Rykie Roux: Te veel karakters
Baie van ons skrywers maak die fout om te veel onnodige karakters in ons stories te hê. Skryfguru Donald Maass beveel aan dat jy jou karakters lys en langsaan skryf wat elkeen se funksie is. As jy minder as tien karakters het, moet jy ten minste een uithaal. Meer as tien, twee! Die geheim is om aan een karakter twee funksies in jou storie te gee.
’n Denkbeeldige voorbeeld: jou heldin praat in die storie met ’n motorwag wat vir haar noodsaaklike roete-aanwysings verskaf. Sy betaal hom R5 en wonder so ewe of hy regtig misdaad help bekamp. Twee dae later lees die held by die plaaslike biblioteek van sy gedigte uit sy nuutste bundel voor en daar is ’n toehoorder nodig wat ’n vraag moet vra sodat die heldin meer insig in die held kan kry. Raai wie daag by die voorlesing op en vra die slim vraag? Die einste karwag! H-m, ’n karwag met ’n poëtiese belangstelling. Wat is sy storie, wonder jy dadelik. En siedaar, in plaas van twee vervelige funksionarisse het jy een interessante newekarakter!
