ATKV Skryfskool
Atkv Skryfskool LENTESKOOL VIR LIEFDESVERHAALSKRYWERS
Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit in samewerking met LAPA Uitgewers bied van 2 tot 4 September 2010 die jaarlikse slypskool in die skryf van liefdesverhale aan.
Chanette Paul, Sophia Kapp, Alta Cloete en personeel van LAPA en die ATKV-Skryfskool gaan as aanbieders… optree en fokus op die liefdesverhaal.
Die koste vir hierdie slypskool is R2 250 per persoon. Deelverblyf in selfsorgeenhede en alle etes (behalwe ontbyt) is ingesluit. Beperkte hoeveelheid verblyf is beskikbaar (skakel vir meer besonderhede).
Kursusgangers moet asseblief ’n eerste hoofstuk (ongeveer 3 000 woorde) van ’n liefdesverhaal voor die sluitingsdatum op Vrydag, 13 Augustus 2010 skryf en aanstuur na: Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za. Die sluitingsdatum vir inskrywings vir hierdie slypskool is Vrydag, 13 Augustus 2010.

Bied die ATKV skryfskole rondom Kaapstad ook aan?
Ongelukkig nie waarvan ons bewus is nie. By US se Dept. Afrikaans-Nederlands is daar wel soms kursusse. Verder moet ‘n mens maar die pers dophou vir moontlikhede. Daar is in die verlede al op Wellington by die Breytenbachsentrum, asook by Lapa se Kaapse kantoor baie lekker kursusse aangebied. Indien ons van iets bewus raak, sal ons dit altyd hier plaas.
ATKV-Skryfskool 2011 Januarie 17, 2011
Die jaarlikse Herfsskool vir skrywers word vanjaar weer deur die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit aangebied en bekendes uit die skryfwêreld sal as aanbieders optree. DATUM: 21 Maart 2011 – 25 Maart 2011
PLEK: Potchefstroom
KURSUSSE: Hoe skryf ek ʼn rubriek, prosa, poësie, kinderliteratuur?Hierdie bene loop gelyktydig tydens die skryfskool.
KOSTE: R3 000,00 per persoon wat deel. Luukse verblyf in die nuwe Puk Sports Village, Potchefstroom vir 4 nagte, ontbyt ingesluit.
SLUITINGSDATUM VIR INSKRYWINGS: 4 Maart 2011
TOELATINGSVEREISTES: Eie skryfstuk, soos hieronder uiteengesit. Vir vyf dae word daar intensief aan jou eie skryfwerk geskaaf deur skrywers, uitgewers, groepleiers en werkswinkelaanbieders. Aan die einde van die Herfsskool word ʼn bywoningsertifikaat toegeken. Om tot die Herfsskool toegelaat te word, word daar ʼn skryfstuk gevra wat jy saam met jou inskrywing voor die sluitingsdatum, 4 Maart 2011, moet instuur met ʼn deposito van R500,00 (nie terugbetaalbaar nie). Hierdie skryfstuk van jou word deur die loop van die week in kleingroepverband met jou bespreek.
NAVRAE
Tel: 018 299 1783
Faks: 018 299 1784
kobie.vanaswegen@nwu.ac.za
Enige skryfskool vir die laaste deel van 2011?
Ja, daar word ‘n Lenteskool vir die skryf van romantiese fiksie vir September beplan. Sodra ons die besonderhede het, sal ons dit hier plaas.
HERFSSKOOL 2012
Die ATKV-Skryfskool van die NWU is al mondig, maar een van sy oudste projekte, die Herfsskool, bly ’n immergroen affêre.
Van 19-23 Maart 2012 maak ons weer so – flikflooi ons weer met die woorde.
Bekroonde en bekende skrywers wat ook boeiende geselsers is, soos P.G. du Plessis, Hans du Plessis, Deon Meyer en Piet Steyn, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as prosaskrywers. Die besonder gewilde Tim du Plessis en Blouwillem Theron word die kuns van prikkelende rubriekskryf afgevra. En digter Martjie Bosman en sanger Herman van den Berg kom spoel hulle monde uit oor die raaksê-toetse waardeur die poësie en die skryf van lirieke jou sit.
Die hartklop van die geleentheid was egter nog altyd die werkwinkels waartydens Herfsskoolgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Hierdie jaar word hulle daarin begelei deur die gesoute kenners Hans du Plessis, Heilna du Plooy en Bernard Odendaal.
Jeug- en kinderboekskrywer Franci Greyling praat verder oor kreatiwiteit in die skryfproses, Donnay Torr (van Taalgenoot) oor wat tydskrifte aan skrywers bied en van hulle verwag, terwyl ook uitgewers genooi is om meer te kom vertel oor die afronding van manuskripte.
Stel jy belang om die Herfsskool by te woon? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za; tel. 018 299 1783; faks 018 299 1784.