SKRYWERONTWIKKELING

'n Bymekaarkomplek vir skrywers en voornemende skrywers

Madelie Human: Lokval vir ‘n Leser


‘n Slim romanseskrywer stel ‘n lokval wat die leser van die eerste sin van die heel eerste paragraaf vasvang en nie weer laat los voor die laaste paragraaf van die boek nie.

Sulke lokvalle kan verskillende vorms aanneem:

Loksinne: ‘n Eerste sin as loksin: Dit kan ‘n treffende stelling of vraag as eerste sin wees wat die leser se verbeelding so aangryp of haar so nuuskierig maak, dat sy die boek nie kan neersit nie. Die oomblik toe sy opkyk in daardie seegroen kykers weet Emma dat sy Hanno Viviers nog net so liefhet soos sewe jaar gelede toe hy uit haar lewe verdwyn het. As eerste sin maak hierdie stelling die romanseleser onmiddellik nuuskierig. Dit vertel haar dat Emma en Hanno mekaar definitief in die verlede geken het, dat sy hom liefgehad het en dat daar heel waarskynlik iets gebeur het wat die verhouding laat skipbreuk ly het. Die leser begin dadelik wonder wat in die verlede tussen die twee gebeur het en wil sekerlik sien hoe daardie struikelblokke uit die weg geruim gaan word om die paartjie weer by mekaar te bring. Sy is gevang. Sy gaan hierdie boek nie neersit voordat haar nuuskierigheid bevredig is nie. Baie min romanseskrywers besef die belangrikheid van die eerste sin. Gaan loer maar gerus na die romanses op jou boekrak en kyk hoeveel eerste sinne is daar wat jou werklik laat wonder oor wat in die res van die boek gaan gebeur. Die skrywer wat die waarde van ‘n goeie loksin besef, se boeke staan ‘n baie beter kans om van die winkelrakke af te vlieg as die van haar eweknieë.

Die slotsin as loksin: Dit kan ook die laaste sin van ‘n toneel of die slotparagraaf van ‘n hoofstuk wees wat die leser laat wonder wat verder gaan gebeur en lok om aan te hou om die bladsye die een na die ander om te blaai. Emma kyk hom agterna. Wat soek Hanno weer hier in hulle vaal ou dorpie en dit nogal as haar pa se nuwe vennoot? Hoe gaan sy hierdie keer sy sjarme weerstaan en hoe op aarde gaan sy keer dat hy van haar geheim uitvind? Die leser sal beslis wil weet wat nou gaan gebeur. Haar nuuskierigheid is nou behoorlik geprikkel, want Emma het boonop ‘n geheim … Loksinne word nie net aan die begin en einde van hoofstuk een gebruik nie, maar deurgaans aan die begin en einde van elke hoofstuk, selfs in die geval van die verskillende tonele waaruit die hoofstukke bestaan.

Die gebruik van lokvalle:

Waar moet ‘n romanse dan begin? Daar waar die eerste konflik ontstaan, waar dinge begin gebeur, waar die poppe begin dans!

Waar moet romanses nie begin nie? Baie skrywers trap in die slaggat om eers die agtergrond te wil skets en die storie agter die storie te wil vertel. Jy voel verplig om jou leser eers in te lig. Dis net daar waar jy begin ‘vertel’ in plaas van om die aksie te ‘wys’ en jy kelder jou boek nog voordat die held en heldin mekaar eers ontmoet het.

Wat gebeur nadat jy jou leser gelok het? Uitstekende eerste en laaste sinne gaan nie die leser se aandag hou as die skrywer in al die paragrawe tussenin laat slap lê nie. Jy moet die leser se nuuskierigheid voortdurend lewendig hou – die poppe moet aanhou dans.

Die verskil tussen goeie lokvalle en foefies:

Hoe maak jy seker dat jou leser nie belangstelling verloor nie? Maak seker jou leser het ‘n emosionele belegging in die storie – sy moet werklik omgee of die held en heldin by mekaar gaan uitkom. Moet nooit die intelligensie van jou leser onderskat nie. Sy gaan baie gou agterkom wat jy probeer doen as jy dieselfde ou foefie oor en oor herhaal. As jy die leser die ontknoping van ‘n geheim ‘belowe’ aan die einde van ‘n hoofstuk en dit nie in die daaropvolgende hoofstuk doen nie, sal sy een of twee keer daarvoor val, maar nie sommer weer nie. As jy vir ‘n derde keer die telefoon laat lui of die baba laat huil op die oomblik voordat die held die heldin vir die eerste maal soen, is jy diep in die moeilikheid by jou leser!

Hoe hou jy die spanningslyn styf tot by die slotsin? Hou die leser emosioneel betrokke by die storie tot by die heel laaste sin. Sy moet aanhou wonder of sy die gelukkige einde wat sy verwag, gaan kry. Plaas soveel as moontlik versperrings tussen die paartjie en hulle vir-altyd-en-altyd. Daar moet telkens ‘n nuwe hindernis wees wat hulle uitmekaar hou sodat die leser letterlik haar naels kou tot op die laaste oomblik.

Wat dink jy??

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 29 other followers