan nooit vir mekaar voorskryf nie.

  3. Dis ’n moeilike vraag. Soos Marilé kan ek ook nie karakters uitbeeld as ek nie weet waar hulle is nie. Ruimte is dus baie belangrik. Ek moet egter erken dat die oorspronklike idee vir ’n storie nie noodwendig aan ruimte gekoppel is nie. Dis dalk ’n karaktertrek wat my interesseer, of ’n toneel wat ek helder kan sien afspeel, en dit, saam met ’n hele klomp ander goed, dryf eers los in my kop rond voordat ek tot skryf kom. Maar dit word eers ’n storie as ek my die ruimte kan verbeel.

  4. Ek het nie ‘n vaste manier van werk nie. Meestal kom die karakters eerste en dan pas ek die omgewing aan by hulle. Ek skryf ook liefs oor plekke waarvan ek ten minste iets weet. Atmosfeer is nogal vir my belangrik. Ek het wel al self ‘n dorp geskep, maar dit was in ‘n bekende streek. Baie keer maak ek selfs tekeninge van ‘n dorp of huis. Ek is baie visueel ingestel. Ander kere sal ek sorg dat ek kaarte en foto’s het waarna ek kan kyk. Ek het al selfs plakboeke gemaak oor ‘n storie.

  5. Dirna, ek werk soos jy. My karakters kom eerste met hulle beroepe en dikwels bepaal die beroep waar die storie gaan afspeel. Ek is in die gelukkige posisie dat ek al in baie dele van ons land gewoon en gewerk het en dis nie vir my moeilik om ‘n geskikte ruimte vir my storie te kry nie.

    Maar dat die ruimte belangrik is, is vir seker!! Dit skep atmosfeer en agtergrond en bepaal ook dikwels wie die newekarakters is.

  6. Ruimte is vir my ook baie belangrik en ek gebruik graag mooi plekke waar ek kom en bou ‘n storie wat daar afspeel. Na ons Mosambiekvakansie het my boek, Nooit weer alleen, daar afgespeel. Bruid in brokaat speel gedeeltelik in Japan af, omdat ek daar vir my kind gaan kuier het. Soms skep ek wel ‘n denkbeeldige plek en teken dan ‘n kaart daarvan of gee ‘n bekende dorp ‘n ander naam sodat ek wel kan afwyk van die bekende bakens. Wil nie graag inwoners se nekhare met onwaarhede laat rys nie. My karakters en gebeure val dan maklik in plek.

  7. Ruimte is vir my baie belangrik en is dikwels in my boeke geknoop aan die konflik. In die geval van Springgety byvoorbeeld het Lily eerste gekom en toe Springklip. Toe haar huisie, die Visvrou, toe Kruisbaai en toe eers Ben. Ek teken ook my verskillende ruimtes. Vir Springgety het ek die dorpskaart geteken, maar ook die binnekant van Lily se Visvrou en Ben se glas ark teen die krans. Ek moet weet hoe die karakters binne elke ruimte kan rondbeweeg. Ek kom telkens agter hoe ‘n vrot argitek/dorpsbeplanner ek sou gewees het! Ek gebruik denkbeeldige ruimtes sodat ek my nie hoef te bekommer dat mense wat in die omgewing woon my kan uittrap nie.

  8. Welkom hier, Chanette!!

    Weet jy, ek volg Leslie Wainger se raad om ‘n ‘storiebord’ van die karakters en hul omgewing te maak. Ek knip prente uit tydskrifte van hoe ek my voorstel die karakters en hul huise en/of werkplekke lyk en plak dit op ‘n bord in my studeerkamer. (Ek kan nie teken om my lewe te red nie!) Soos jy sê, help dit mens om hulle te laat gestalte kry in jou kop en sodat jy hulle kan laat rondbeweeg in hulle ruimte. Die kaart van die dorp is ‘n uitstekende idee. Ek sal dit bietjie probeer.

  9. Madelie, daar het jy nou die woord wat my ontgaan het. Ek maak gewoonlik ook ‘n storiebord. Teken kan ek nie en meestal is my dorpsbeplanning en argitekstekeninge iets om oor te ween, maar die karakters het nog nie gekla nie en dit werk vir my.
    Chanette, dankie vir daai tip. Klink na ‘n blink idee. Volgende keer probeer ek dit.

  10. Ai julle werk hard aan julle omgewing. G’n wonder julle plekke is so duidelik as mens dit lees nie. Ek kry nooit prentjies in boeke wat my plekke heeltemal weergee nie, ek loop dus maar met die plek in my kop rond. Ek moet sê af en toe gebeur dit dat ‘n plek wat ek besoek my storie begin, soos met Donkermaan (wat nog in wording is!) maar soms kom ‘n karakter eerste, of ‘n idee, of wat ookal die storie trigger. Dan skep ek maar die plek rondom die karakter, of rondom die storie. Maar miskien moet ek die neerskryf en/of teken-ding begin doen, want daar is Black Holes in my kop wat herinner aan die buitenste ruimte – ewe groot, en ewe gulsig.

Wat dink jy??

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s