SKRYWERONTWIKKELING

'n Bymekaarkomplek vir skrywers en voornemende skrywers

Hoe skryf mens?

Hoe skryf mens? February 18, 2011

Dis ‘n vraag wat mense dikwels vra. Ons het net hierdie week weer die vraag gekry:

“Hoe gaan mens te werk wanneer mens n boek wil skryf? Ek weet daar is sekere reëls wat toegepas moet word, en kan glad nie dink dat dit maklik kan wees nie.”

Dis ook nie ‘n vraag wat ‘n vinnige, maklike antwoord het nie. Alicia Rasley, iemand wat haar lewe daaraan wy om mense te leer skryf, stel dit so:

“Novelists make miracles. There’s a reason we speak of writing a book as giving birth: we are creating something out of nothing, and we have to turn ourselves inside out to do it.”

En ja, daar is ‘reëls’. Lees gerus maar die verskille tussen die romanse en die liefdesroman wat vir ons so goed uiteengesit is in ‘n paar vorige artikels. Dit is maar twee van die meer as 100 genres en subgenres wat bestaan.

Die kort antwoord is dus:  Jy moet besluit wat jy wil skryf, uitvind wat die vereistes is wat uitgewers stel vir daardie genre, soveel as moontlik voorbeelde van daardie genre lees en dan eenvoudig die bul by die horings pak en begin!!

Beginners kan gerus die wenke wat ons hier op regs onder ‘Blogroll’ geplaas het, lees. Dit behoort jou ‘n baie goeie idee te gee van waar om te begin.

Maak gerus ook tyd en lees die ouer bydraes onder ‘Argiewe’, daar is raad van onskatbare waarde!

LEKKER SKRYF!

Waar begin ek as ek wil skryf? February 19, 2011

Sommige skrywers begin by ‘n storie-idee of tema, ander weer met ‘n titel en nog ander by die karakters, die agtergrond of ‘n insident.

Hoe dit ookal sy, jy kan nie ver vorder voordat jy nie op jou hoofkarakters en hul agtergrond besluit het nie. Ek kan nie werklik aan die gang kom voordat ek nie ‘n prentjie in my kop van die karakters en die plek waar die storie afspeel, het nie. In my skryfhoekie is ‘n boekrak wat met sy rugkant na my lessenaar toe wys. Ek gebruik die agterkant daarvan as ‘n ‘Storiebord’ waarop ek my visuele beplanning doen. Ek knip tydskrifprente uit en maak ‘n collage daarvan totdat ek tevrede is dat ek nou weet hoe my hoofkarakters en hul omgewing lyk. Sommige skrywers teken selfs ‘n kaart van die dorp of omgewing waar die storie afspeel.

Nou steek ek my notaboeke in die werk. Ek het ‘n notaboek in elke vertrek van die huis. Sodra ek aan iets dink, moet ek dit neerskryf, anders vergeet ek. Heel eerste beplan ek die agtergrondstorie van elke karakter.  (kinderjare, opleiding, gebeure wat tot die aanvang van die storie gelei het) Daarna skryf ek die eienskappe van die hoofkarakters neer en leer hulle sterkpunte, swakhede, begeertes, motiewe en beweegredes vir optredes so ‘n bietjie ken.  Volgende sal ek bv. die hooftrekke van die storie neerskryf. Sommige skrywers doen dit op ‘n tydlyn sodat hulle mooi kan beplan presies waar sekere gebeurtenisse die beste sal inpas. Ander beplan elke hoofstuk tot in die fynste besonderheid.

Nuwe skrywers moet maar die verskillende dinge probeer en toets waarmee hulle gemaklik voel. Jy sal gou agterkom wat werk vir jou en wat nie.

Karakter en emosie February 22, 2011

‘n Romanse of liefdesroman moet verkieslik karaktergedrewe en emosiegedrewe wees, eerder as gebeuregedrewe soos ‘n spanningsroman. M.a.w. elke aksie of reaksie van jou karakter moet spruit uit wie sy is en hoe sy voel op daardie oomblik, anders skep jy kartonkarakters wat jou lesers gou sal verveel.

Dis alklaar ‘n mondvol en die spasie hier is te min om werklik reg aan hierdie onderwerp te laat geskied, maar ek hoop om darem die beginnerskrywer te prikkel om meer hieroor te gaan nalees voordat sy haar eerste manuskrip blindelings aanpak. Loer gerus hier bo onder ‘Boeke oor skryf’ as jy nie enige naslaanwerk het oor die onderwerp nie. Feitlik elkeen van die boeke wat ons daar noem, het heelwat daaroor te sê.

Die skrywer moet doodseker maak dat sy haar karakters, hul emosies en hul leefwêreld verstaan voordat sy een enkele bladsy skryf. Die eerste stap vir die skrywer is dus navorsing. Dit is nodig dat daardie spesifieke karakter wat jy beplan in die konteks wat jy vir hom skep, inpas sodat jou storie geloofwaardig sal wees.

Ek vra dat skrywers hier moet vertel hoe hulle te werk gaan om hul karakters te beplan. Ons leer mos graag van mekaar!

Sonder konflik is daar nie ‘n storie nie February 24, 2011

Konflik is die brandstof wat aksie en reaksie veroorsaak en die storie laat gebeur. Daar moet verandering plaasvind tydens die verloop van die verhaal, anders gaan die leser baie gou die boek neersit.

In die romanse is dit die liefdesverhouding wat ontwikkel en groei. In die liefdesroman is dit die reis wat die heldin neem na ‘n ander plek in haar lewe en langs die pad groei en ontwikkel sy in die verhoudinge met die mense om haar.

Dit kan nie gebeur sonder konflik nie. Hetsy dit innerlike konflik is waarmee die karakter worstel of konflik met die mense om haar en die dinge wat in haar lewe gebeur, konflik is essensieel om die storie voort te dryf.

Wanneer die skrywer dus haar storie beplan, is konflik die heel belangrikste bestanddeel wat sy moet inbou.

Ons verwys weereens die beginnerskrywer na die boeke oor die skryfkuns wat ons aanbeveel en ons vra ervare skrywers om te vertel hoe hulle te werk gaan om konflik in hul stories in te bou.

Is talent alleen genoeg? Maart 5, 2011

Ek het eendag iewers gelees dat talent soos ‘n wilde perd is – pragtig en propvol potensiaal.  Om te voorkom dat die wilde perd net doelloos in die veld bly rondhardloop, het hy ‘n halter en ‘n toom nodig en hy moet  ingebreek word, voordat die ruiter hom in ‘n doelbewuste rigting kan stuur en hy van enige nut vir enigiemand kan wees.

Talent is slegs dit: potensiaal. Daardie vaardigheid waarvoor die skrywer die talent gekry het, moet ingeoefen en verfyn word om ten volle te kan ontwikkel. ‘n Skrywer het talent nodig, ja, maar dis nie al wat nodig is om ‘n suksesvolle boek te kan produseer nie. Die skrywer moet haar kunsvorm bestudeer en herhaaldelik inoefen om daardie talent te slyp en te ontwikkel. Ek het al gehoor dat skryfsukses uit 1% talent en 99% harde werk bestaan en het dit beslis self ervaar.

‘n Skrywer wat sê hy het nie nodig om ander skrywers se werk of boeke oor die skryfkuns te bestudeer nie, is nie baie slim nie. Hoekom die wiel van voor af probeer ontwerp as jy net op ou kennis kan terugval en voortbou daarop?

Daardie eerste vyf bladsye Maart 9, 2011

Ons het al gesels oor waar om te begin, maar gister kry ons weer ‘n vraag oor begin skryf en hierdie leser vra: “Maar hoe begin ek?”

Ek antwoord toe ewe vinnig dat dit so goed is as om vir ‘n vlieënier te vra: “Hoe vlieg mens ‘n Boeing?” Ongeskik, nè?

Ek gaan nietemin probeer om kortliks oor die begin van ‘n boek te praat sonder om ‘n hele vliegles te probeer gee.  Jou eerste sin, eerste paragraaf, eerste hoofstuk moet jou lesers intrek en dit moet die verhaal opstel. Met ‘opstel’ bedoel ek net genoeg agtergrond gee sodat die leser kan weet waar dit afspeel, wie die karakters is, wat aangaan en wat om moontlik verder te kan verwag.

Eerste sin: Op engels praat ons van ‘n ‘hook’, want die eerste sin moet die leser so vasvang, dat sy nie die boek kan neersit voordat hy klaar is nie. Dit moet ‘n stelling maak of ‘n vraag vra wat die leser sal laat aanhou lees. Lees gerus meer oor sulke ‘hooks’ soos bespreek in die artikel ‘Lokval vir ‘n Leser’ onder ‘Artikels’

Waar begin ek?: Die storie moet midde-in ‘n toneel begin. Die karakters moet alreeds aan die gang wees met dit waarvoor hulle daar is. Natuurbeskrywings en mymeringe oor die verlede is uit, want die aksie moet begin. Dinge moet gebeur!

Agtergrond: Baie skrywers trap in die slaggat om eers die agtergrond van die verhaal te wil skets – dit is gewoonlik vervelig en die leser sit die boek neer. Agtergrondinligting kan stukkie vir stukkie later deurgegee word soos die leser nodig het om die dinge te weet.

Raad aan nuwe skrywers: Doen jou beplanning, gaan sit op jou agterent en skryf. Die eerste poging hoef nie perfek te wees nie. Hoe sal jy ooit weet of jy kan, as jy nie regtig probeer het nie? VASBYT!!

Vir wie skryf ek? Maart 17, 2011

Geen skrywer kan ‘n woord op papier sit voordat jy nie doodseker gemaak het dat jy weet wie jou boek gaan lees nie. Jy moet weet vir wie jy skryf om te kan weet hoe om jou storie aan te bied.

Romanselesers is geensins meer net die verveelde huisvroue soos dikwels geïnsinueer word nie. Die romanseleser is ‘n intelligente vrou (of man) wat presies weet wat sy/hy tussen die bladsye van ‘n boek soek. Hulle standaarde is hoog en hulle verwag om nie net vermaak te word deur wat jy skryf nie, maar ook om uit hul alledaagse lewens weggevoer te word na ‘n plek waar geluk en liefde en ‘n gelukkige einde ‘n gegewe is.

Hulle verwag ook ‘n interessante, unieke storielyn wat goed deurdink is. Die suksesvolle romanseskrywer kan buite die boks dink, maar steeds binne die parameters van die romanse bly.

A tall order? Jip!

Moet nooit jou leser onderskat nie. Sy kan ‘n mediese dokter, ‘n advokaat of selfs ‘n professor in wiskunde wees. Mense uit alle lae van die samelewing lees romanses. Of dit nou ‘n tienermeisie of ‘n negentigjarige in ‘n ouetehuis is wat jou boek optel, sy weet wat sy in daardie boek wil sien en jy gaan haar nie ‘n rat voor die oë draai nie.

Doen dus deeglike navorsing en beplan ‘n storie wat enigeen se aandag gaan vasvang en behou tot op die laaste bladsy!!

Vrees vir mislukking April 1, 2011

Ons kry so dikwels noodroepe van aspirantskrywers wat begin met die woorde: “Ek weet nie of my werk goed genoeg is nie …” ‘n Vrees vir mislukking is seker die een vrees wat feitlik elke mens mee worstel. Vandat jy baie klein is, word jy beloon as jy goed doen en bestraf indien nie. Almal van ons soek die beloning en vrees die bestraffing. Hier op hierdie einste blog hoor ons daagliks skrywers melding maak van daardie gevreesde verslag van die redakteur of resensent. Die enigste manier om daardie vrees te oorkom, is om rondom dit , dwarsdeur dit en bo-oor dit te gaan en die kans te waag. Soms moet jy dit onderdeur spring ook. Komaan, waag daai kans, skryf daardie boek wat lankal in jou kop broei en STUUR DIT IN vir ‘n uitgewer of daardie kompetisie met die lekker prysgeld wat in die koerant was. Wie nie waag nie …

Kan ‘n mislukte manuskrip ‘n goeie ding wees? April 4, 2011

Ons het gesels oor ons vrees vir mislukkig, maar wat nou as dit werklik gebeur? Wat doen jy as jou manuskrip weggewys word, of heeltemal uitmekaar getrek word deur kritici?

Wanneer jy op die golf van sukses ry, loop jy gevaar om te vol selfvertroue te raak en dis moontlik dat jy dan nie werklik meer jou beste probeer nie. Jy oorweeg nie meer elke woord en elke aksie van jou karakters soos jy moet nie. Of jy raak oorversigtig en wil alles perfek hê en voor jy jou kom kry, is die spontaniëteit uit jou werk uit.

‘n Mislukking kan jou terugbring aarde toe en kan jou dwing om jou gekose pad te bevraagteken en te heroorweeg. Daardie heroorweging kan dalk ‘n positiewe draaipunt in jou kreatiewe werk wees.

Dink jy ook dat ‘n mislukking of twee goed kan wees vir ‘n skrywer?

Hoe gee ek my storie interessante kinkels? April 8, 2011

Nadat jy ‘n hele aantal boeke publiseer het, raak jou idees ‘n bietjie dun om die lyf. Dis dan wat jy alles moet uithaal om kreatief te bly. Ek het net gister hierdie oulike idee in een van Holly Lisle se boeke oor skryf raakgelees:

Maak vir jou ‘n lêer vol van brokkies wat jou kreatiewe sappies weer aan die gang sal kry: Tydskrifartikels, enigiets vanaf die internet wat jou oog vang, advertensies, aanhalings, prentjies … jy kry seker die idee. Dit hoef nie enigsins iets met jou storie te doen te hê nie. Dis juis daardie aweregse iets wat jou storie ‘n interessante kinkel kan gee. Oorweeg elkeen en dink of dit dalk ‘n gebeurtenis of ‘n onderwerp van bespreking in jou boek kan wees. Gebruik dit soos mens speserye by kos gooi: ‘n bietjie van dit, ‘n knypie van daardie en ‘n skeutjie van nog iets net vir die lekkerte … h’mm … my brein werk alreeds in hoogste rat!

Wanneer jou muse weer wekruip, ruk jou idee-lêer uit en siedaar!

Wat dink julle?

Die ekonomie van woorde April 15, 2011

‘n Leser het onlangs gekla: “Skrywers veerveel my met lang verduidelikings en ‘n gewonder oor niks.” Dit klink vir my of hierdie leser vir die skrywer wil sê dat sy onnodig baie woorde gebruik om iets te sê wat sy in veel minder woorde dalk beter kan uitdruk.

Aspirantskrywers wonder weer dikwels hoe op aarde hulle ooit by daardie vereiste 45 000 of 75 000 woorde van ‘n manuskrip gaan uitkom. Dis wanneer jy die vetjies begin inbou om die manuskrip langer te kry en net daar trap jy in ‘n slagyster. Jy swig voor die versoeking om onnodig baie woorde te gebruik om te sê wat jy wil sê.

Diegene wat weet vertel dat ons tydens de eerste draft nie te veel aandag hieraan moet skenk nie, want dit kan die spontaniëteit van ons werk bederf. Later, wanneer jy jou werk redigeer, moet jy egter die snoeiskêr inlê en ontslae raak van daardie onnodig baie byvoeglike naamwoorde, lang beskrywings en ellelange gedagtemonoloë wat in elk geval net gebeure onnodiglik weer herhaal.

Jy moet ekonomies met woorde omgaan en tot die punt kom. Dan beweeg jou storie vinniger voort en laat jy die leser aanhou omblaai sonder om dit een maal te oorweeg om die boek neer te sit.

Is jy geneig om onekonomies met woorde te werk?

8 Kommentaar

  1. Dankie vir hierdie! Ek’s besig om aan ‘n storie te werk. Dit is nie ‘n romanse of liefdesverhaal nie, maar wat sal ‘n storie wees sonder romanse/liefde? :) Die struikelblokke wat ek nou al teëgekom het, is hier bespreek en dit gee my baie meer moed vir die moeilike pad wat voorlê. Ek het nuwe respek vir skrywers gekry, julle laat dit baie makliker lyk om te publiseer as wat dit is!

    • Mariëtte, bly dit het gehelp. Sterkte met jou skryfproses. Weet sommer jy gaan ‘n wenner voortbring!

  2. Hallo, ek het die 17de Januarie begin skryf aan ‘n liefdesverhaal. Ek het nou eers een hoofstuk (4400 woorde) klaar en dit lyk of ek weer alles sal moet verander. My eerste paragraaf is ‘n beskrywing van ‘n vistenk – wat baie simboliese waarde het in die storie. Ek lees nou hier dat die storie eerder midde-in ‘n toneel moet begin. Ek herhaal (sover) nie regtig iets nie, maar ek gebruik baie beskrywende woorde. Ek het geen gedagtemonoloë nie – ek sê gewoonlik net hoe sy voel, nie wat haar presiese gedagtes is nie.

  3. Hettie, koop gerus vir jou die DUMMIES boek wat ons aanbeveel by “Boeke oor skryf’. Daarin is alles wat jy nodig het om te weet.

  4. didi

    Hi Madelie
    Baie dankie ,vir al die inligting,waardeer dit baie,wel om te begin,ek hoop nie jy dink ek het n lang asem nie,maar ek het begin om gedigte te skryf,in engels,met navorsing uitgevind dis nie baie winsgewind nie,maar omdat ek verslaaf is aan lees,het ek snaaks genoeg,gedink hoekom nie,ek werk tans in n hospitaal,so ek het besluit om n mediese roman te begin nogal in afrikaans,ek dink ek is al by 30 000 woorde,so ek bou nou daaraan,bv nog kinkels in die kabel ens ,maar ek dink ek is bietjie agterste voor ,ek het net at”random “getik ,so ek gaan raad he hoe die eintlike maniskrip moet lyk,ek moet se ek is verskriklik “excited en droom al van my boek,ek gaan slaap boek,staan op boek ens sal terugvoering of kretiek hoogs waardeur,weereens dankie,nou voel ek meer gerus en dat my skrywery dalk tog nie n gejaag na wind is nie,ons praat weer.DIDI

    • Didi, dit klink my jy het ook die DUMMIES boek nodig. Daarin is als wat jy wil weet. Daar is net een Afrikaanse uitgewer wat mediese romans uitgee (NB – ‘n onderafdeling van Tafelberg uitgewers), so jy sal moet uitvind wat hulle vereistes vir sulke manuskripte is. Dit kan jou baie onnodige moeite spaar.

      Lees ook van hulle mediese romans sodat jy kan sien hoe dit gedoen word voordat jy verder gaan.(die groen Hartklop boeke) Onthou, uitgewers pas nie by dit wat skrywers wil doen aan nie, skrywers moet die voorskrifte van uitgewers volg.

      Die neerpen van jou storie soos wat jy reeds gedoen het, is maar die eerste stap in die skryfproses. Nou begin die harde werk. Maar moenie moed opgee nie, byt vas en geniet dit!!

  5. Hi Mense

    Ek het pas my eerste boek geskryf wat nog nie gepubliseer is nie. Dit is nou by Marianne Strydom. Die boek is 55,000 maar ek is bang dat ek dalk te min beskryfwing om gebeure, plekke en mense gegee het. Die boek is 80% waarheid met n bietjie fiksie ingebou. Dit behelse romanse, aksie, terreur aanvall, moorde en werklike liefde tussen twee mense en die omgee en liefde vir jou naaste. Dit geskied in die apartheids era.

    • Dit klink interessant, Nick! Sal vir jou duim vashou.

Wat dink jy??

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 29 other followers